Kom vind uit wie jy is
“Ons bied ‘n oop deur aan die gemeenskap om bewus te word van wie hulle is en waar hulle vandaan kom,” aldus die begeesterde president van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA), Petro Coreejes-Brink tydens haar besoek verlede week aan George.
Coreejes-Brink is gul ontvang deur die nuutgestigde Suid-Kaapse tak van die Genootskap wat dien as ‘n bymekaarkomplek vir Suid-Kapenaars om hulle familiewortels te ontdek.
Coreejes-Brink sê die gemeenskap maak verskeie deure vir jou oop in jou soeke na voorsaatkennis. “Ons beskik oor ‘n polsende gemeenskap van kennis en die oomblik wat jy deel word van die Genootskap het jy toegang tot ‘n magdom inligting. Die Genootskap is ook betrokke by verskeie projekte en teken begraafplase op en bring dit aan op Google Earth en stoor inligting van kardinale belang op DVD’s.”
Sy sê genealogie gaan oor ‘n bewusmaking van jouself. “Ons erfenis leen ons net van ons kinders. Dit is so belangrik om die kennis van jou voorgeslagte vir die nasate te bewaar. Die papier uit die Victoriaanse era is op die oomblik besig om te vergaan en te verkrummel. Die foto’s en geskrifte moet nou elektronies vasgelê word, anders is dit vir ewig verlore. Almal het ‘n verantwoordelikheid om kommunikasie tussen vorige en toekomstige geslagte te verseker. Vind ‘n huis vir jou kennis en gedagtes.”
Die voorsitter van die Suid-Kaapse tak van die GGSA, Wilkie Barkhuysen sê deur lidmaatskap en navorsing van jou voorsate en familielede verewig jy jouself en daardie persone. “Al die navorsers in die genootskap stel belang om mekaar te help. Ons rig ook ‘n lesings- en bergingskamer by die George-museum in.”
Die plaaslike ondervoorsitter, Abrie de Swardt vertel van ‘n bekende familie in George wat hy nagevors het. “Die Varkevisser-familie het ‘n ryk sportgeskiedenis en was betrokke by verskeie sportsoorte. Hulle het selfs op die voorblad van die George Knysna Herald adverteer.”
Op die oomblik het die GGSA 13 takke met sowat 1000 lede landswyd en in die buiteland.
Om meer oor GGSA uit te vind besoek www.genza.org.za en om by die Suid-Kaap GGSA aan te sluit, kontak Wilkie Barkhuysen by 044 874 5430 of 082 826 1724 of wil-kiejb@mweb.co.za.
Source: George Herald