Skurweberg Plaasskool 1894
Die Skurwebergskooltjie is op 11 Mei 1894 in een vertrek van die huis van Francois Alwyn Smit (Klein Oompie Smit) gestig.
Die huis dateer dus uit die tyd dat die Voortrekkers hulle hier gevestig het. Sy bakoond was nie losstaande soos dit in die dae gebruiklik was nie, maar vas aan die kombuis se buitemuur met sy opening na binne sodat die huisvrou (sy was ‘n lywige tannie) in reënweer kon bak sonder om nat te word.
Die plankvloere en leiklipstoep kan ook as luukshede vir daardie dae beskou word. Die 350 mm dik klip-en-kleimure was normaal. Oorspronklik sou die huis waarskynlik ‘n grasdak gehad het wat later deur ‘n sinkdak vervang is.
Oompie Smit se vader, ook Francois Alwyn was ‘n kleurvolle persoon, een van die sterkes en onverskrokkenes van sy tyd. Gebore in 1817 op Cradock,
Francois Alwyn Senior het in 1837 die Kaapkolonie verlaat nadat hy aan verskeie grensoorloë teen die Xhosa deelgeneem het. In daardie jare was sy bynaam “Hout-Hotnot” wat ene Hans Prinsloo aan hom gegee het nadat hy verbaas toegekyk het hoe hy eiehandig ‘n swaar houtstomp op ‘n wa gelaai het.
‘n Ander houtstomp het hom twee vingers gekos. Dit het gebeur toe hy op hierdie plaas ‘n groot boom afkap om die kanon, “Grietjie” wat by die slag van Bloedrivier ‘n rol gespeel het te herstel.
Hy was in daardie jare van die vroeë ZAR die kanonkommandant en aangesien hy die twee staatskanonne in die skuur van sy plaas geberg het, kan ons sê dat sy plaas die eerste militêre hoofkwartier was.
Drie van die Krupp-kanonne van die ZAR wat President Burghers met die anneksasie van Transvaal aan Theosophilus Shepstone oorhandig het.
In later jare het die seun, “klein oompie Smit”, die plaas geërf en die skool daar in die ou huis ingerig.
Die foto hier links aangedui is van Mnr. J. Homfeld (1889 – 1899) was die hoof en daar was 12 leerlinge.
‘n Fontein daar naby het water vir die gesin en skoolkinders verskaf.
Oompie Smit was baie lief vir kinders en het vir hulle ‘n dammetjie op die werf gebou om in te speel en hulle skryfleie af te spoel.
Dikwels het hy ook aan hulle vrugte en ander lekkernye uitgedeel. Sy graf is in die familiebegraafplaas op die plaas. Dit is min of meer 1 km noord van die huis.
Ook op akademiese gebied het dit nie sleg onder mnr Homfeld gegaan nie. Die inspekteur van onderwys van die ZAR berig op 28 September 1894: “Lokaal vrij geschik het is te wenschen dat de schoolcommissie en de omwonende ouders den flinken onderwijser met een eenparigen schouder steunen opdat vele kinderen van zijn onderwijs genieten mogen. De leermiddelen zijn voldoende alleen ontbreekt voor elken standerd een goed stel leesboeken.”
Kort hierna is mnr Homfeld egter afgedank omdat hy net Hollands kon praat en nie Afrikaans geleer het nie. Hy het dan na Schietfontein verhuis en daar die hoof geword
Met die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog is die skool gesluit maar die huis is nie deur die Britte afgebrand nie want hulle het dit volgens oorlewering as ‘n ammunisie-opslagplek en kanonskuiling gebruik.
Daar is glo gate vir die kanonlope deur die mure gebreek en een van die vertrekke se plankvloer is verwyder en verbrand. Die huis bestaan vandag nog alhoewel daar aan die agterkant heelwat aangebou is oor die jare. Veral sy stoep met die groot plate van gesaagde lei is besienswaardig.
Die nuwe stoepdak se randversierings is nie eg nie en eers in 2007 aangelas. Ry op die R104 oos vanaf die vier-rigtingstop met die R511. Na net minder as een km is daar ‘n kruising. Draai regs op die grondpad en onmiddellik weer links by die T-aansluiting. Na ‘n paar honderd meter is die ou gebou regs sigbaar.
Na die Anglo-Boere oorlog is daar nie weer in die huis skoolgegaan nie. Die ouers moes tot 1912 wag voordat daar op die suid-oostelike deel van die plaas naby die Hennopsrivier weer ‘n skool was, hierdie keer op ‘n mnr Steynberg se plaas. Hierdie nuwe skoolgeboutjie was net een losstaande vertrek met nog ‘n losstaande vertrek vir die onderwyser om in te woon.
Die inspeksieverslag gedateer 12 September 1913 beskryf dit as volg:
”The school premises consist of one room, so small as not to allow the stock cupboard being placed in it. The cupboard is at present kept in the teacher’s living room – an awkward arrangement.”
Die toestand duur egter voort want op 10 Augustus 1915 rapporteer inspekteur A Stephen: “The building at present used as a school is quite unsuitable for the purpose and is the worst in the district. The teacher’s house is even worse. It is one room with a flat iron roof and no ceiling. It is divided into a living and sleeping apartment by means of a curtain. There is no water supply.”
Hierna het mnr J P Basson hoof geword maar daar het nog niks verander tot op 15 Mei 1924 toe daar ‘n nuwe skool gebou is en hy kon skryf: “Die skoolgebou is splinternuut. Die plaaslike mense het die gebou opgetrek en hulle het eer vir hulle werk. Die skooltjie is baie eenvoudig maar vir die praktyk doelmatig en bruikbaar ingerig. Daar is voldoende lug en lig en die skool kos nog nie eers 100 pond nie.” Ook hierdie geboutjie bestaan nog maar is vervalle.
Op 11 April 1930 skryf die inspekteur egter: “Die skoolbesoek het so laag gedaal dat die Departement nie meer die skool wil ondersteun nie.” Daar was maar 12 leerlinge met mnr C.C Combrink as laaste hoof. Die kinders is na Elandsfontein verplaas waar Oompie Smit weer ‘n gebou beskikbaar gestel het waarin mnr Anderson die hoof was tot in 1937 toe dit ook gesluit het, selfs die gebou bestaan vandag nog.