Word KWAAD, dis GOED vir jou
Deur: Anet Schoeman. Artikel uit die Januarie 2015 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Onderdrukte woede maak jou bitter en bedruk . Dis drukkoker wat wag om dramaties en sonder styl stoom af te blaas. Gebruik liewer jou woede op ‘n positiewe manier
Woede is ‘n goeie ding, sê Marcel Gil, ‘n woede-beheer-fasiliteerder by Papillon-psigiatriese rehabilitasiesentrum in Randburg, Johannesburg. “Dit motiveer ons om op te tree en konflik op te los – dink maar aan Gandhi en oudpresident Mandela wat kwaai mense was. Hoé jy jou woede hanteer, is die geheim.”
Charlize Theron se woede-uitbarsting in ‘n bank in Los Angeles nadat die kassier nie haar tjek wou wissel nie, het ‘n talentsoeker se aandag getrek. En kyk waar’s sy nou. Maar helaas, daar volg selde ‘n Oscar-toekenning op ‘n vloermoer en meestal lyk ‘n mens lagwekkend eerder as glansryk.
10 Wenke om woede te tem
1. Dink voor jy praat.
2. Wag tot jy kalm is voor jy iets sê.
3. Doen oefeninge.
4. Neem ‘n blaaskansie wanneer spanning by die werk oplaai sodat die stres nie opbou nie.
5. Identifiseer oplossings eerder as die probleem.
6. Begin sinne met “ek” eerder as “jy” om te verhinder dat jy kritiseer en blameer.
7. Moenie ‘n wrok koester nie.
8. Humor ontlont ‘n situasie, maar ligloop vir sarkasme.
9. Span ontspanningstegnieke in om jou te laat kalm word.
10. Kry hulp voor dinge handuit ruk.
Wanneer is woede sleg?
Wanneer woede nie openlik uitgedruk word nie, word dit ‘n probleem. Jou bloeddruk styg, jou pupille word groter en adrenalien word vrygestel. Net sowat 10% van mense druk werklik hul woede uit. Die res krop dit op of steek dit weg.
Interessantheidshalwe: Volgens navorsingsbevindings word vroue en mans ewe veel kere kwaad, maar vroue is meer geneig om hul woede weg te steek.
Onthou, onbeheerste woede is ‘n besluit en as jou emosies met jou weghol, is die uitwerking meestal negatief. Marcel sê woede word ‘n probleem as dit te intens is, te gereeld ervaar word en nie korrek hanteer word nie. Ongelukkig kan dit ‘n gewoonte word wat moeilik afgeleer word. Jy moet iets anders aanleer om die aangeleerde woede-reaksie te vervang.
Marcel werk met padwoede-kliënte wat deur die hof verwys is en waar ‘n kursus in woedebeheer ‘n laaste uitweg is voor tronkstraf oorweeg word. “Dit verg sowat ses maande se terapie voor die nuwe aangeleerde gedrag – om woede op ‘n beter manier uit te druk – ‘n gewoonte word.
Hoekom is mense so kwaad?
Binne die politieke raamwerk in Suid-Afrika het ons ‘n groot groep mense wat bitter gefrustreerd is nadat beloftes gemaak is wat nie gehou is nie. “Mense voel hulle het geen seggenskap nie. Hierdie frustrasie groei en groei en klein snellers kan hulle laat oorkook. Beskou die snellers vir woede as klein uitnodigings wat jy kan aanvaar of verwerp. As jy soggens by die huis uitstap en oor die fiets val wat Boetie in die oprit vergeet het, het jy ‘n keuse of jy daaroor gaan kwaad word of nie,” sê Marcel.
Leer ontspan
Dit klink eenvoudig, maar dit werk.
• Haal diep asem en maak seker dat jou maag ook in en uit beweeg.
• Herhaal ‘n sin om jou te laat bedaar, soos: “moenie kwaad word nie” en haal diep asem.
• Visualiseer iets rustigs, soos water wat vloei.
• Doen kalmerende, stadige oefeninge soos joga.
Opgekropte emosies maak ‘n mens depressief (en knou jou selfbeeld) en kan op ‘n dag in ‘n ontploffing uitbars
Die bose kringloop
As jy gedurig woedend is, skei jou liggaam meer van die streshormoon kortisol af wat weer ander negatiewe gevolge vir jou gesondheid inhou, soos verlaagde immuniteit, gewigstoename en swak geheue. Boonop raak die chemiese effek van langdurige blootstelling aan kortisol ‘n bose kringloop wat later verhinder dat jou liggaam die produksie kan stop.
Tel tot 10
Navorsing bewys dat die neurologiese woedereaksie minder as twee sekondes duur, sê Ronald Potter-Efron, ‘n woedebeheer-kenner van Wisconsin en medeskrywer van Letting Go of Anger. Hierna moet jy daarop fokus om kwaad te bly. Dus: tel tot tien, loop uit die vertrek, skakel die radio aan … en kyk of jy kalmer voel.
Beskou die snellers vir woede as klein uitnodigings wat jy kan aanvaar of verwerp
Hoe meer haas hoe minder spoed
‘n Paar jaar gelede het ‘n padveiliglheidsmaatskappy ‘n eksperiment gedoen om te bepaal hoe mense se bestuurstyl in spitsverkeer die duurte van die reis beïnvloed. Twee voertuie het saam in die oggend se spitsverkeer in Pretoria weggespring. Die opdrag was dat die een al die moontlike moes doen om gou in Johannesburg te kom: druk voor mense in, gee niemand ‘n kans nie… dus die gemiddelde, onbedagsame bestuurder. Die ander een moes rustig en vriendelik ry, mense ‘n kans gee, glimlag… Die resultaat? Hulle het minder as ‘n minuut na mekaar hul bestemming bereik. Die onbedagsame weliswaar eerste, maar met ‘n hart wat uit sy borskas bons en irritasievlakke hemelhoog. En sy brandstofverbruik was hoër.
Maak so
• Bepaal die sneller vir jou woede. As jy soggens briesend raak op pad werk toe omdat bestuurders voor jou indruk, of jou nie ‘n kans gee nie en dit veroorsaak dat jy laat is, ry ‘n halfuur vroeër en herinner jou daaraan dat jy oorgenoeg tyd het. As jy ongeduldig is, word elke klein oponthoud ‘n fiasko.
• Besluit hoe ernstig die situasie is. Gaan die vyf minute wat jy later by die kantoor opdaag, ‘n krisis wees?
• Oorweeg jou opsies. Jy kan skree, vloek en op jou toeter lê, of jy kan lekker radio of musiek luister.
• Tree gematig op. Hoe kwater jy word, hoe moeiliker word dit om die reaksie te stop. As iemand jou oor die foon kwaad maak, sê dis nie geleë om nou te praat nie en vra ‘n e-posadres om dit op daardie manier te hanteer.
Oefening
Oefening is ‘n uitstekende manier om woede en frustrasie te verwerk. Studiebevindings toon dat selfs ‘n enkele oefensessie woede kan voorkom. Oefening is ook tweeledig, sê navorsers, want wanneer jy oefen, het jy die tyd en geleentheid om oor die probleem te dink, jou gedagtes te orden en oplossings te soek.
Marcel waarsku dat as jy woedend is, jy moet wegbly van ‘n slaansak waarop jy jou woede “uitslaan”, of selfs van skopboks.
“Dié soort oefening kan aggressiewe gedrag versterk, want jy leer dat as jy kwaad is, jy iets skop of slaan om verligting te kry, en probeer nie eers ‘n oplossing soek nie.”
Inligting en hulp:
• Marcel Gil, ‘n woedebeheer-fasiliteerder by Papillon-psigiatriese rehabilitasiesentrum in Randburg, Johannesburg: 011 326 2445 / 083 2821717
• www.mayoclinic.org/healthy-living/adult-health/in-depth/ anger-management
Padwoede: Wat is die oorsaak?
Marcel Gil, ‘n woedebeheer-fasiliteerder, sê baie bestuurders ervaar padoortredings as ‘n kwaadwillige daad wat teenoor hulle persoonlik gepleeg word.
“Die ongeregtighede in die land, soos korrupte politici, maak mense magteloos, want hulle kan niks daaraan doen nie. Die wetteloosheid op die paaie versterk die gevoel. As iemand voor jou indruk of jou afsny, voel jy dat jy niks aan die oneerlike minister kan doen nie, maar jy kan die padvark aan die pen laat ry.
Jy haal dan al jou opgekropte frustrasies oor die ongeregtighede en wetteloosheid op die oortreder uit.
Mense voel ook baie keer dat ‘n ongeregtigheid op hulle persoonlik gemik is; dat iemand juis voor húlle wil indraai. As hulle dit so persoonlik ervaar, voel hulle hul woede-uitbarsting is selfverdediging.”
Hoekom oorreageer oënskynlike sagmoedige Neelsies soms so?
Marcel sê die sagmoediges wys net nie hul woede nie omdat hulle nie doeltreffende maniere het om woede uit te druk nie. Die hoop opgekropte emosies maak ‘n mens depressief (en knou jou selfbeeld) en kan op ‘n dag in ‘n ontploffing uitbars wat buite jou aard lyk.
Lesersforum
Is dit soms vir jou moeilik om jou woede te beheer?
Woede so erg dat jy tafels wil breek, deure afskop en die ou onderstebo wil slaan? Nee, in daardie kategorie val ek nie. Kwaad kan ek wel word, maar meer in die trant van met die skerp tong. Deesdae as die kinders my kwaad maak, sal ek die goeie ou raad volg om eers tot by tien of honderd te tel en die Here in daardie tyd om raad, kalmte en wysheid vra.
Ek word nie maklik kwaad nie. My ma het my vroeg geleer: “Your opinion is not my reality.” Hoe iemand my antwoord, behandel, of selfs vloek, het niks met my te doen nie!
Stap weg en tel tot die spreekwoordelike tien wanneer ‘n woedebui jou oorval.
Ek kan nogal gou kwaad word en moet net keer of ek sal iemand sommer iets toesnou.
Maar dit help gewoonlik om op jou tande te byt en vir ‘n oomblik te besin: sal dit my ‘n beter mens maak, of nie?
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |