CJ hoor by sy pa hy is ‘n Britse Leeu
CJ Stander was Woensdagmiddag salig onbewus daarvan dat hy vir die Britse en Ierse Leeus gekies is en het die nuus by sy pa, Jannie Stander, van George gehoor.
Hy was op die oefenveld saam met sy spanmaats van Munster waar hulle voorberei vir Saterdag se wedstryd teen Saracens in die halfeindstryd van die Europese Beker.
Stander, ’n bekende boer van George, sê hy het vroeg Woensdagmiddag gehoor CJ is in die span.
Hy het hom dadelik op sy selfoon probeer bel, maar hy kon nie antwoord nie omdat hy by die oefening was.
“CJ het my ná die oefening teruggebel. Hy wou weet of iets verkeerd is, want daar was verskeie gemiste oproepe van my. Ek het vir hom gesê: ‘Jy is in die span.’ Hy het gesê: ‘Jislaaik, Pappa, ek weet dit nie eens nie!’ ”
CJ se vrou, Jean-Marie, het dit toe ook reeds geweet. Sy en CJ se ma, Amanda, het oor die foon gesels.
“Jean-Marie was in trane,” sê Stander.
“Die familie is baie trots op CJ. Dit bewys uit en uit dat hy in 2012 die regte besluit geneem het om na Ierland te gaan en sy rugbyloopbaan daar voor te sit.
“Hy is op meriete in die span ingesluit en het sy plek in die span oopgespeel. Ek is bly vir hom.”
Stander benadruk dat CJ geen kwade gevoelens het jeens Suid-Afrikaanse rugby nie.
“Dit gaan nie daaroor dat hy nie vir die Springbokke gespeel het nie. Dit gaan daaroor dat hy internasionale rugby speel. Om vir die Britse en Ierse Leeus gekies te word, is die hoogste vlak wat hy kan bereik in wêreldrugby. Die span word uit spelers van vier lande gekies.”
Stander en Amanda wil in Nieu-Seeland na van die wedstryde gaan kyk.
Amanda sê sy was Woensdag voor die aankondiging van die span ’n bietjie senuweeagtig.
Sy het Woensdagaand met CJ gepraat.
“Hy kon self steeds nie glo dat hy in die span is.”
Sy sê hy het baie opofferings gemaak om die span te haal.
CJ, wat oorspronklik van George kom, is ’n voormalige Suid-Afrikaanse skolekaptein en het vir die Blou Bulle uitgedraf. Daar is destyds vir hom gesê hy is te klein om vir die Springbokke te speel.
Source: Netwerk24