Impak Van Beurtkrag Op Onderrig en Leer

Eden Tegniese Hoërskool se hoof, Kobus Koekemoer, by die kragvoorsieningstelsel wat hulle administrasie afdeling aan die gang hou tydens beurtkrag.
Skole met wie George Herald gepraat het, was gefrustreerd. Die onderbrekings verg daaglikse aanpassing van beplanning vir administrasietake en klasperiodes rondom beurtkragskedules.
Beurtkrag stel geweldige uitdagings aan alle skole in George en dit sluit in onafhanklike en privaat skole, sentrums,
vir vroeëkindontwikkeling, en naskoolsentrums, volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
Millicent Merton, kommunikasiebeampte van die departement, sê die impak het ‘n invloed op onderrig en leer, veral by spesialisskole waar toerusting gedurende klastyd gebruik word.
Die WKOD probeer skole op ‘n ad hoc-basis ondersteun om hulle energieverbruik te verminder, maar baie skole het al die inisiatief geneem deur LED-ligte te installeer, batterystoorstelsels te koop of sonpanele te installeer en/of met privaat maatskappye ooreenkomste aangegaan vir sonkragverhuring.
Skole met wie George Herald gepraat het, was gefrustreerd. Die onderbrekings verg daaglikse aanpassing van beplanning vir administrasietake en klasperiodes rondom beurtkragskedules.
Parkdene Sekondêr
Derick Petersen, hoof van Parkdene Sekondêr, sê dis ‘n “nagmerrie”. “Twee kernvakke, rekenaartoepassingstegnologie en verbruikerstudies, word erg geraak.
“Die laboratorium staan tydens beurtkrag stil, gevolglik raak ons agter. Ons sal moet middagklasse en vakansieklasse aanbied.” Die skool win tans kwotasies in vir ‘n kragopwekker wat die hele skool kan dra, maar die koste daarvan sal honderde duisende rande beloop.
Outeniqua – koste van alternatiewe krag hoog
Hoërskool Outeniqua se hoof, Christo Vorster, sê as die krag op vlak 3 en hoër is, is die ontwrigting van die akademiese program by die skool geweldig. Alle klasse het ‘n dataprojektor en rekenaar. Die wiskundeklasse het interaktiewe borde.
In die musiekklasse is daar geen natuurlike lig nie en maak hulle gebruik van lugversorging en elektrisiteit vir die verskaffing van lig.
“Die drie rekenaarlokale, verbruikerstudie- en gasvryheidstudiesklas moet die heeldag elektrisiteit hê om hulle praktiese werk te kan doen. Daar is klasse wat uit die aard van hulle ligging en die groot bome wat voor die vensters staan, baie donker is.
Die administrasieblok se funksionering vereis dat daar elke dag krag moet wees. Dus sukkel die mense om hulle werk te af te handel en neem hulle werk huis toe.”
Koshuise
Vorster sê die skool se twee koshuise word ook erg beïnvloed. “Daar moet vir 240 koshuisgangers kos gemaak word en hulle moet kan stort en studeer.”
Om die ontwrigting te verminder het die skool kragopwekkers by die adminblok, koshuise en Kwagga Cuisine, wat baie geld kos vir brandstof en onderhoud. Daar is ook sonpanele, batterye en ‘n omskakelaar by die navorsingsentrum aangebring sodat klasse tydens kragonderbrekings kan aangaan.
Vorster sê perioderuilings vind amper daagliks plaas. “Dit word gedoen sodat die inligtingstegnologie- (IT) en rekenaartoepassingstegnologie-leerders (RTT) in gr. 10 tot 12 se periodes só val dat hulle klas het as die krag aan is. Ons beplan om meer klasse onder sonenergie te plaas. Dit kos baie geld en die beheerliggaam ondersoek metodes om dit te finansier.”
Eden Tegniese Hoërskool
By Eden Tegniese Hoërskool funksioneer die administratiewe afdeling ten volle gedurende beurtkrag, maar dit het teen ‘n premie gekom, sê die hoof, Kobus Koekemoer. Die skool het ‘n omskakelaar en battery laat installeer wat vir tot vier ure krag verskaf. Die skool het ook twee kragopwekkers vir die skoolsaal en nog ‘n groot lokaal waar die matrieks verlede jaar eksamen geskryf het.
“Die knelpunt is rekenaartoepassings-tegnologie en verbruikerstudies asook ons vier werkswinkels wat toerusting het wat baie krag gebruik. Ons probeer die impak van die onderbrekings verminder deur perioderuilings te doen. Dis egter nie altyd moontlik nie en af en toe word iemand benadeel. Dit bly maar ‘n uitdaging.”
Laerskool Blanco
Este Terblanche, hoof van Laerskool Blanco, sê beurtkrag raak verskeie fasette van die skooldag. “Dis uiters frustrerend. Die kameras by die toegangshek werk nie, so ons kan nie sien wie die terrein wil betree nie. Die kontrole vir die hek werk ook nie altyd behoorlik nie.
“Dokumentasie wat die skool vir die departement moet voltooi, word op ‘n aanlynnetwerk gedoen en dit kan nie geskied wanneer daar nie krag is nie. Dit beïnvloed sperdatums. Drukwerk en kopieerwerk moet ook rondom beurtkrag beplan word.” Sy het gesê die skool was dus genoodsaak om ‘n ononderbroke-kragtoevoertoestel (UPS) te laat installeer vir die administratiewe afdeling.
‘Samewerking en geduld nodig’
Merton het gesê beurtkrag is ‘n nasionale uitdaging. “Die verantwoordelikheid van interregeringsleierskap saam met gemeenskapsinsette, geduld, en onder-steuning is nodig om die situasie saam die hoof te bied.”
bron: GoergeHerald