Sosiale Netbal Kompetisie of Net vir Pret
Reëlings vir ‘n nuwe sosiale netbalkompetisie, genaamd Net-Social, is op koers en die eerste wedstryde sal op 2 Augustus plaasvind.
Indien jy lus is vir pret en om heerlik netbal te speel, selfs al is jy ‘n beginner, staan gerus nader.
Die organiseerder, Alexander Venter, nooi enigiemand van die ouderdom van 13 jaar en ouer om deel te neem.
Hoewel daar in die verlede iets soortgelyks in George was, het dit ongelukkig ophou bestaan. Venter, ‘n plaaslike skoolonderwyser, het egter die behoefte raakgesien toe ouers by die skool waar hy werk aangedui het dat hulle graag sosiale netbal wil speel. Hy het toe besluit om die bal aan die rol te sit en Net-Social te skep.
‘n Span bestaan uit sewe lede en daar is twee afdelings: ‘n dames-afdeling en ‘n gemengde-afdeling. Die wedstryde sal 35 minute duur en dit is ideaal vir beginners en diegene wat net graag sosiaal wil speel.
Venter is van mening dat sosiale netbal ‘n uitstekende manier is om vriendskappe te smee en nuwe mense te ontmoet. Hy hoop dat die kompetisie in mense se behoefte aan mededingendheid sal voorsien en mense van verskeie agtergronde sal saambring.
Die wedstryde sal op Woensdagaande tussen 18:00 en 21:00 by Laerskool George-Suid se bane plaasvind.
Die aanvangsliga sal tot 27 September duur, maar afhangende van die belangstelling kan daar kwartaallikse seisoene plaasvind. Elke seisoen sal verskeie uitspeelrondes hê.
Volgens Venter is die belangstelling tot dusver goed, met reeds ‘n totaal van 10 spanne wat ingeskryf het. Mense kan nog steeds inskryf, maar dit word aangemoedig om dit so gou moontlik te doen sodat die organiseerders die administratiewe reëlings kan tref.
Vir meer inligting skakel: 063 259 3397of stuur n e-pos na: netsocialgeorge@gmail.com.