VERSLAAF? Wie? Ek?
Deur: Salomé Delport. Artikel uit die Februarie 2014 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Pynpilverslawing word vroueprobleem genoem, want die meeste verslaafdes is vroue van 35 -55- vroue soos ek en jy…
As Susan (sien kassie hieronder) se woorde ewe goed jou eie kan wees, is hier nuus vir jou: jy is waarskynlik aan morfien verslaaf … of sterk op pad soontoe.
Hoekom ek pynpille nodig het
“Ek het baie werkstres. En dit gee my hoofpyn. Daagliks. En daarvoor mag ek sekerlik ‘n pynpil drink? Een help nie. Ek het minstens twee nodig. Drie werk gouer. Ek het altyd twee pakkies – een in my handsak en een by die werk. Die pille raak so gou op en dan sit ek met hoofpyn en kan nie konsentreer nie. Vanaand slaap ek sleg en more raak ek verder agter met my werk. Dus stap ek nie by ‘n apteek verby sonder om aan te vul nie. Vir in geval… My kinders weet al as hulle dokter toe gaan, moet hulle sommer vir Ma ekstra pynpille op voorskrif kry. Spesifiek van daardie sterkes, want dit is al wat regtig help” Susan van Wyk, hospitaal/aboratoriumbestuurder
Nog ‘n nuusbrokkie: Die splinternuwe Codein Care Initiative het in Januarie in werking getree. Waar jy ook al jou kodeïen koop – by ‘n apteek, resepterende dokter, kliniek en hospitaal – gaan dit via jou ID op hierdie nasionale register wys. Jou kodeïen gebruik gaan voortaan gemonitor word en indien jy meer as 4 g per maand gebruik, sal die apteker jou vir pynpil afhanklikheid moet verwys.
Verslaafdes gaan voor Junie met leë hande by die apteek uitstap. Darem nie heeltemal nie. Jy kan iets anders kry, soos ‘n skoon aspirien, parasetamol of NSAID. Maar bôkkerol van die dosyne ander pynpille met kodeïen as basis.
Wat is hier aan die gang? Word jy jou regte ontsê?
Drugwise-konsultant vir die SA Farmaseutiese Vereniging, David Bayever, vertel dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Suid-Afrika 49ste plaas uit byna 200 lande met die hoogste kodeïen gebruik, en waarsku ons om ons sake mooi agtermekaar te kry. Of anders ….
Eintlik weerspieël ons posisie nie eens wat werklik hier aan die gang is nie, want ons het betreklik min mense. Vir die WGO is dit duidelik dat ons kodeïen gebruik handuit ruk. Heeltemal te veel van ons is aan pynpille verslaaf.
Dit is waar, sê Tertius Cronje van die SA Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels (SANRA). “Die WGO sê sowat 36 miljoen mense wêreldwyd is aan kodeïen pynpille verslaaf. In ons land is een uit elke vyf mense op ons staat se dwelmrehabilitasie programme aan kodeïen verslaaf, meestal saam met ‘n ander dwelm soos drank of heroïen.
“Vir baie is kodeïen die intreedwelm, waarna hulle oorskakel na sy ouboetdwelm, heroïen, wat byna dieselfde ding is.”
Dit is skokkend om te dink dat gewone mense soos ek en jy ons breine ontvankliker vir heroïen maak deur doodeenvoudig ‘n paar pynpilletjies vir iets soos spanningshoofpyn te drink. En so onskuldig en onbepland dwelmslawe kan raak.
Jou brein sê: Sjoe, dit werk goed. Kyk hoe lekker voel jy nou
Is dit n egte verslawing?
“Ja, omdat kodeïen net soos morfien en heroïen werk. Al verskil is dat jy kodeïen wettig in enige apteek kan koop.”
Kodeïen, morfien en heroïen bind op dieselfde opioïed-pynreseptors in jou brein. Wanneer hulle beset is, stel jou liggaam dopamien vry wat die pyn stil. Maar dopamien laat jou ook energiek, ontspanne en eufories voel, wat nie te versmaai is terwyl jy olik is nie. Namate jy herstel, het jy nie meer die pynverdowende uitwerking nodig nie maar nou mis jy die aangename, ontspanne gevoel. Jou brein “weet” hoe om dit terug te kry: smag na kodeïen.
Hoekom dan nie maar kodeïen heeltemal verbied nie?
David verduidelik: Mense verbeel hulle nie net dat kodeïen pyn verlig nie. Dit is uitstekend – die beste middel op die mark vir pyn, koors en selfs vir die verligting van die simptome van ernstige siektes, soos vigs. Kodeïen is ook goedkoop, en in ‘n armer, ontwikkelende land wil jy dit juis vir mense bekostigbaar maak om na hulself te kan omsien. As ons dit ‘n voorskrifmedikasie maak, moet mense deur ‘n dokter werk en dan raak dit te duur. Ter wille van toeganklikheid moet ons die prys laag hou. Maar so word dit ook ‘n goedkoop dwelm. Die kwessie moet dus bestuur word sodat pynlyers hulp het en potensieel verslaafdes terselfdertyd beskerm word.
“Kodeïen is net soos drank: goed en reg op sy tyd. Dis immers net sommige mense wat verslaaf raak. Ons hoef nie pynpille ter wille van die minderheid te verbied nie maar ons kan ook nie hul belange ignoreer nie. Daarom die nasionale register.”
Durf jy as ma nog jou kind ‘n pynstropie gee?
Hoe maklik raak jy aan kodeïen verslaaf?
“”n Pynstropie of enige ander kodeïenpynpil vir ‘n paar dae of af en toe, is veilig en uitstekend vir pyn. Vir kinders ook.
“Die mense wat verslaaf raak, gebruik pynpille lank aaneen – hulle is byvoorbeeld na ‘n operasie vir langer as drie weke op pynpille, wat lank genoeg is om die brein ‘n voorkeur vir kodeïen te laat ontwikkel.
“Die probleem kom wanneer hulle ophou sodra die operasiepyn weg is. Pyn is toevallig een van die onttrekkingsimptome wat jy gaan ervaar as jy ophou om kodeïen te gebruik. Jou brein se dus vir jou: jy het pyn, drink ‘n pynpil. En drink jy die pynpil, se jou brein: sjoe, dit werk goed. Kyk hoe lekker voel jy nou. En so begin die bose kringloop.”
Daar is nog ‘n kwessie: jou gene. Sowat tien jaar gelede is vasgestel dat mense met baie CYP2D6-aktiwiteit kodeïen supervinnig verwerk en in reuse-hoeveelhede morfien omskakel. Vermoedelik raak hierdie mense makliker as ander aan kodeïen verslaaf.
Tot 15% van Afrikane is supervinnige metaboliseerders, teenoor net 1% van Chinese.
Wat as jy verslaaf is?
lets wat so veilig is dat jy dit sonder voorskrif kan kry, en jou boonop kan help ontspan en beter laat slaap, klink so onskadelik soos ‘n glasie wyn met aandete.
Van die jare tagtig af is kodeïen as veilig beskou en het dokters dit al hoe makliker vir al hoe langer voorgeskryf – tot daar opgemerk is dat kodeïensterftes en -verslawing toegeneem tot 20 000 mense elke jaar – net in die VSA.
Die publiek en selfs dokters onderskat hoe ernstig die verskuilde risiko’s is, verduidelik David.
“Ons dink dit moet onskadelik wees, want ons het dit mos in ‘n apteek gekoop. Maar omdat kodeïen verslawend is, smag jou liggaam na al hoe meer en oordosering word ‘n toenemend groter risiko. Te veel onderdruk jou asemhalingstelsel. Dit is juis hoekom dit ‘n uitstekende hoesonderdrukker is. Die probleem? Jy kan ophou asemhaal en sterf.
“Kodeïen veroorsaak ook kognitiewe skade (jy raak onsamehangend, vergeet, voel vaag en konsentreer moeilik). Dit onderdruk jou seksuele kant en is veral berug daarvoor dat dit ontsettende hardlywigheid veroorsaak.
“Vandag weet ons hoe langer jy kodeïen gebruik, hoe minder help dit. Boonop raak gebruikers hipergevoelig vir pyn. Hoe langer jy kodeïen gebruik, hoe meer pyn het jy.”
Hoewel korttermyngebruik beslis pyn baie goed verlig, is daar min bewyse dat dit op lang termyn help – en baie bewyse dat dit jou skade doen.
Gestel jy klou reeds sterk vas aan jou kodeïenskop?
Dan is dit tyd om te stop, sê Tertius. Jy kan geleidelik stop of doodstop. Hoe langer en hoe groter die hoeveelhede wat jy gebruik het, hoe intenser is die onttrekkingsimptome. Jy kan ook jou dokter vra om iets voor te skryf om jou oor die ergste onttrekkingsimptome te help.
“Die onttrekkingsimptome is nie doodsake of lewensgevaarlik nie maar lekker is hulle ook nie. Jy kan enige van die volgende verwag: min eetlus, bewerigheid, sweterigheid, diarree, maagkrampe, naarheid, spierpyn, gapery, ‘n loopneus, ‘n toe neus, kwyling, vinnige asemhaling en/of hoendervleis.
Waarskynlik sal dit die angs, geïrriteerdheid, algemene verwardheid en ‘n smagting na jou gewone pynpilverligting wees wat jou die ergste vang.
“Hou net uit. Dit gaan verby. En as jy regtig vasbrand, help ons by SANRA graag,” sê hy.
Jy kan verslawing oorwin
Vasgeval? http://turntohelp.co.za verduidelik hoe jy jouself kan help. Of kontak sanra by http://sancanational.org of 0861 472 622
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |