Niekie van den Berg by PERRONFM
Deur Charlea Sieberhagen – Netwerk 24 – Donderdag 30 Julie 2015 13:09
Niekie van den Berg is weer gereed om agter die mikrofoon in te skuif.
Van den Berg gaan van September op ’n nuwe gemeenskapsradiostasie, Perron 95.2 FM luisteraars vermaak met “goeie musiek” en “lekker-gesels”.
Maar volgens Van den Berg hoef hy nie sy goed te pak en Kaap toe te trek nie.
“Ek is besig om ’n ateljee by my huis in te rig,” sê hy.
“Ek gaan dus hier uit my huis in Roodepoort kan uitsaai.”
Van den Berg sê hy gaan verantwoordelik wees vir al die inhoud van sy program.
“Ek is die redakteur, regisseur en aanbieder van my program.”
Die program het nog nie ’n naam nie, maar hy werk daaraan, sê Van den Berg.
Hy het vir baie jare die program Sê Wie op RSG aangebied, waarna hy ’n draai in die parlement gemaak het en vir ’n ruk Nuusdag met Niekie op Netwerk24 aangebied het.
Hy sê hy is baie opgewonde oor die nuwe geleentheid.
“Ek was die afgelope ruk nogal in ’n gat gewees. Dit was vir my eintlik traumaties. Dit het gevoel asof ek net eenkant toe geskuif is.
“Maar nou gaan ek die lewe weer lekker maak. En dit is heerlik om te help bou aan ’n nuwe stasie. Die belangrikste is dat ek mense met die program wil laat goed voel,” sê hy.
Die nuwe stasie gaan aan die Weskus en in die Swartland uitsaai maar hoofsaaklik van Darling af.
Luidens die stasie se webblad is hulle baie toerisme-gedrewe en is hulle veral gemik op mense wat van die “buitelewe” hou.
“En jy weet, die perron het vir my ook ’n dieper betekenis. Dit is ’n plek waarvandaan jy vertrek om op reis te gaan. Ek sien uit na die nuwe reis en ek wil hê mense moet saam met my gaan,” sê Van den Berg.
“Mense wil graag luister na iemand wat hulle ken,” sê Marius Smuts, uitvoerende hoof van die stasie.
“Ek het vir Niekie so vier maande gelde genader, maar hy was toe nog nie gereed nie. So twee weke gelede het ek hom laat weet dat ons lisensie goedgekeur is. Hy het daaroor gedink en toe ingestem. Ek dink Niekie is gereed om weer sy lewe van voor af te begin,” sê Smuts.
“Sy ondervinding is ook baie uiteenlopend en ek kan nie dink dat sy kennis en ervaring net so kan verdwyn nie. Ek is baie bly hy het gekies om die paadjie saam met ons te loop, want hy kon saam met enigeen gaan,” sê hy.
“Daar is ’n paar mense wat gaan moet oppas, want Niekie is terug!” sê Smuts.