Chanel No. 5 bly ná 94 jaar gewilde parfuum
Een of twee poptreffers of gewilde rolprente en voilà! Daar is ’n nuwe parfuum wat deur ’n bekende bemark word.
As dit nie, soos Jennifer Aniston se parfuum, na die bekende self genoem word nie, het dit ’n dramatiese naam soos Christina Aguilera se Red Sin of Taylor Swift se Wonderstruck.
In 2015 is meer as 100 nuwe parfuums bekend gestel.
$800 miljoen per jaar word aan advertensies en bemarking bestee om dié geure te bemark – van TV-advertensies tot gratis monsters wat in winkels of tydskrifte weggegee word. Die bemarkingsbesteding verteenwoordig tot 40% van parfuumvervaardigers se inkomste, berig CNBC.
Maar ’n nuwe verslag deur die konsultantefirma AT Kearney sê kosmetiekvervaardigers gooi hul geld in die water.
Die maatskappy sê vier van die vyf parfuums wat vandag die beste verkoop, is reeds meer as vyf jaar lank die topverkopers en al vyf is meer as nege jaar gelede bekend gestel. Een van die gewildste parfuums – Coco Chanel se No. 5 – is om die waarheid te sê al 94 jaar oud.
Die vyf topverkopers vir vroue op die oomblik is Dolce & Gabbana se Light Blue vir vroue; drie Chanel-geure: Coco Mademoiselle, Chance Eau Tendre en No. 5; en Marc Jacobs se Daisy. Laasgenoemde is die “nuweling” onder die topverkopers, al is dit reeds in 2007 bekend gestel.
En wat van mansgeure? Volgens die verslag is daar ’n bietjie meer verandering in dié sektor. Die vyf gewildste geure in 2015 was Acqua di Gio, Polo Red, Bleu de Chanel, Armani Code en Dolce & Gabbana se Light Blue vir mans. Polo Red is die nuutste geur – dit is in 2013 bekend gestel.
AT Kearney het ’n peiling gedoen onder 844 mense wat parfuum koop en bevind 34% kom winkel toe om die parfuum te koop wat hulle nog altyd gebruik het. Hulle sien nie eens die advertensies vir nuwe parfuums binne winkels raak nie of word nie daardeur beïnvloed nie.
AT Kearney sê die gewoonte om verbruikers in die verbygaan met parfuum te besproei, is die mins doeltreffende manier om parfuum te bemark. Monstertjies wat weggegee word, kos ’n fortuin – geld wat ook nie in verkope ingehaal word nie.
Net 6% van die mense wat aan ’n peiling deelgeneem het, het ’n parfuum gekoop gegrond op die een of ander vorm van advertensie.
Bronne: CNBC, Bloomberg