Kaptein Corné
Deur: Ilse Salzwedel. Foto: Jacques Kritzinger. Artikel uit die Julie 2014 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
In die pas afgelope ‘Survivor’-reeks, was kykers van meet af aan dol op Corné Krige, oud-Springbokkaptein en een van die twee stamme se kaptein. Ons wou by hom weet hoe moeilik die maand op ‘n eiland in die Suid-Chinese see was
Dis nie elke tweede ou wat Springbokkaptein word nie, maar Corné Krige vertel heel beskeie hy is kleintyd kaptein van die rugbyspan gemaak omdat hy verskriklik stout was. “Ek dink die afrigter het gedink dis een manier waarop hulle my kan beheer, en ek het so half per ongeluk kaptein geword.”
Hy het Cravenweek-rugby gespeel vandat hy 13 was, was ook lid van die Suid-Afrikaanse skolespan, en het 39 toetse vir die Springbokke gespeel, 18 daarvan as kaptein. Hy het in 2004 uit internasionale rugby getree, en besit deesdae ‘n maatskappy wat in buitelugreklame spesialiseer. Corné is op 21 Maart 1975 in Lusaka, Zambië gebore. Sy ouers – pa Corrie is ‘n boer en ma Cecilia ‘n onderwyseres – woon steeds daar. Hy en sy boeties is Paarl toe gestuur om daar te gaan skoolgaan, en ná matriek aan Paarl Boys’ High het hy vir ‘n diploma in klein handelbestuur ingeskryf.
“Maar ek het meer rugby gespeel as geswot en nie my kursus voltooi nie,” vertel hy laggend. In 1996 was dit vir die eerste keer moontlik om beroepsrugby te kon speel en Corné het ‘n kontrak met die WP geteken. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Was jy een van daardie talentvolle kinders wat goed was in alles?
Glad nie, ek moes hard werk om enige iets te bereik. Ek het goed geswem en redelik goed gehardloop, maar rugby was my sport, want daarin kon jy wegkom met min vaardighede en ‘n groot hart!
Jy is klaarblyklik ‘n gebore leier, soos ons ook op Survivor gesien het. Vanwaar?
Ek is ‘n derde kind, en het twee ouer broers. ‘n Derde kind moet maar sy eie battles fight.
Wat het Springbokrugby jou geleer?
Ek het baie geleer van myself en mense: hoe om onder druk te reageer, hoe om ‘n span bymekaar te hou as al die elemente teen ons is. Ek het foute gemaak, ja, maar dis baie maklik om op die rusbank voor die TV te sit en spelers te kritiseer. Binne daardie situasie en onder al daardie druk, is dit ‘n gans ander saak.
Uit Survivor kan ‘n mens aflei dat jy ‘n positiewe lewensuitkyk en leierskapstyl het?
Ek was nog altyd so, en glo ook dat mense iemand met ‘n positiewe lewensuitkyk makliker volg. Dis maar hoe ek grootgemaak is, en het ook te doen met my geloof. “n Mens se geloof leer jou om die lewe te vier en dankbaar te wees vir wat jy het.
Het jy dadelik ja gesê toe jy genader is om aan Survivor deel te neem?
Nee, ek het aanvanklik nee gesê. Ek het nie kans gesien om ‘n maand lank weg van my gesin en besigheid te wees nie. Toe praat ek met ‘n goeie vriend wat ek as ‘n mentor beskou, en hy het my oortuig dat dit eintlik baie goed vir my kan wees as ek wel deelneem en eerbaar uit die stryd tree.
Wat mag julle saamgeneem het eiland toe?
Twee kortmouhemde, twee kortbroeke, twee onderbroeke, een langmouhemp en een langbroek. Geen toiletware nie! Tot met die samesmelting van die twee stamme kon ek en Mark nooit tande borsel nie. Ons het onsself in die see gewas, en soms met ‘n lap afgevee wat ons op die strand opgetel het.
Wie was jou gunsteling om te wen?
Eintlik enigeen in my stam, maar seker veral Gena, Graham, Moira, Altaaf of Zavion.
En wie het jou teleurgestel?
Toe Altaaf die rys in die vuur gooi die aand toe hy uitgestem is – juis omdat dit so buite sy karakter was. Wat kykers nie besef nie, is dat jy nie net fisiek nie, maar ook sielkundig afgetakel word en dis waarskynlik die rede waarom Altaaf net ge-crack het. As jy heeltyd honger is en min slaap, gebeur sulke goed.
Vertel van die fisieke ontbering.
Rotte het snags oor ons gehardloop en die muskiete was verskriklik. Ek het snags gesorg dat die vuur aan die gang bly en gereeld opgestaan om nog hout op te sit. Ek het seker so twee of drie uur geslaap, en was soggens skoon duiselig en naar wanneer ek moes opstaan. Maar ek moes net opstaan! Ek glo jy lei deur jou voorbeeld, en ek kon nie vir my stamlede se hulle moet gaan water of hout haal of visvang as ek nie bereid was om dit te doen nie. Hulle het my spottenderwys ‘n slawedrywer genoem, veral as dit by kos kry kom, maar dis wat ons moes doen om te oorleef.
‘Ek besef nou hoe bevoorreg ek regtig is, en kyk anders na mense, veral na mense wat swaarkry’
Wat dink jy van Mark Fish, die ander stamkaptein en oudkaptein van Bafana-Bafana?
Hy het uitstekend gevaar en was ‘n gedugte teenstander. Ons het mekaar voor die tyd geken, maar my siening van hom het baie verander. Ná die samesmelting het ons ‘n blyplek gedeel en baie ure gehad om te gesels. Ek het baie respek vir hom – mense het hierdie vooropgestelde idee oor Mark, maar hy probeer regtig hard om sy lewe om te draai, en dis een van die moeilikste goed om te doen.
Noudat jy op TV sien wat werklik by die verskillende kampe gebeur het, sou jy enige van jou besluite wou verander?
Glad nie. Weer eens, as jy voor die TV sit met ‘n vol maag, is dit maklik om te sê wat jy anders sou doen. Maar daar, in die situasie, dink jy anders. Die druk is geweldig.
Jy het gesê dit was moeiliker as wat jy gedink het. Hoekom?
Om ‘n maand lank geen kontak met jou geliefdes te hê nie, was erg. Op TV lyk dit ook nie so warm as wat dit was nie – soms was dit 40 °C met hoë humiditeit. Kykers weet ook nie hoe min kos ons werklik gehad het nie. Ek het die week voor Survivor nog die Otter Trail Run, een van die moeilikste veldmarathons in die land, saam met Justine gaan hardloop. Ek moes dit nie gedoen het nie, want ek was seker twee kilogram ligter as gewoonlik toe Survivor begin. Op die eiland het ek nog ses kilogram verloor.
Wat het jy die meeste gemis, behalwe jou gesin?
Lekker kos, my bed en sonbril. Die strande daar is verskriklik wit!
Kykers het jou as gunstelingkaptein aangewys. Wat gaan jy met jou prysgeld doen?
Ek sal daarvan vir die kerk gee, my gesin bederf en die res belê.
Wat het Survivor jou geleer, van die lewe en jouself?
Vir seker om die klein dingetjies in die lewe te waardeer. Ek besef nou hoe bevoorreg ek regtig is, en kyk anders na mense, veral na mense wat swaarkry. Om familie te hê by wie jy ná ‘n moeilike dag kan ontlaai is ‘n groot luukse. Op die eiland is dit net jy en jou kop. Ek het nou ook meer empatie en simpatie met bedelaars. Dis maklik om vir so iemand te sê hy kan seker tog iemand se motor was vir ‘n geldjie, maar as jy gedurig honger is en geen energie het nie, is selfs iets so eenvoudig baie moeilik.
Sal jy dit weer doen?
Nie sommer nie. Daar sal iets baie spesiaals op die spel moet wees.
Die man agter die span
Corné woon in Melkbosstrand, en bring ure saam met sy gesin in die see deur, onder meer op sy branderplank. Hy is mal oor bergfietsrenne en het verlede jaar die moordende Cape Epic voltooi. “Ek hou van goed wat jou uithouvermoë toets, en vanjaar hardloop ek en Justine weer die Otter.”
Hy en Justine is al twintig jaar saam, en het drie kinders. “Sophia, die enigste dogtertjie, is die oudste en nou nege. Dan is daar twee seuns, John (7) en Peter (5).”
Die heel lekkerste plek op aarde is sy huis, omring deur sy gesin. “Ek is ook lief vir die Luangwa-vallei in die ooste van Zambië, naby die grens met Malawi. Ons het elke jaar daar gaan jag toe ek ‘n kind was.”
Hy verpes mense wat glo hulle geld maak hulle belangriker as ander mense. En wat laat sy hart warm klop? “My gesin, en om ‘n goeie daad te doen vir iemand wat dit regtig nodig het.” (Een van ons redaksielede het juis vertel hoe baie moeite Corné in sy dae as kaptein gedoen het om te sorg dat die hele Bokspan ‘n vriendin se sterwende seuntjie in die hospitaal besoek.)
Hy lees graag boeke wat sy lewe kan verryk. “Goed soos The Outliers deur Malcolm Gladwell en The Monk who sold his Ferrari, deur Robin Sharma.”
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |