Droë, warm lente en vroeë somer wag
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel ’n droë en warm lente en ’n vroeë somer.
Dit is omdat daar nog geen sterk La Niña ontwikkel het ná die El Niño wat verantwoordelik was vir die droogte in Suid-Afrika nie.
Dr. Asmerom Beraki, senior navorser vir langtermyn-voorspelling by die SAWD, sê die droogte van 2015-’’6 duur steeds voort inr die meeste dele van Suid-Afrika. Die herstel van die droogte sal stadig wees weens bonormale temperature wat vir die lente en somer voorspel word.
Die droogte is veroorsaak deur ’n baie sterk El Niño wat reën weggehou en uitermate hoë temperature veroorsaak het in veral die sentrale dele van die land.
Beraki sê die meeste weermodelle dui nou op neutrale toestande en ’n swak La Niña, ’n verskynsel wat gewoonlik nat weer bring in teenstelling met die droë El Niño.
“In die algemeen gaan die toestande oor die Indiese Oseaan nie reën in die lente bring nie.”
Hy sê die meeste modelle waarop hulle staatmaak, toon op die oomblik dat daar nie bonormale reën in die vooruitsig is nie en dat die temperature hoër as normaal sal wees.
Dit beteken mense wie se omstandighede van die weer afhang, moet nie op baie reën hoop nie.
Die weerdiens sal voortaan maandeliks weerneigings bekend maak.
“Meer betroubare inligting mag ontwikkel hoe nader ons aan die middel van die somer kom,” sê Beraki.
Bron: Netwerk24