Pond swakste presteerder in 2016
Die Britse pond het die titel as die swakste presteerder van die wêreld se grootste geldeenhede in 2016 verdien.
Dit is nadat dié geldeenheid vir ’n derde opeenvolgende week op pad is om waarde te verloor ná die Brexit-referendum.
Die pond se herstel Vrydag het skaars ’n duik gemaak in sy 2,7%-verswakking teenoor die dollar die vorige vier dae.
Die Britse geldeenheid het dié week die Argentynse peso verbygesteek as die grootste verloorder tussen 31 groot eweknieë teenoor die dollar in 2016 met beleggers wat steeds Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat, verwerk.
“Die pond gaan aansienlik verder daal soos die uitwerking van daardie onsekerheid oor beleggings en groei uit die donkerte te voorskyn kom,” sê Kit Juckes, ’n makro-ontleder by Société Générale in Londen in ’n nota aan kliënte.
Die pond het Vrydagoggend om 10:45 in Londen met 0,3% gestyg tot $1,2950. Dit maak dit 2,4% swakker vir die week en meer as 12% swakker vir 2016.
Dit het 0,3% tot 85,48 pennies teenoor die euro gestyg, wat dit steeds op koers sit vir ’n daling van 1,9% vir die week.
Die Britse geldeenheid het op 6 Julie ’n 31 jaar-laagtepunt van $1,2798 bereik.
Verbruikersvertroue in Brittanje het volgens ’n opname wat tussen 30 Junie en 5 Julie saamgestel is, die meeste in 21 jaar gedaal.
Source: Netwerk24