Modder, Modder en Nogmaals Modder in Swellendam
Almal was vroeg uit die vere Saterdagoggend oppad na die Jaarlikse Canola Fees op Swellendam waar die WCCC ( Western Cape Challenge Club) se vierde rondte 4×4 uitdaging plaasgevind het.
Sommer met die aankoms op Swellendam het die modder ons ore aan gesit. Ek weet nou nog nie hoe ek dit reggekry het om op so ‘n nou, gladde modder pad, tussen twee groot 4×4’s, ‘n kleine Golfie omgedraai het sonder om deur die modder oorval te word.
Die afgelope tyd se reën het duidelik sy merk gelaat in Swellendam. Al die hindernisse was vol water en die toegangsroetes na die hindernisse was een modder bad. Ek het nog nooit soveel modder by ‘n byeenkoms ervaar nie. Waterskoene was duidelik menige mense se redding.
Op ‘n staduim deur die oggend het ek by Dewald de Kock, van Windpomp Produksies (hy verfilm die byeenkomste) gestaan en gesels toe hy opmerk dat daar ongeveer 12 4×4 voertuie op dieselfde tyd in die modder vasgesit het. Selfs die trekkers wat die herwinning van die voertuie moes doen het mekaar gereeld uitsleep. So tussen die modder deur het die kompetisie darem voortgegaan, dis nou as die deelnemers die begin punte kon bereik.
Ongeveer ses en dertig voertuie het in sewe klasse meegeding. Die modder het die manne goed opdraande gegee en die kompetisie het maar teen ‘n slakke pas gevorder. Baie van die hindernisse was te nat en die manne het eers die droeër hindernisse aangepak, maar nadat twee voertuie deur die hindernis was, het dit onmoontlik vir die ander deelnemers geraak om die hindernis aan te durf.
Die hindernistoestande het deur die loop van die dag meer versleg en teen middagete het die klubbestuur besluit om die kompetisie te stop, want chaos was aan die orde van die dag op die baan.
Die dag was darem nie toetaal en al vernuut nie. Die deelnemers se punte, wat deur die loop van die dag verwerf is, is in ag geneem en ‘n finale uitslag kon uitgewerk word.
Duidelik kon die res van die dag nie gemors word nie en die manne het besluit om die res van die middag te vul met pret en plesier. Die manne het heerlik met hul voertuie in die modder gespeel en mekaar gewys waartoe hul voertuie in staat is. Dit was nie lank voor die manne die hoë bult agter die hooftent aangedurf het nie. Net twee van die voertuie kon hierdie bult ‘n ding of twee wys, Desmond en Megan Hiscock met hulle Toyota was eerste bo, gevolg deur Chris Vlok in sy Monster Energy Drink Jeep.
Teen die einde van die dag was die finale uitslae nog nie bekend nie, maar wat duidelik was, is dat die manne hulleself gate uit geniet het in die modder.
Voorlopige uitslae is soos volg:
Klas A
1. Hennie van Mescht Ford V6 pypkar
Klas B
1. Desmond en Megan Hiscock Toyota Hilux V6
2. Abie Smit en Frikkie Oosthuizen Toyota Lancruiser
3. Francois en Jaco Naude Toyota Lancruiser
Klas BS:
1. Ernst du Preez en Vanie Oosthuizen Jeep
2. Christie de Kock en Koos la Grange Jeep
3. Chris Vlok en Paul Budworth Jeep
Klas L:
1. Alan en Werner Venter Toyota Hilux
2. Frans Bouwer en Gordon Haye Landrover Discovery
3. Dino Burnette Landrover Discovery
(Die bogenoemde uitslae is onderhewig aan verandering en die algemene uitslae sal volgende week gepubliseer word.)
Die volgende byeenkoms in die reeks word gehou op die plaas Appelsdrift by Robertson op 8 Oktober 2011.
Vir meer inligting oor hierdie byeenkoms kontak, Marie Naude op 083 725 4140 of per epos by wcccsecretary@absamail.co.za. Besoek ook die WCCC webtuiste by www.wccc4x4.co.za of volg hulle op facebook onder Western Cape Challange Club(wccc4x4) vir kraakvars nuus oor die klub se bedrywighede en nuutste foto’s.
Artikel: Francois Germishuys