Mej Tuinroete en Klein Karoo 2014
Die soektog na vanjaar se Mej Tuinroete en Klein Karoo neem eersdaags ‘n aanvang, met die kroning wat plaasvind op 27 September.
Hierdie kompetsie, wat 11 jaar gelede ontstaan het, dien as ‘n fondsinsameling en bewusmakingsgeleentheid vir die saak van mishandelde vroue en kinders. Jaarliks word die inkomste hiervan geskenk aan vier skuilings in onderskeidelik George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Knysna.
‘n Besonderse element in hierdie kompetisie is dat drie vroue uit elkeen van die skuilings ook mooimaaksessies ondergaan en bederf word met ‘n pamperlangdag, wat vir meeste van hulle ‘n eerste is.
Hierdie proses is samelopend met hulle emosionele helingsproses en uiteindelik kies die vroue onder mekaar die een wat voor ‘n beoordelaarspaneel verskyn vir ‘n onderhoud.
Die finaliste kry geleentheid om deel te neem aan die gala-geleentheid waartydens die wenner dan gekroon word.
Die 12 finaliste word aangekondig op 22 September, wat ‘n opwindende week vir hulle inlui. Tydens hierdie week beleef hulle die soet en die suur van die lewe met ‘n besoek aan verskeie toerisme-aantreklikhede wat die Tuinroete bied, bederfdae in die Garden Route Casino se spa, maar terselfdertyd kry hulle ook ‘n kykie by die verskillende skuilings in die lewens van vroue wat afgetakel is deur geweld.
Ter voorbereiding van die gala-geleentheid volg eindelose repetisies onder die bekwame hand van choreograwe Cornelle Carstens, wat reeds twee jaar die konseptualisering van die geleentheid behartig, en Donique Leonard, eienaar van Ace Models.
Die gala-geleentheid word jaarliks gekenmerk aan uitstekende vermaak deur van Suid- Afrika se top kunstenaars. Vanjaar sal die virtuoos Joseph Clark, bekend vir sy huldeblyke aan die rock-groep Queen en die sanger Bryan Adams, ‘n groot trekpleister wees, met Hannes van Wyk, kyknet se Bravo-aanbieder, wat as die programleier sal optree.
Vir enige navrae rakende hierdie projek, hoe om kaartjies te bekom of ‘n borgskap te bewillig, kontak Tryana Potgieter by 044 606 7777.