Innibos | Toneel, Musiek en Leefstylprogram 2025
Kaartjieverkope open 28 April!
Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees keer terug na Mbombela van 3 – 6 Julie 2025 en hierdie jaar beloof dit om groter, ryker en LEKKerder as ooit te wees! Vir vier dae word die Laeveld ʼn bruisende sentrum van musiek, drama, komedie en kultuur – ʼn fees waar harte lag, trane rol en stories gedeel word. “Die Produksieprogram is nou beskikbaar op Innibos se webwerf, so maak gereed, dat as kaartjieverkope open op 28 April, jy so reg soos reën is om kaartjies te bespreek,” sê Philna Scholtz, die fees se programbestuurder.
Toneelstukke wat harte gaan raak
Van kragtige dramas tot lagwekkende komedies, Innibos 2025 bied ʼn verhoogprogram propvol talent en treffende produksies. “Speelgoed van Glas”, ʼn nuwe vertaling van Tennessee Williams se The Glass Menagerie, beloof om gehore te roer met sy fyn verweefde temas van verlange, liefde en verlies. Met ʼn sterbelaaide rolverdeling, insluitend Anna-Mart van der Merwe en Carla Smith, en bekroon by Woordtrofees vir Beste Toneelstuk, is hierdie produksie ʼn móét-sien.
“Op die ligter noot bring “Kry vir jou ’n tux, Thomas”, ʼn spiksplinternuwe komedie, ʼn komiese én hartroerende verhaal na die verhoog, met Marion Holm en Dean-John Smith wat vir hope gelag, nostalgie én trane gaan sorg,” sê sy.
“Vir diegene wat hou van ʼn verhaal met historiese en persoonlike diepte, bied “Seun”, gebaseer op Dana Snyman se ervarings, ʼn introspektiewe reis deur die 1980’s en die vrae wat daardie era ontlok het.
Komedie wat die lagspiere gaan toets
Kampavonture loop heel dik in die humoristiese “Geagte Kampeerders”, waarin Wynand van Vollenstee ʼn tipiese Desember-kamp op ’n komiese wyse tot lewe bring. “Moord met ’n T”, met die immergewilde Tobie Cronje, bied ʼn moordraaisel met hope humor – en ʼn tikkie spanning!
Philna brei ook uit op ander tonele. “Vir dié wat ʼn eg Suid-Afrikaanse karakter wil beleef: “Ouma is op pad”, met Margit Meyer-Rödenbeck, beloof ʼn humoristiese blik op hoe ʼn boervrou haar plek in ʼn moderne wêreld moet vind.”
Musiek wat die siel voed
Sy sê musiek bly ʼn onmisbare deel van die ervaring. “Hierdie jaar bring die fees ʼn pragtige sameloop van klassieke en kontemporêre musiek. “Opera-Tango”, met die betowerende Zanne Stapelberg en Albie van Schalkwyk, neem gehore op ʼn reis van vurige Spaanse Zarzuela’s tot klassieke operaklanke.”
“Vir ʼn nostalgiese viering van Afrikaanse musiek, eer “Gé Sing – Hoor my lied” die ikoniese Gé Korsten, met kunstenaars soos André Schwartz en Louis Loock wat sy tydlose treffers in ʼn nuwe lig bring. En natuurlik, vir die manne wat hou van ʼn bietjie rock en roll: “Die beste band in die wêreld ooit, ek sweer!”, waar Ricus de Beer en Ryno Velvet sorg vir ʼn jol soos geen ander nie!”
Kaartjieverkope open op 28 April!
Maak seker jou kalender is gemerk, want kaartjies is te koop vanaf 28 April 2025! Met produksies wat reeds uitverkoop was by vorige feeste, moet jy vinnig spring om jou plek te verseker.
Innibos 2025 is ʼn viering van storievertelling in al sy vorme – musiek, drama, komedie en kultuur – en ʼn geleentheid om jou siel te voed en jou lagspiere te oefen. Berei jou voor vir ʼn kunsfees wat jou hart gaan raak, jou verbeelding gaan prikkel en jou deel gaan maak van iets besonders.
Kaartjies vir die Innibos feesterrein, waar die ikoniese feesterreinkonserte elke aand plaasvind, is reeds op ticketpro beskikbaar.
Vir meer inligting en besprekings, besoek www.innibos.co.za of ticketpro