Kom lag lekker saam by Toyota Innibos 2025
’n Fees vir jou lagspiere!
By Toyota Innibos 2025 gaan dit oor een ding: LEKKER saam feesvier – en LEKKER saam lag! Die 21ste verjaarsdag van hierdie geliefde kultuurfees val saam met Afrikaans se eeufeesvieringe, en dis juis hoekom die program vanjaar propvol kwaliteit komedie is. Dis ’n tyd om te ontspan, die bolla los te maak en jou lagspiere behoorlik aan die werk te sit. En waar beter om dit te doen as in een van die vele teaters waar die land se beste akteurs en regisseurs jou kom vermaak?
“Geagte Kampeerders” een van die feesdebute, is geskryf en aangebied deur Wynand van Vollenstee, met Thiart Li aan sy sy. ‘n Opsigter, eienaar en bestuurder van Willewaters Kampeerterrein verwelkom elke Desember die Transvalers met ope arms, tot ’n rampspoedige wending alles op hol jaag.
Nóg ‘n debuut, “Kry vir jou ’n tux, Thomas”, bring groot name soos Dean-John Smith en Marion Holm na die verhoog. Tessa Slabbert weier om haar eksman se sogenaamde “toekenning” te aanvaar as ’n afskeidsgroet. Thomas moet haar oorreed om die funksie by te woon, wat lei tot ’n onwaarskynlike ooreenkoms vol emosie, lag en konfrontasie.
Vir diegene wat hou van gevestigde gunstelinge is daar ook klassieke komedies wat terugkeer na die planke, elk met ’n vars aanslag en geliefde akteurs. “Ouma is op pad”, word vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck. Dowwe Dolla se Ouma het eintlik saam met Dolla afgetree einde 2021. Maar nou wil almal weet wie was daai tannie wat so aanstoot kon gee? En toe besluit Ouma sy het nóg ’n paar dinge om kwyt te raak.. Hierdie stuk is ’n reis vol hart, wysheid en die soort wyshede wat net ’n ouma kan kwytraak.
Dan is daar ook die immer gewilde “Moord met ’n T”, met drie legendes: Tobie Cronjé, Ignatius van Heerden en André Lotter, wat die verhoog aan die brand speel.
“Marion Monroe” is ’n eerlike en heerlike komedie waarin Marion Holm met humor en styl vra: wat maak jou, jy? En, “Vlerksleep” is ’n skreeusnaakse komedie oor die chaos en komedie van blinde afsprake, met ’n sterbelaaide rolverdeling en ’n vars kyk op liefdesvermaak, geskryf deur Peter Quilter, en in Afrikaans vertaal deur Frans Swart met Bertha le Roux-Wahl, David James, Elma Potgieter, Richard van der Westhuizen.
Met hierdie ongelooflike keuse van produksies is dit duidelik: Toyota Innibos 2025 is ’n fees waar jy jouself kan verloor in stories, lag tot jou kake seer is, en weer met nuwe energie huis toe gaan. Kom sit terug, kom ontspan, en kom beleef wat Afrikaanse komedie alles kan wees. Jou sitplek wag – en jou lagspiere ook!
Kaartjies beskikbaar by Ticketpro. Volledige program beskikbaar op www.innibos.co.za op Facebook, Instagram en TikTok.