Alison se sprokie – The flower ladies on Adderley Streeet
Tyd vir oormaak. Van links:Patricia Jacobs van Foschini en Alison kyk vir die gepaste uitrusting… toe vir ‘n lekker skuimbad by die City Lodge in Goodwood… Jenny Spannenberg van Figaro kap Alison se hare bietjie korter … Enrico en Alison by Retief Albertyn van City Lodge, Grand West… en ‘n koningsmaal saam met Paul Haggiyannes (direkteur) van Squires Grill en Chop Shop en Delphine Roman (skakelbeampte by Grand West).
SHARIEF JAFFER het Alison en Enrico se sprokiesdag op film vasgelê. Alison vroegoggend as die blommeverkoper. Alison en Enrico uitgedos in hul nuwe vere.
Johann Maarman Kaapstad
” ‘n Regte, egte Julia Roberts! Of hoe?” sê-vra Alison Snyders.
Waar Adderleystraat se voorslag-blommeverkoper luilekker-lê in ‘n skuimbad by die City Lodge, naby die Grand West-casino in Goodwood, spot sy met haarself.
“Nou voel ek soos Julia Roberts in Pretty Woman!”
Van blommeverkoper tot ‘n regte royalty. En dit als binne sewe uur.
Op uitnodiging van Rapport is Alison gekies om ‘n dag lank soos ‘n regte prinses behandel te word.
En soos in ‘n regte sprokie was al die bestanddele daar. Dit was haar tiende huweliksherdenking en die volgende dag haar verjaardag.
Vroegoggend het Alison al ‘n proesel van ‘n prinses gekry. Die winkelgroep Foschini het hul deure vir Alison oopgegooi. Patricia Jacobs van dié klerewinkelgroep het hand bygesit. Toe is dit op en af in die gange. ‘n Bloes, trui, kouse, handsak, stewels en baadjie was op Alison se inkopielys. Maar meer as ‘n muntstuk moes opgeskiet word toe ‘n keuse tussen ‘n broek en ‘n romp gemaak moes word.
Teen daai tyd het die senuwees ook al begin pla. Manlief Enrico moes hom al aangemeld het. “Ja, hy sál kom,” sê Alison met ‘n vaste geloof.
Met sy aankoms word Enrico ook op ‘n drafstap op sleeptou geneem na ‘n mansuitruster. ‘n Swartpak is nodig. ‘n Prinses moet ‘n prins aan haar sy hê.
Enrico word van kop tot tone uitgedos. Hy glimlag tevrede. Dís mos hoe ‘n man moet lyk, sê hy selfversekerd.
Toe is oormaak-tyd. Enrico moet maar eers buite wag vir sy prinses. In die badkamer word gewerskaf. Twee pare hande woel en werkskaf met Allison. Een paar hande is dié van Rapport se Gloudine Pienaar. Die ander paar is dié van Jenny van Salon Figaro.
Alison se hare word ‘n klein bietjie korter gekap, drooggeblaas en die poeierkwas werk oortyd.
En toe vir die groot oomblik: Enrico sien vir die eerste keer sy nuwe “prinses”. Ag, as die verf-klerk nou vir een dag nie woorde gehad het nie, dan was dit nou. Hulle gee ‘n speelse drukkie vir mekaar en loop hand-aan-hand saam na die Squires Grill en Chop House vir middagete.
En wat ‘n koningsmaal was dit nie vir die twee nie!
Hier word die huweliksherdenking sommer in styl gevier, in so ‘n mate dat die ander gaste by die Grand West-casino behoorlik hul koppe draai vir Enrico en Alison.
Aan tafel word vertel hoe sy as jong tienjarige saam met haar ouma Ellie blomme verkoop het. Ouma Ellie was ‘n legende onder die blommeverkopers, want sy het 50 jaar lank die wind, sonskyn en reën van die Kaapse middestad getrotseer.
“Ouma Ellie het altyd gesê ek het ‘n natuurlike talent om mense te oorreed om blomme te koop. Nadat ek uit die skool is, het ek maar net die tradisie van ouma Ellie voortgesit. Dis juis met die blommeverkopery dat sy vir Enrico ontmoet het. Ook hy het destyds met vrugte gesmous. Alison is ‘n blommemens. Jy kan haar en haar suster saans nog laat in die middestad kry, besig om blomme te verkoop. Dis haar lewe . . . ” sê hy
Dis 14:13 die klok het ons met 13 minute geklop, maar Alison het nie weer in ‘n aspoestertjie verander nie.
Sy bly ‘n prinses. ‘n Regte royalty. ‘n Blommeverkoper en ‘n Pretty Woman.