Monster Nissan Navara Druk Sy Stempel Af Op George
PW Pretorius, ‘n besigheidseienaar in George, maak seker niemand kan hom mis kyk as hy in George se strate af paradeer in sy Monster Nissan Navara wat hy onlangs aangeskaf het. PW is reeds ‘n ou bekende in die 4×4 kringe in George en neem gereeld deel aan die Rebel 4×4 Uitdaagreeks byeenkomste in sy “rotor” aangedrewe Jeep. PW het ook onlangs besluit om aan die WCCC (Western Cape Challenge Club) byeenkomste deel te neem in sy Jeep.
PW is duidelik ‘n man wat wil uitstaan op die pad, want met sy nuwe Monster, die 2011 Nissan Navara 3.0 L, V6 dCi, trek hy onmiddellik almal se aandag. Met slegs 50 km op die op die klok het hy sy nuwe speelding aan LA Sport in Pretoria oorhandig om dié voertuig te omskep in ‘n “Projek Nissan Navara” Bakkie. LA Sport is nie nuut in die ombou van hierdie voertuie nie, want hulle is reeds die gelukkige eienaars van so ‘n Monster wat hulle self opgebou het. Die ombouing van die bakkie het ongeveer 18 weke geduur.
PW vertel dat dit maar ‘n redelike aanpassing was om met dié Ou Grote om draaie te kom, want jy vergeet maklik van die voertuig se massiewe wielboë. Hy het amper sy rieme styf geloop, maar na elke ‘n bietjie rondrits het hy dit vinnig gewoond geraak
Die bakkie is toegerus met Nissan se splinternuwe 3.0L, V6 dCi enjin wat 170Kw en 550 Nm wringkrag uitstoot teen slegs 1750 r.p.m. Geen verdere veranderinge is aan die enjin aangebring nie en die voertuig is verder toegerus met ‘n 7 spoed outomatiese ratkas.
Deel van die ombouing het behels, die pas van massiewe LT 375/65R16 Mickey Thompson bande op 16 duim vellings. Spesiale plate moes vervaardig word om die vellings op die Navara asse te laat pas en die bakwerk moes 60 mm gelig word om hierdie massiewe wiele onder die bakkie in te kry. ‘n TJM XGS suspensie, wat bestaan uit nuwe kronkelvere voor en kronkelvere en ‘n skokbreker agter, is onder die bakkie gepas. Die vere is ontwerp om ‘n gladde rit te verseker as die voertuig nie gelaai is nie, maar ook vir “extreme” 4×4 toestande.
Die bakwerk moes aangepas word om die groot wiele onder die voertuig te akkommodeer en die wye wielboë is met die hand, uit metaal vervaardig en gepas. Die pas van die snorkel was ook ‘n groot taak, maar is met baie sukses voltooi. Die doel van die snorkel is om water en stof uit die enjin te hou. Verder is die snorkel afgerond met ‘n soggerige neusbeskermer.
Aan die agterkant van die voertuig is ‘n agterbuffer aangebring, wat die drarak van die massiewe spaarwiel huisves. Om dié voertuig af te rond, is ‘n wenas aan die voorkant aangebring.
Die eindproduk, ‘n R800 000.00 voertuig met ‘n algehele wydte van ongeveer 2.2 m, ‘n massa van sowat 2.4 ton en brandstof verbruik van so in die omgewing van 5km per liter. Met ‘n standaard 80 liter brandstof tenk moet jy maar seker maak dat jy jou roetes goed beplan, want voor jy jou oë uitvee staan jy dalk iewers langs die pad sonder brandstof.
PW het definitief die “Ultimate” Nissan Navara geskep en duidelik seker gemaak dat sy nuwe Monster Bakkie die koppe draai in die strate.