Stormweer en sneeu is op pad
’n Waarskuwing oor swaar reën wat Woensdagmiddag van die weste af eers Kaapstad en dan die suidelike dele van die Wynlande en die Overberg sal tref, is deur die Suid-Afrikaanse weerdiens uitgereik.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) waarsku teen stormwind, gevaarlike seetoestande en groot branders tot ná die naweek.
Die sterk kouefront wat van die weste af oor die land beweeg, gaan gepaard met sneeu wat van Vrydag af eers oor die berge in die Wes-Kaap verwag word en wat dan Saterdag oor hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap en dele van die Noord-Kaap sal val.
Teen Sondag word sneeu in Lesotho en KwaZulu-Natal verwag, met plekke soos Mooirivier, Rosetta en Matatiele wat volgens die webblad Snowreport.co.za dan tussen 5 cm en 15 cm sneeu kan kry.
Sneeu sal steeds teen Maandag wydverspreid oor die land val en Barkly-Oos, Maclear, Rhodes en Matatiele, sowel as groot dele van die Oos-Kaap, kan volgens Snowreport sneeu verwag.
Ander gebiede waar sneeu ook verwag word, sluit in Clarens, Harrismith, Bethlehem en omstreke.
Die sneeu behoort selfs tot Woensdag voort te duur oor hoë bergpieke in die Oos-Kaap en die middellande van Natal.
Volgens die NSRI se waarskuwing oor seetoestande skep die springgety met volmaan Woensdag en die storm wat op pad is, gevaarlike seetoestande vir die volgende paar dae.
Vissermanne, voetslaners op voetslaanpaaie langs die kus, mense wat wil strand toe gaan of beplan om met bote op die see uit te gaan, word gewaarsku teen sterk seestrome, branders en die gevaarlike seetoestande.
Kry meer inligting by www.nsri.org.za.
Bron: Netwerk24