Dok op of gaan tjoekie toe
GEORGE NUUS – Motoriste met uitstaande lasbriewe vir verkeersboetes moes verlede week by padblokkades regoor George opdok of tronk toe gaan.
Die George-verkeersafdeling het gevorderde rekenaartoerusting van Syntell, ‘n Kaapse maatskappy wat die spoedkameras verskaf, gebruik om die voertuie se registrasienommers te skandeer. Dié het dan lasbriewe vir uitstaande boetes, gesteelde voertuie en voertuie met vervalste nommerplate uitgewys.
Daar is tussen verlede Woensdag en Vrydag meer as R60 000 ingevorder met die uitvoer van uitstaande lasbriewe by die padblokkades. Die polisie het ook beslag gelê op ‘n gesteelde voertuig by een van die padblokkades op die N2-snelweg.
Uitstaande lasbriewe vir verkeersboetes beloop oor die R3 miljoen.
Volgens me. Iona Kritzinger, die portefeuljeraadslid vir gemeenskapsveiligheid, moet motoriste begin verantwoordelikheid neem vir hul verkeersboetes en sy het belowe dat soortgelyke operasies met die toerusting van Syntell gereeld in George gehou gaan word om padveiligheid te verseker.
Die stelsel verwerk binne sekondes al die inligting en as daar ongerymdhede is, gaan ‘n alarm af wat verkeersbeamptes betyds laat weet watter voertuie se eienaars uitstaande boetes en lasbriewe het. Wanneer die voertuig afgetrek word, is ‘n drukstuk met inligting oor alle lasbriewe en uitstaande boetes teen die eienaar van die motor reeds tot die verkeersbeampte se beskikking.
‘n Paar boete-ontduikers wat daaraan gedink het om te sê hulle het nog nooit kennisgewings vir verkeersoortredings of dagvaardings by die huis of persoonlik ontvang nie, het by die padblokkades ‘n oorspronklike dagvaarding ontvang.
Uitstaande lasbriewe groot kopseer
Uitstaande lasbriewe is al vir jare vir die plaaslike verkeersafdeling ’n groot kopseer. Die verkeersafdeling het vandeesweek weer gewaarsku dat motoriste met uitstaande lasbriewe teen hul name nie hul voertuiglisensie, rybewys of permitte deur enige verkeersafdeling in die land kan hernu nie. Die besluit is vroeër vanjaar deur die munisipaliteit geneem nadat hulle toestemming ontvang het om administratiewe merke op die nasionale verkeersinligtingstel (eNaTIS), aan te bring teen persone se name vir wie daar uitstaande lasbriewe is.
Motoriste met uitstaande verkeersboetes of lasbriewe word versoek om hul boetes so gou moontlik by die George-hof of by die plaaslike verkeersdepartement te betaal. Diegene wat wil uitvind of daar enige boetes is, kan die George-verkeersafdeling skakel by 044 878 2400.
Verstaan boetes en lasbriewe
As ‘n motoris persoonlik deur ‘n verkeersbeampte aangekeer word vir ‘n oortreding, word ‘n direkte dagvaarding uitgereik met ‘n betaaldatum en ‘n hof-datum. Sou die motoris versuim om die boete voor die voorgestelde datum te betaal of versuim om in die hof te verskyn, sal ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik word.
As ‘n motoris deur ‘n spoedkamera gevang word, sal hy ‘n kennisweging deur die pos ontvang. Sou die motoris die kennisgewing ignoreer en nie die boete betaal nie, word ‘n dagvaarding uitgereik met twee datums daarop, ‘n betaaldatum en hofdatum. Indien die motoris die dagvaarding ook verontagsaam, word ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik. ‘n R200-boete vir minagting van die hof word by die verkeersboete gehef.
Mnr. Pat Jordaan van die George-verkeersafdeling en me. Iona Kritzinger, die portefeuljeraadslid vir gemeenskapsveiligheid, by die kamera wat die voertuie se registrasie vir ongerymdhede skandeer.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
FOTO’S: LEEANNE PRATT, GEORGE HERALD-JOERNALIS