KFC ontken sy resep is uitgelap
Het kol. Sanders se nefie onopsetlik die geheim van Kentucky Fried Chicken (KFC) se 11 kruie en speserye aan die wêreld bekend gemaak?
KFC sê die resep wat in die Chicago Tribune gepubliseer is, is nié outentiek nie.
Maar dit het nie ’n stokkie gesteek voor bespiegelings aanlyn nie dat een van die grootste geheime in die geskiedenis van kitskos onthul is.
’n Joernalis het ’n rubriek vir die Tribune se reisafdeling geskryf oor Corbin, Kentucky, waar kol. Harland David Sanders sy eerste gebraaide hoender bedien het. Hy het met Joe Ledington, ’n neef van die kolonel, gepraat.
Ledington het op ’n stadium ’n boek met knipsels uitgehaal met die laaste testament van Sanders se tweede vrou, Claudia Ledington.
Op die agterkant van die dokument is ’n handgeskrewe lys van 11 kruie en speserye wat met twee koppies witmeelblom gemeng moet word. Hoewel Ledington aanvanklik gesê het dit is die oorspronklike resep, het hy later gesê hy kan dit nie met alle eerlikheid sê nie.
KFC sê sy resep is “een van die wêreld se grootste geheime” en dat die resep wat die joernalis gesien het nie eg is nie. – Reuters
Bron: Netwerk24