100 Jaar van Pinotage en Afrikaans – Innibos 2025
NELSPRUIT – Die Pinotage Assosiasie, in samewerking met Toyota Innibos en Komati Group Holdings (Pty) Ltd., nooi feesgangers hartlik uit na ‘n uitsonderlike kultuur- en wyngeleentheid: Meesters: 100 Jaar van Pinotage en Afrikaans. Dít word aangebied deur die bekende name van Christo Snyman, Johan Rademan en wynmaker Beyers Truter en beloof om ‘n feestelike huldeblyk te wees aan twee unieke Suid-Afrikaanse erfenisse: Pinotage en Afrikaans.
Volgens Philna Scholz, programbestuurder, vind die vertoning op 15 Julie om 14:00 plaas in die Koshuis-eetsaal van Hoërskool Nelspruit, waar stories, musiek, geskiedenis én ‘n keur van uitsonderlike Pinotage-wyne die verhoog sal deel.
Die wyne wat tydens die vertoning geproe gaan word, sluit drie wyne van Stellenbosch in, Beyerskloof Chenin Blanc Pinotage (witwyn), Beyerskloof Pinotage (rooiwyn) en Beyerskloof Kriekbult Pinotage (rooiwyn). Vanuit die Botrivier omgewing kan fynproewers die Wildekrans Pinotage (rooiwyn) geniet en vanuit Robertson/Bonnievale area die Christina 9 Barrels Pinotage Trousseau (rooiwyn). ’n Ander hoogtepunt sal die Survivor Pinotage (rooiwyn) vanuit die Swartland wees.
Hierdie eksklusiewe proesessie bring die beste van Suid-Afrika se wynstreke byeen. Dit is ‘n unieke geleentheid vir wynliefhebbers om die diversiteit van Pinotage, van lig en vars tot vol en kompleks, eerstehands te ervaar.
Johan Rademan, bekend vir sy stem en stories op RSG, sal die aand help lei saam met wynlegende Beyers Truter, wat as pionier van moderne Pinotage bekendstaan. Christo Snyman bring sy kitaar en Afrikaanse liedjies om hulde te bring aan Afrikaans se ryk literêre en musikale geskiedenis, met bekende name soos Koos du Plessis en David Kramer in die kollig.
Hierdie is meer as net ’n wynproe. Dit is ‘n viering van erfenis, taal, kultuur en storievertelling, met elke glas wyn wat ‘n nuwe verhaal oopmaak.
Kaartjies is beskikbaar op innibos.co.za of ticketpro. Beperkte sitplekke is beskikbaar. Moenie hierdie unieke viering misloop nie!
Media navrae: naranda@innibos.co.za