Gestremdheidsbewustheid by Caledon-biblioteek
Die Caledon-biblioteek dien nie bloot as ‘n plek waar lesers boeke kan uitleen nie – hier kan jy navorsing doen, gemaklik sit en onlangse tydskrifte deurblaai, of aan die rekenaar werk.

Voor is Zelda Henn en Eugene Gardiner. Agter is Sybil Lee, dr. Trevor Pillay, Gerhard van Wyk, die TWK-burgemeester Mary Liebenberg, Edwin Marthinus (waarnemende dorpsbestuurder) en Renske Kiewitz. Foto: Mitzi Buys
Die biblioteek reël gereeld inligtingsessies oor verskeie belangrike onderwerpe vir die publiek.
Met November as gestremdheids bewusmakings maand het die biblioteek Woensdag (15 November) ‘n boeiende program aangebied.
Verskeie sprekers het gesels oor hierdie tema, sowel as oor die fisieke en geestelike gesondheid van mans.
Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Daar bestaan dikwels ‘n stigma rondom mense met gestremdhede, en baie mense is onkundig daaroor. Daarom het ons mense met gestremdhede in ons gemeenskap genooi om hul boodskap aan die publiek oor te dra. Dit is belangrik om te besef dat hulle normale mense is, maar met ander behoeftes.”
“Veral mans is dikwels huiverig om oor hul gesondheidstoestand te praat of om gereelde ondersoeke en opvolgbesoeke te ondergaan. Daarom het ons dr. Trevor Pillay genader om oor hierdie belangrike kwessies te praat,” voeg Van Wyk by.
Oefening en fiksheid is net so belangrik vir ‘n goeie gesondheid. Die fiksheidsinstrukteur Michael Solomons beklemtoon dat geestesgesondheid en fisieke gesondheid hand aan hand gaan, en oefening en goeie eetgewoontes is van uiterste belang.
Die raadslid Denzil Jacobs, TWK se ambassadeur vir mense met gestremdhede, het ‘n inspirerende boodskap van hoop aan die gehoor gebring. Eugene Gardiner, wat in ‘n motorongeluk verlam geraak het, het ook sy verhaal gedeel en die struikelblokke wat gestremde individue ervaar, beskryf.
“My sleutel tot sukses is om elke dag positief te bly, ongeag die situasie waarin ek myself bevind,” sê Gardiner.





