Snork is soos skinder stories oor jouself. Jy hoor dit nooit
Teks: Salome Delport. Artikel uit die Augustus 2015 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Nare Naggeluide
Saag jy of jou geliefde snags woes balke? Hier is drie planne wat die snorkery kan stopsit.
Se nou jy snork? Skielik is oorbly by vriende, saam kampeer, vriendinnenaweke, werkskonferensies, oorsee toer saam met pelle en veral ‘n romantiese wegbreek skrikwekkend.
Want jy weet jou kamermaat gaan die volgende oggend vies opstaan. En elke oggend daarna nog meer die hoenders in wees.
Jy gaan duidelik verstaan laat word dat jy gaaf is en so aan, maar regtig…
Jy weet jy gaan die toets aand vir aand dop, want snork is so onwillekeurig soos asemhaal. Hoe kom jy nit hierdie dilemma?
Wel, hier is goeie nuus. ‘n Onlangse artikel in die mediese tydskrif Chest wys ‘n paar maklike oefeninkies kan snorkery met 36% verminder en met 60% sagter maak.
En dalk kan jou slaapmaat maar saamoefen, want baie van diegene wat volhou dat hulle nie snork nie, het ‘n een uit twee kans om na vyftig in dieselfde koor te sing.
Waar kom snork vandaan?
Dr. Simon Liebenberg, Kaapse oor-neus-en-keel-spesialis verduidelik die probleem kom daarby dat die strukture in jou bokeel sagte weefsel is.
Jou boverhemelte is sag, jou tong is sag, jou bokeel is sag en jou kleintongetjie is selfs sagter. Wanneer jy diep slaap, ontspan die spiere in hierdie strukture heeltemal, niks hou hulle in posisie nie en hulle sak uit en raak aan mekaar. Asemhaling stoot hulle heen en terug. Hulle wapper letterlik soos vlae in die wind – wat ander mense as snork hoor.
Die planne wat kan help
Die Oefeninge
Die strategic agter die oefeninge wat die span Brasiliaanse dokters ontwikkel het om die spierweefsel van jou keel fermer te maak. Hier is hulle:
• Stoot die punt van jou tong teen jou verhemelte en trek jou tong so ver agtertoe as wat jy kan, terwyl dit in kontak met jou verhemelte bly. Doen elke dag twintig.
• Suig jou tong teen jou verhemelte vas. Probeer om jou hele tong plat teen jou verhemelte te kry. Doen elke dag twintig.
• Druk jou tong so plat as wat jy kan op jou mondvloer terwyl die tippie van jou tong op die onderkante van jou ondertande druk. Doen elke dag twintig.
• Hierdie een is moeiliker om te beskryf maar maak so: Verbeel jou jy het ‘n yslike en vuurwarm aartappel in jou mond en jy wil nie he dit moet erens aan jou mond raak nie. Jy trek dus jou verhemelte hoog en gerond op en hou jou tong so laag moontiik. Se nou “aaa”. (Jy doen dit reg as jy na Mr. Bean klink.) Doen elke dag twintig.
• Blaas jou wang op. Sit jou wysvinger in jou mond teen jou wang, trek jou mondspiere toe om die vinger en pluk jou vinger uit sodat jy “pop” hoor. Doen elke dag tien aan elke kant.
• Sluk kamma, om so jou slukspiere en die keelweefsel sterk te hou. Doen elke dag twintig.
Die proefkonyne het binne drie maande minder en sagter gesnork. Ongelukkig is niemand heeltemal snorkvry nie. Maar wie weet, as hulle getrou oefen?
Dit help ook om…
- nie op jou rug te slaap nie
- nie saans alkohol te drink nie, aangesien dit die spiere laat verslap
- te kyk of spierverslapping ‘n newe-effek van jou medikasie is. Vra jou dokter of jy hierdie medikasie soggens kan drink
Doen die Oefeninge al snork jy nie. Keer Terwyl jy kan!
Die Toestelle wat jy kan gebruik
Se nou jy oefen getrou maar dit help niks?
Dr. Ronel Podde, ‘n Pretoriase tandarts wat in snorktoestelle spesialiseer, se dit is waar teen- snork-hulpmiddels inkom.
“Hulle hou die sagte lugwegweefsel in posisie sodat jou lugwee oop bly en lug ongehinderd kan deurgaan.”
Daar is basies drie soorte toestelle – en ‘n magdom handelsmerke, naamlik:
• toestelle wat jou verhemelte lig
• toestelle wat jou onderkaak vorentoe trek en keer dat jou tong agtertoe val, of die MAA (mandibular advancement appliance)
CPAP, (continuous positive air pressure ventilator) wat voel en lyk soos ‘n duikbril en snorkel met ‘n masjientjie wat lug deur jou neus in jou luggange indwing. Die topmodelle maak die lug vogtig en warm sodat jou keel nie uitdroog nie.
Die eerste soort het in onbruik verval omdat dit nie baie suksesvol is nie.
Die goudstandaard is die CPAP. Dit help vir sowat 70% van gebruikers. Maar ondervinding wys dat die toestel vir vier uit elke vyf mense te ongemaklik is en hulle horn maar wegpak wat net mooi niks help nie.
“Die MAA is byna net so suksesvol soos die CPAP, en daarby is die toestel vir 90% van gebruikers gemaklik sodat hulle dit bly gebruik. Die CPAP is te kry by oor-neus-en-keel-spesialiste, terwyl die MAA deur tandartse met spesifieke opleiding daarin nommerpas vir jou gemaak word,” se dr. Podde.
Onthou die basiede dinge
Gewoonlik kom snorkers bra ontevrede van die dokter af terug omdat die raad niks of min help – soos dat rokers meer dikwels snork. Maar jy het nog nooit gerook nie. En dat dit help om gewig te verloor, terwyl jy eintlik nie oorgewig is nie. Of dat drie keer meer mans as vroue snork, en dat sowat die helfte van mense bo vyftig snork – feite wat niks aan jou probleem verander nie. Of dat jou keel smal is, of jou kleintongetjie besonder lank is… dinge waaraan nie jy of die dokter iets kan doen nie.
Weet jy of jy net snork of eintklik aan obstruktiewe slaapapnee ly? Stel hier vas, want slaapapnee kan op breinskade en beroerte uitloop
Party dokters beveel operasies aan om die kleintongetjie weg te sny of die verhemelte en keel te verander, maar dr. Liebenberg se min mense vind werklik by hierdie operasies baat.
“Aan die ander kant is dit vir seker die geld en tyd werd om jou sinusse, mangels, adenoiede en allergiese rinitis (neusallergie) reg te kry. Eers as alles hier reg is, kan jy kyk na die CPAP en die MAA as oplossing.”
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |