Innibos het al die bestanddele vir ’n wenresep vanjaar
Innibos 2024 – n Wenresep!
Innibos Kunstefees skop die nuwe feesjaar af met ’n mengsel van kuns, drama, musiek en gesinsvermaak waarin feesgangers behoorlik sal kan smul. Die fees is van 27 tot 30 Junie vanjaar.
Daarby het die Innibos-bestuurspan weer ’n permanente holte vir die voet gevind, en nêrens anders nie as die ou kantoorruimte in Fauriestraat, Sonpark, waar dit al die jare was. “Ons wou graag weer ’n ‘adres’ hê wat toeganklik is vir feesgangers nadat ons die kantoorruimte in die Covid-tyd moes opgee, en danksy ’n sameloop van omstandighede is ons terug waar ons hoort,” sê Andy Lubbe, direkteur van Innibos.
Vanjaar se feestema is Wenresep en van die beste plaaslike musiek, toneelstukke, boekgesprekke en kuns kan te wagte wees tydens vanjaar se kunstefees.
Van die akteurs wat op die verhoog te siene sal wees sluit in Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Jan-Hendrik Opperman en Schalk Bezuidenhout. Musiekteater bring van die topkunstenaars na die Laeveld met Nataniël se optrede in die Sudwala-grotte, en die uitstaande produksie Mixtape van die liefde met onder andere Jana Cilliers, Anna Davel, Leon Gropp en Laurinda Hofmeyr.
Op die feesterrein se hoofverhoog is musieksterre soos Droomsindroom, Dr. Victor & the Rasta Rebels, Spoegwolf, Elvis Blue, Francois van Coke, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld en die Mzansi Youth Choir van talle meer wat gaan optree.
By die ATKV-Boeke-oase by Laerskool Nelspruit behoort die woord aan onder andere Etienne van Heerden, Amoré Bekker, Mathews Phosa en Leon van Nierop. Die immergewilde Boekecrawl op Kaapsehoop sal ook weer plaasvind.
“Enige resep word ’n ware wenresep wanneer daar ’n geheime bestanddeel bygevoeg word, en vir Innibos is dit onteenseglik die feesgangers wat daardie towerkrag verskaf,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “Innibos bied ook vermaak vir die hele gesin, heeldag lank, met iets vir elke smaak.”
Hektoegang vir 2024 is: Donderdag R210, Vrydag R260, Saterdag R300, Senior burgers R160. Weekkaartjies kos R660. Kleuters en laerskoolkinders se toegang is gratis.
Pleks van ’n goue sirkel, is daar vanjaar eksklusiewe kuiertafels (vir ses mense) wat voor die hoofverhoog bespreek kan word. Dié koste is addisioneel tot die hektoegang: Donderdag R660, Vrydag R960 en Saterdag R1 260.
Alle kaartjies is te koop by TicketPro ( www.ticketpros.co.za ). Kaartjieverkope vir die feesterrein en produksies open op Maandag, 8 April.
Vir meer inligting, gaan na www.innibos.co.za
Innibos is ook weer terug in hul ou kantoor by Sonpark, Mbombela. ShowMe Nelspruit was daar om hul terug te verwelkom. Sien fotos hier: