Reuse-pêrel lê 10 j. onder bed
Manila. – ’n Pêrel van 34 kg wat tot $100 miljoen (sowat R1,4 miljard) werd kan wees, het meer as tien jaar lank onder ’n visser se bed gelê waar hy dit as gelukbringer gehou het.
Die Filippynse owerheid meen dit is dalk die grootste natuurlike mosselpêrel ter wêreld, maar wag nog op amptelike bevestiging.
Die pêrel is 30,5 cm breed en 67 cm lank.
Dit is in die see aan die kus van die Palawan-eiland in die Filippyne gevind.
Die visser is nog nie geïdentifiseer nie.
Hy moes ná ’n brand vroeër vanjaar uit sy houthuisie trek en van die pêrel ontslae raak.
Hy het dit aan ’n verstomde toerisme-amptenaar in Puerto Princesca gegee wat bevestig het dat dit in ’n
reuse-gapermossel gevind is.
“Die visser het sy anker in die water gegooi en dit het in ’n storm aan ’n rots vasgehaak. Hy het afgeduik om die anker op te trek en die mossel saamgevat. Hy het nie geweet dat dit waardevol is nie,” het Aileen Cynthia Amurao, die man se tante, gesê.
“Ons was verstom toe hy dit na ons toe bring. Ons het edelsteenkundiges se hulp nodig om dit te sertifiseer.”
Amurao sê die pêrel sal in die Filippyne gehou word en dat dit hopelik toeriste sal lok.
Dit word sedert Maandag in die Puerto Princesca-stadsaal uitgestal.
Die rekordhouer is die Pêrel van Allah, wat in 1934 ook aan die kus van Palawan in die Filippyne gevind is. Dit weeg 6,4 kg en is $35 miljoen (sowat R490 miljoen) werd. – BBC, Daily Mail, Time
Bron: Netwerk24