Soveel om te sien en doen in Suid-Kaap
Die Suid-Kaap is sinoniem met son, see en buitelugpret. Luidens inligting verskaf deur die toerismekantoor in Knysna is daar só baie dinge om van te kies, dat jy nie vir ’n oomblik verveeld kan raak nie.
Die Knysna-meer is een van die mees skilderagtige plekke aan die Tuinroete. Of jy nou rustig as ’n paartjie in die sonsondergang op ’n romantiese bootrit wil wegvaar of meer avontuurlustig is en aan watersport op die meer wil deelneem; daar is iets vir almal.
Op en in die water
Die John Benn-veerboot vertrek elke dag vanaf die Knysna-waterfront. Die bootrit duur 90 minute en die hele gesin kan dit saam doen. Die boot vaar tot net voor die Knysna-koppe en draai dan terug na die waterfront. Daar is ook ’n rit oor middagete en een tydens sonsondergang.
As dit vir jou té stil en rustig klink, en watersport meer jou idee van pret is, is jou opsies glad nie beperk nie.
Jy kan kies uit ’n besoek aan die Adventure Land- of Garden of Eden-waterpretpark of wat van Black Water Tubing, waar jy in ’n rubberbootjie al langs die Stormsrivier af dobber?
Saam met Eden Adventures Wilderness kan jy ’n volle of halwe dag in kano’s roei of abseil.
Vir dié wat selfs nog méér opwinding soek, is ’n nabye interaksie met haaie dalk net die ding en kan jy by White Shark Africa in Mosselbaai naby aan dié vreesaanjaende spesie kom.
Op land
As jy lief is vir alles oor omgewingsbewaring of indien jy graag die kinders wil neem, stel Featherbed-natuurreservaat se Eco Experience op die proef.
Jy vertrek vanaf die waterfront op ’n boot na die westelike kop. Dan volg ’n staptog en 4×4-rit om die omgewing te gaan verken.
Jy lê by al die besigtigingspunte besoek af, terwyl kundige gidse jou inlig oor die geskiedenis asook al die plant- en dierspesies.
Jy kan selfs kies om ’n staptog van 2 km deur die mooie Knysna-bosse en fynbosgebiede te onderneem tot in die oeroue seegrotte.
Dié ervaring sluit af in ’n gepaste buitelugrestaurant waar jy onder rooimelkhoutbome sit en eet. Hierdie staptog is geskik vir alle ouderdomsgroepe en fiksheidsvlakke.
As jy nog nie uitgekuier is met dié natuurskoon nie, gaan hou piekniek by die Goukammarivier. Staptogte deur die gewilde en bekende Knysna-woud is ook van die aktiwiteite waaraan jy kan deelneem. Die staptogte word aangebied deur Forest Guided Tours Knysna en is twee tot drie ure lank.
Knysna Hike & Bike bied verkenningsroetes oor tot 9 km.
Vir dié wat meer wil leer oor die plaaslike inwoners se kultuur en ’n eg Suid-Afrikaanse ervaring wil beleef, is daar township-toere wat deur verskeie plaaslike toeroperateurs aangebied word.
Vir die Rasta-gees in jou is daar die besonderse ervaring van ’n Rastafariër-toer, waar jy begelei deur Brother Maxi’n uur in die Juda Square-gemeenskap kan beleef.
Vir adrenalienverslaafdes
As jy graag die bloed deur jou are wil laat bruis, kies ’n meer avontuurlike aktiwiteit.
Een van hulle is valskermspronge wat jy by Sky Dive Plett kan doen. Spring uit ’n vliegtuig teen 200 km/u en vryval vir 35 sekondes voordat die valskerm oopmaak.
Indien jy veiliger voel met ’n tou om jou te ondersteun, is Bungy Jump se rekspronge ’n veiliger opsie om te oorweeg. Vir dié wat glad nie wil spring nie, is daar ’n staptoer oor die Tsitsikamma-brug.
Vir diereliefhebbers
By Wilgewandel bied hulle kameelperdritte aan en by die Southern Comfort Horse Ranch kan jy perdry.
By Cango Wildlife Ranch in Oudtshoorn kan jy van naderby met groot katte, krokodille, slange en nog vele ander diere kennis maak.
Kry verdere inligting oor ander aktiwiteite op die webwerf www.visitknysna.co.za of skakel hul kantoor by 044 382 5510.
Bron: Suid-Kaapse toerismekantoor
Vir boot-, seiljag- of ander ritte op die meer:
Skakel die Waterfront-kantoor: 044 382 1693
Vir kanoritte: RiverDeck River
Rentals – 073 488 6341
Aktiwiteite met diere
Monkeyland – 044 534 8906
Perdry: Buffalo Bay Horse Rides – 073 251 3122
Southern Comfort Horse Ranch
Harkerville – 044 532 7885
Voëls: Birds of Eden – 044 534 8906 of stuur e-pos na
info@birdsofeden.co.za
Jukani-wildreservaat – 044 534 8906 of stuur e-pos na info@jukani.co.za
Tenikwa-wildreservaat en bewus-makingsentrum – 044 534 8170 of stuur e-pos na info@tenikwa.co.za
Elephant Sanctuary, The Crags – 044 534 8145 of stuur e-pos na crags@elephantsanctuary.co.za
Knysna-olifantpark – skakel 044 532 7732 of stuur e-pos na info@knysnaelephantpark.co.za
Botlierskop-wildreservaat – 044 696 6055
Buitelugaktiwiteite
Tsitsikamma Canopy Tours (foefiegly deur oeroue Outeniekwabome in die woud) – 042 281 1836
Reksprong – 042 281 1255
Knysna Sandboarding- 072 474 0210
Nog kontakte en doendinge
Sedgefield-toerismekantoor – 044 343 2658
Knysna-munisipaliteit – 044 302 6300
Suid-Kaapse Provinsiale Toerisme-veiligheids- en ondersteunings-
dienste – 082 972 2507
Bron: Netwerk24