Is dit ‘n HOES of TB?
Deur: Salome Delport. Artikel uit die Augustus 2014 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Dokters, verpleegsters, onderwysers, ons almal, kan TB kry van ‘n enkele hoesie. Veral verrassend baie gesondheidswerkers word siek. Enkeles sterf. Word daar te min gedoen om mense te beskerm?
Passievol oor haar werk as jong dokter in ‘n opleidingshospitaal, het dr. Dalene von Delft met liefde haar stetoskoop op haar handpalm warm gevryf voor sy dit op haar pasientjies se ruggies geplaas het om na hul longe te luister. Soos dit in die winter in ‘n hospitaal gaan, is daar altyd ‘n gehoes en geproes en te min hande. Daarom spring dokters, verpleegsters en fisioterapeute in sonder om twee keer te dink aan die gevare vir hulself, soos griep en ernstige akute respiratoriese sindroom. En tuberkulose (TB).
Die soorte TB’s
- Latente TB 80% van ons is reeds met die TB-kiem geïnfekteer maar word nie siek nie.
- TB die gewone, geneesbare siekte.
- MDR TB Multi drug-resistant tuberculosis, wat nie reageer op die twee eerstelyn-TB-medikasies nie.
- XDR TB Extensively drug-resistant tuberculosis, wat nie reageer op drie tot tien van die TB-medikasies nie, en selfs op niks reageer nie.
Jy kan nie TB aansteek nie van:
- Mense met latente TB.
- TB-lyers ná voldoende tyd op medikasie. Kontak met mense met gewone TB is ná twee weke op medikasie veilig.
- Mense met MDR-TB is veilig ná twee negatiewe laboratoriumtoetsings, gewoonlik ná tien weke as die mens dadelik goed op die medikasie reageer.
- Ook mense met XDR-TB is veilig ná twee negatiewe laboratoriumtoetsings, en mits hul simptome duidelik verdwyn het.
Waar toets jy?
- Toetsing is gratis by alle munisipale klinieke.
- As daar ‘n geval in ‘n skool is, kan die skool die staat vra om alle kinders wat in kontak is met die leerder te toets.
- Jy kan ook jou dokter vra om jou te toets. Dit is nie gratis nie.
Dalk nog ‘n plan?
Dr. Robert Wilkinson van die Universiteit van Kaapstad het onlangs vasgestel daar is ‘n verband tussen vitamien D-vlakke en die voorkoms van TB in Suid-Afrika. Vermoedelik kan ‘n paar minute in die son en/of vitamien D-aanvulling jou weerstand teen TB verhoog.
Op ‘n dag het Dalene ‘n kuggie. Een wat nie ophou nie. Sy vermoed TB en laat haar toets. Toe kom die skokdiagnose: sy het MDR-TB. Die weerstandige TB reageer nié op die twee eerstelyn-TB-medikasies nie.
Haar storie eindig betreklik goed. Amptelik is sy gesond. In werklikheid sal die swaard van MDR-TB lewenslank oor haar kop bly hang. Vir die res van haar lewe sal sy elke ses maande moet laat toets of haar MDR-TB dalk hervat het.
Maar immers het sy oorleef – anders as ‘n mediese student aan die Universiteit van Kaapstad wat onlangs aan XDR-TB oorlede is. Die tuberkulose reageer nie op drie tot tien van die TB-medikasie nie, en selfs glad nie.
En ten minste het sy nie XDR-TB nie, soos een Kaapse pediater wat weens sy werks- omstandighede nie sy status bekend wil maak nie.
Maar sy was nie die enigste student met TB nie. Tuberkulose is in dieselfde tyd by dieselfde hospitaal by medestudent dr. Bart Willems gediagnoseer. Dit is toe dat dit hulle soos ‘n figuurlike hou op die bors tref: báie van hul klasmaats en ander gesondheidskollegas doen TB, MDR-TB en XDR-TB op.
“Vandat ons openlik praat, is ons eintlik geskok deur die groot aantal mense wat ons in ons opleidingsessies teëkom wat in die loop van hul werk TB opgedoen het,” sê Dalene.
“Wat my ontstel, is die owerheid se houding. Hulle ontken dat ek die kiem by die hospitaal kon opgedoen het. Ek is wel behandel en is vergoed, soos volgens die Wet op Beroepsgesondheid. Maar die amptelike standpunt is dat mense met ‘n gesonde lewenstyl ‘n sterk immuunstelsel het en dus teen TB beskerm is. Ons word vertel dit is eintlik jou eie skuld as jy TB kry. Maar dit is nie die waarheid nie. Énige een, selfs jong en gesonde mense, kan TB opdoen. Jou risiko hang af van hoeveel keer jy blootgestel word en of jy blootgestel word in ‘n vertrek met min ventilasie.”
Vier uit elke vyf van ons het TB latente TB
In hospitale is dié risiko hoog – sowat drie keer hoër vir dokters, verpleegsters en skoonmakers, as vir ander mense, skryf die SA Medical Journal in sy Maart-uitgawe.
Vir MDR-TB is die risiko ses keer hoër, sê Dalene.
Talle ander mense weet nie waar hul TB vandaan kom nie. Soos Linda Fourie ‘n troufotograaf, sowel as ‘n onderwyseres van ‘n skool op Hermanus, wie se naam om professionele redes weerhou word.
Linda skryf op haar blog dat sy lankal besluit het om op te hou tob oor waar sy die kiem opgedoen het.
Sy het omtrent ‘n jaar lank met die TB-kiem rondgeloop voor sy behandel is en kon in hierdie tyd ander aangesteek het, sonder enige opsetlikheid van haar kant af.
it is juis die skrikwekkende van die TB’s: hulle is luggedraagde siektes wat met hoesdruppels versprei. Dit verskil hemelsbreed van vigs, wat jy net met jou eie aktiewe betrokkenheid deur seks en bloedkontak soos met naalde opdoen. Die onskuldige hoesie van ‘n kollega, klasmaat of bedelaar kan jou vang in ‘n bus, trein, teater, winkelsentrum, in die supermark se betaalry, in die klaskamer, ‘n banklokaal, ‘n wagkamer – enige plek waar jy verkoue sou kon opdoen.
Die nuwe GeneXpert-toets diagnoseer TB nou binne twee uur. Jy kan binne twee weke veilig wees.
Daar is ongelukkig báie TB-lyers van wie mense in sekere beroepe kan aansteek: Ons woon in die land met die tweede hoogste TB-koers in die wêreld, kort op die hakke van Swaziland, en een uit elke honderd het TB in een of ander vorm, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). In party gemeenskappe is die syfers dramaties hoër, soos in die Westelike Provinsie, Natal en in die myngebiede, waar een uit elke vier mynwerkers (239 per 1 000 of 42 000 mense) TB het, sê die Wêreldbank. Die WGO beraam dat daar wêreldwyd drie miljoen mense met ongediagnoseerde TB rondloop – en baie van hulle is in ons land.
TB-lyers het niks verkeerd gedoen nie. Hulle het maar net die kiem ingeasem.
Volgens STATS SA is TB al vyf jaar agtereenvolgens die hoofoorsaak van sterftes in Suid-Afrika. Vir seker speel vigs ‘n rol maar ‘n stewige 30% van mense met TB is MlV-negatief.
Genesing nié vanselfsprekend nie
Dit is waar dat byna almal (95%) van mense met TB gesond word, mits hulle hul medikasie getrou neem. Maar daar is twee probleme: baie los hul pille en raak weer infektief, terwyl die nuwe weerstandige DR-TB’s (drug-resistant TB) nie so geneesbaar is nie. MDR-TB hervat binne twee jaar by 50% van lyers en 40% van die by wie die siekte hervat, sterf – sowat 20%. Drie uit elke vier (73%) van die met XDR-TB is binne vyf jaar ná diagnose dood.
Nog ‘n onstellende nuwigheid: jy kan MDR-TB en XDR-TB direk aansteek. Tot redelik onlangs is geglo dat MDR-TB en XDR-TB net ontwikkel by mense wat hul medikasie vir gewone TB nie getrou gebruik nie. Dit is onwaar. Drié uit elke vier mense met MDR-TB (74%) het dit volgens die WGO as primere siekte opgedoen. Hulle het nóóit gewone TB gehad nie maar MDR-TB direk van iemand aangesteek.
Amptelik is daar in ons land 15 000 mense met MDR-TB en 500 -1 000 mense met XDR-TB. Maar vermoedelik is daar baie meer mense met laasgenoemde soorte TB wat nie opgespoor word nie.
Die eintlike probleem is die mense met XDR-TB – die ongeneeslike vorm. Tussen 300 en 500 mense met aktiewe, ongeneeslike XDR-TB word per jaar uit ons TB-hospitale ontslaan, wys ‘n ondersoek deur prof. Keertan Dheda van die Universiteit van Kaapstad.
Die rede? Daar is ‘n tekort aan beddens. Mense wat ná twee jaar in die hospitaal nie gesond is nie, word ontslaan aangesien daar niks meer vir hulle gedoen kan word nie. Die beddens word liewer afgestaan aan mense wat wel reageer.
Dus: diegene met die heel ergste vorm van TB wat op geen middels reageer nie, word bloot ontslaan. En nie na ‘n veilige heenkome nie, maar terug in die gemeenskap. Hulle oorleef gemiddeld twee tot vier jaar en steek hul kontakte aan met hierdie besonder weerstandige TB.
Volgens ons Departement van Gesondheid kan elke TB-lyer wat infektief is 10 – 15 mense per jaar infekteer. Van 20 – 60 mense kan XDR-TB by elke één ontslaande persoon aansteek – of van 6 000 tot 30 000 mense in vier jaar, as jy die syfers toepas.
Kan jou kind veilig leer en werk?
Volgens dr. Jack Meintjes van Gemeenskapsgesondheid by Geneeskunde, Universiteit Stellenbosch, is die risiko in die opleidingshospitale klein. By Tygerberg-hospitaal kry maar sowat 15-20 personeellede TB per jaar. Maar dit sluit alle studente en kontrak-verpleegpersoneel uit – ‘n geskatte 50% van die personeel en juis die hoërisikogroepe. Nogtans glo hy dié hospitaal bestuur TB doeltreffend.
“Ons personeel het maskers; in sale met potensiële risiko sorg ons vir laminere vloei (lugvloei), en ons personeel word goed opgelei. Daarby is die nuwe GeneXpert-toets ‘n groot uitkoms, want ons kan binne twee uur mense met TB identifiseer en dadelik op medikasie kry. Die probleem is polities: ons land het nie geriewe vir versorging van veral mense met ongeneeslike XDR-TB nie.”
TB Proof glo ons moet TB veral nie stigmatiseer en so ondergronds dwing nie. Mense moet openlik vir toetsing kan gaan, gemaklik wees met hul diagnose, geen veroordeling ervaar nie (onthou, jy doen niks verkeerd om TB te kry nie), goed ondersteun word en aanvaar word in die werkplek omdat jou kollegas die siekte verstaan, weet dat jy jou medikasie gebruik en hulle nie kan aansteek nie en hul eie risiko bestuur.
Miskien is dit waar die kruks lê: In ons land met sy geskiedenis klink isolasie en sanatoriums, waarmee die probleem in die VSA en Europa opgelos is, soos ‘n nuwe vorm van apartheid.
Beskermingstaktiek
Teen die einde van die 1800’s het sewe uit elke honderd Amerikaners aan TB gesterf. Vandag is hulle ver onder die WGO se TB-teikens. Omkeer is dus moontlik, glo Dalene. “Praat maak mense bewus van die risiko’s en help om die stigma en vrees te verdryf. Daarom het ons besluit ons gaan openlik daaroor praat en met TB Proof begin, wat studente en kollegas landswyd inlig oor hoe om hulle te beveilig.” Vandag werk Dalene vir die WGO, en beskou haarself as ‘n TB-aktivis. Volgens haar sal veral die volgende help om die risiko te verminder:
1. Raaimeet die risiko
Jou kind – en jy – kan TB net aansteek van iemand met TB. Probeer dus uitwerk of jul kontakte siek is – mense wat twee weke sonder rede hoes, en skraal is of gewig verloor het. Kyk veral na crèeche-personeel, onderwysers, tuisversorgers, huishulpe en mense by wie hulle een-een ekstra klas of terapie kry.
2. Gooi die vensters oop
Gebruik die feit dat die TB-kiem nie in koue of sonlig oorleef nie, en sorg dat daar altyd ‘n venster of twee oop is om ‘n trek te verseker. Die internasionale riglyn is twaalf lugroeringe per uur – met ander woorde ‘n ligte briesie wat elke vyf minute stoot, suiwer die lug. Die UV-lig in son is net so goed om ‘n vertrek te ontsmet. Dink aan busse, taxi’s, treine, klaskamers, wagkamers, teaters …
3. Dra ‘n masker
In China word kinders van jongs af geleer om maskertjies op te sit wanneer hulle in die openbaar uitgaan, soos wat ons ons kinders leer dat alle soet kinders hul hande was. Maar sal ons maskers dra? Seker nie. Nogtans, as jou kind of jy in ‘n hoërisiko-omgewing moet wees, is ‘n masker ‘n goeie plan. (Nooi gerus unmaskstigma.org om met jul personeel te kom gesels.)
4. Bestuur siekes beter
As jou kind – of jy – in die werkplek blootgestel is, sê TB Proof dat mense met aktiewe TB nié saam met ander gehanteer moet word nie maar dadelik geïsoleer moet word in ‘n plek met goeie ventilasie en baie sonlig, terwyl die mense wat met hulle werk met ‘n N95-masker toegerus moet word. Maak seker jou kind het die basiese beroepsbeskerming.
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |