Raymond kwalifiseer as loodgieter op 75
George Nuus – Raymond Brink het op 75 nog kans gesien om sy vakmanstoets as loodgieter af te lê. Hy het verlede week suksesvol gekwalifiseer by Belcomec Training in George.
Dit maak hom tot op hede die oudste persoon by die opleidingsmaatskappy wat die vaktoets afgelê het.
Raymond, ‘n oud-Kapenaar, moes in st. 8 die skool verlaat weens sy gesin se finansiële situasie en het op die spoorweë as stoker begin werk. Hy het later as brandweerman gewerk en toe by die lugmag aangesluit. Hy het as lugman begin en afgetree as adjudant-offisier klas 1 en brandweerhoof van die Lugmagbasis Overberg Bredasdorp.
Sy matriek het hy deur na-uurse studie verwerf en later sy T1 en T2 by Kaapse Tegniese Kollege voltooi.
Ná sy aftrede in 1996 het hy besef dat hy nie kan stilsit nie en hy begin sy eie loodgietersbesigheid.
Om aan te pas by nuwe verwikkelinge in die loodgietersbedryf het hy besluit dit is die moeite werd om homself as loodgieter te kwalifiseer vir die volgende 10 of 15 jaar wat hy nog gaan werk.
Die eienaar en bestuurder van Belcomac Training, Frik von Mollendorf, sê dit was ‘n voorreg om die entoesiastiese ‘jong’ man as deel van hul studente te hê.
ARTIKEL: JUANITA VAN WYK
Bron: George Herald