SA rolprentbedryf bereik uiteindelik so wasdom
Alle tekens is teenwoordig. Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf bereik die afgelope tyd uiteindelik ’n volwassenheid. In die verlede het idealiste slegs binne ’n utopie van hersenskimme en lugspieëlings oor so iets kon droom, maar nou bekruip tersaaklike werklikhede ons.
In Twee grade van moord ontluik talle hedendaagse aktuele temas wat die kompleksiteit binne ons samelewing belig en weerspieël. Anita le Roux, die draaiboekskrywer, het klaarblyklik nooit geskroom om dit trompop te loop nie, maar tog laat sy en Gerrit Schoonhoven, die regisseur, dit aan teatergangers oor om self te interpreteer en hul eie afleidings te maak.
Niks word met ’n paplepel ingegee nie. Inteendeel: Met ’n sorgvuldig gekose rolverdeling vertel elkeen van die akteurs op ’n uiters subtiele wyse iets van hul vreugde, vrese en pyn te midde van ’n lewe wat relatief alledaags is, maar tog ook nimmer té voorspelbaar word.
Sentraal in dié gesinsdrama staan Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo), ’n sielkundige, skrywer en motiveringspreker wat kort tevore ’n trefferboek, Die liefde kwes nie, die lig laat sien het.
Sy word feitlik oornag die middelpunt van die media se aandag. Met al haar verpligtinge begin sy op die rand van ’n vulkaan dans, maar sy bly relatief bedaard.
Dan word haar lewe deur ’n volgende gebeurtenis omvergegooi. ’n Uiters seldsame en moeilik geneesbare siekte word by haar man, Ben (Marius Weyers), ’n saggeaarde man wat klaarblyklik ’n ondersteunende huweliksmaat vir Aleksa is, gediagnoseer. Baie aandag word bestee aan Ben se hospitalisasie en die feit dat Aleksa gewillig is om haar praktyk op te gee om Ben tuis te versorg.
Hul seun, Christiaan (Roelof Storm), bly saam met sy maat, Ra’Ed Shaad (Keenan Anderson), ’n man wat in die oë van die Cloetes se dekade lange huishulp, Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards), nie ’n goeie pasmaat vir Christiaan is nie omdat hy ’n Moslem is. Fy is, soos so dikwels gebeur, Christiaan se “tweede” ma.
’n Boeiende dinamiek rondom Twee grade van moord is die prominente rol van Frankie Pietersen (Kim Cloete), wat met ’n dokumentêre rolprent oor Aleksa besig is. Dit betrek nie slegs Aleksa se gesin nie, maar veral ook haar lewe as openbare figuur.
Die rol van een van haar gereelde besoekers, die drank- en dwelmgebruiker Tanya Basson (Hilda Cronjé), wat in ’n destruktiewe verhouding met ’n “bekeerde” man is, is belangrik omdat sy gereeld in haar terapiesessies met Aleksa laasgenoemde se weerloosheid na vore bring.
“Wat sou die liefde nou doen?” is die gekose oorkoepelende slagspreuk vir dié drama. Daarby kan die vraagstukke rondom die twee moorde, in die titel geïmpliseer, gevoeg word.
Die fliek strek homself uiteindelik veel wyer omdat eutanasie en ondersteunde selfdood hulself as verdere sentrale temas binne die geheel ingrawe.
Die twee veteraanakteurs, Prinsloo en Weyers, lewer deurgaans sonderlinge kragtoere voor die kameras. Prinsloo se broosheid tref veral in haar afskeidstoneel teenoor Cronjé se Basson, maar is op haar grootste in die slotsekwens saam met haar mede-vrouegevangenes. Weyers beheer die waarlik lydende en opstandige Ben met intense kontrasrykheid, terwyl Surtie-Richards jou met haar egte menslikheid meevoer.
Die jonger geslag spelers lewer eweneens trotse werk. Dit verbaas nouliks. Schoonhoven weet hoe om die beste uit sy akteurs te haal. Hy sit hier sy reeds lank gevestigde reputasie manjifiek voort.
Met o.a. Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Shaleen Surtie-Richards, Hilda Cronjé, Roelof Storm, Kim Cloete, Keenan Arrison. Regie: Gerrit Schoonhoven. 98 minute. 16TG.
Bron: Netwerk24