Ek het ‘n Baba geskenk
Deur: Salomé Delport. Foto: Gallo Images/Gett Images. Artikel uit die Oktober 2013 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Hoe sal jy voel as jou dogter praat van haar ova skenk vir geld en ‘n vakansie? Twee jong meisies vertel ons hoekom hulle dit gedoen het
Sag. Bokkie-oë met lang, lang wimpers. ‘n Oop gesiggie met ‘n inkennige glimlaggie. Jy voel of jy haar ‘n moederlike drukkie kan gee.Maar mense loop nie sommer oor haar nie, sê sy.
“Ek was altyd ‘n stiI enetjie. My onderwysers op Wellington sou gedink het ek is die laaste een wat dit sou waag. My draaipunt het op 16 gekom. My ma was Namibië toe en terwyl ek een oggend in die had lê, hoor ek glas breek en besef hier is ‘n inbreker in ons huis. Ek het dadelik geweet wat om te doen: ‘n handdoek omgebind, kombuis toe gehardloop, die grootste mes gegryp wat ek kon kry en op die inbreker afgestorm. Ek het so gegil en hom so verwoed aangeval dat hy ná ‘n paar minute weggehardloop het. Hy was groter en sterker as ek maar ek het gewen. Van toe afweet ek hier diep in my ek kán.”
Sterk genoeg dat die 24-jarige op 1 Julie ‘n ovaskenking gedoen het. Einde Maart 2014 gaan ‘n Australiese egpaar ‘n baba kry wat in werklikheid halfpad dié jong vrou s’n is.
Die meeste jong meisies van skenkerouderdom is nogal versigtig. Hulle is bang vir gesondheidsrisiko’s; wonder oor hoe erg dit gaan wees; of dit hulle ‘n ma maak – een wat haar kind weggegee het. Ander mense maak opmerkings soos dat hulle opportuniste is wat net dollars raaksien; dat hulle met hul gesondheid speel.
“Vir hulle het ek net twee woorde: ‘educate yourself.” Andrea kyk my vierkant in die oë.
Nou vertel dan vir ons wat dit regtig behels.
‘Aan die begin hét dit vir my oor die geld gegaan – dalk vir baie ander meisies ook. Ek was toe al vier maande werkloos en ek het skuld gehad wat ek móés betaal. Maar die proses verander jou.
50% van jou menswees word deur sosiale invloed bepaal en 50% is geneties – 25% van elke ouer. Jy kan sê skenkerbabas is 75% hul ontvangerouers s’n.
“Later, as jy daarmee begin, dink jy aan jou risiko’s. Jy wil weet jy is gesond en niks ergs gaan met jou gebeur nie. En dan, as iemand jou kies en jy hoor hul storie, besef jy jy is deel van iets wat baie groter as die geld is. Ek weet nou aan die ander kant is ‘n vrou wat bitter graag ‘n kind wil hê maar nie haar eie eierselletjies het nie en daaromi nóóit ‘n eie kind kan hê nie – tensy sy iewers eierselletjies kry. Dit is iets wat ek het om te gee.
“Nou ná die tyd, voel ek goed oor my skenking. Eintlik is ek trots op myself. Ek het regtig iets great vir iemand anders gedoen. Eintlik vir drie mense – daardie gesin wat ék help begin het.”
Waar begin jy?
“‘n Vriendin van my het ‘n skenking gedoen. Ek het haar oor alles uitgevra en toe die agentskap gekontak deur wie sy gewerk het. Daar is aan die een kant die agentskap wat jou werf en keur en aan die ander kant die (fertiliteits)kliniek wat die mediese deel doen. Keuring beteken basies dat hulle jou uitvra oor jou hele familie, met vrae oor van hartkwale, kanker, depressie en ander siektes, en oor jou persoonlikheid, lewenstyl en belangstellings.
“Die kliniek kyk na jou gesondheid jou bloeddruk, bloedtoetse en so aan. Jy spreek ook ‘n sielkundige wat wil seker maak jy is emosioneel bestendig.
“Die agentskap sit jou profiel op hul webwerf, waar jy van jouself vertel. Jy kies ‘n foto van jou as kind waarvan jy baie hou en beskryf jouself soos jy nou is – hoe jou oë lyk, waarvan jy hou, watter stokperdjies jy het… Hulle wys jou profiel aan pare wat soos jy lyk en wat hou van die dinge waarvan jy hou. En dan wag jy maar tot iemand jou kies.
“Ek hou daarvan dat ek óók kies aan wie my profiel gewys word, soos aan net plaaslike of net oorsese mense, of aan egpare wat ongetroud, gay is, van ‘n ander nasie, land of geloof as ek is of nie. Ek kon selfs kies of ek aan ‘n enkelvrou sal skenk. .As mense jou kies, het jy steeds die reg om te sê of jy kans sien of nie.
“Die vrou wat my gekies het, het vir my ‘n briefie geskryf om te vertel van hul lewe. Sy’s ‘n laerskoolonderwyseres, hulle woon by die see en hulle het ‘n hond. Sy klink gaaf en ek hou van die dinge wat sy skryf oor die manier waarop sy hierdie baba wil grootmaak. Sy het ook verduidelik sy het byna geen eie ova nie, wat gewone vrugbaarheidsbehandeling uitskakel. Ek weet ek help opregte mense.”
Hoe dit voel
“Ek het ‘n bietjie soos n klein olifantjie gevoel. Jou maag swel op en my borste het so groot geword dat ek nuwe bra’s moes koop. Dit was aan die een kant so seer, maar toe hulle weer gewone grootte is, het ek gedink ag nee, nou is hulle weg!
“Verder was ek skielik baie bewus van reuke soos knoffel en vis, asof ek in ‘n mini-swangerskap is.
“Ek is op die Pil en moes dit ná menstruasie los. Dan begin jy met die medikasie vir superovulering – ‘ n inspuiting op jou maag wat jy maklik self soggens doen. .Jy word elke tweede, derde dag ge-scan om te kyk hoe die ova ontwikkel. As hulle groot genoeg is, gaan jy kliniek toe waar die eiertjies geneem word. Ek was onder twilight-verdowing en onthou niks nie, maar dit is soos ‘n ginekologiese ondersoek. Ek was die aand ‘n bietjie seer, asof jy gekneus is. Ná ‘n paar dae menstrueer jy en gaan terug op die Pil. Dan is alles net soos voorheen.”
Emosies en etiek
Hoe voel jy agtema?
“Goed. Ek het iets vir iemand beteken. Ek het 52 eiertjies kon skenk, teenoor die gemiddeld van twintig. My ontvanger sal beslis kan swanger word.
“Mense vra of ek nou soos ‘n ma voel. Maar nee, glad nie. Dit is soos om bloed te skenk. Die eiertjies sou in elk geval nie babatjies geword het nie. Jou liggaam gooi mos elke maand ‘n paar af, saam met menstruasie. ‘n Eiertjie op sy eie is ook nie lewensvatbaar nie. Ek was maar net ‘n tool om iemand te help. “Ek sal weer. Ek voel meer méns.”
Nog ‘n skenker vertel
“Ek het drie keer hier geskenk. Ek reageer elke keer oukei. Volgens Wet mag ek vir ses live births skenk. Dus het ek nog drie kanse oor. Natuurlik wil ek dit optimize, en daarom gaan ek volgende keer Indië toe. Ek hoop op Desember. “Ek kry daar $2 700. Plus ‘n all paid-vakansie van sestien dae – die visakoste, die kaartjie soontoe, blyplek in ‘n nice hotel met twee etes elke dag. Plus die geld word vooraf vir my op ‘n kaart gesit sodat ek spending money daar het. Plus ons is ‘n groep van tien tot twintig meisies. Ons moet almal op die Pil wees en gesinchroniseer wees sodat ons tegelyk reg is vir die behandeling. Daar moet ons net elke tweede dag kliniek toe gaan vir ‘n scan om te sien of atles reg is en die een dag vir die skenking opsysit. Die res van die tyd is ons vry. “Ons het elke ses maande ‘n saamkuier. Ek was by die Kaapse een in Willowbridge. Die meisies wat ek ontmoet het, vertel net hoe nice dit was. Nog ‘n plus: as ek iemand voorstel en sy word ge-match kry ék R1 000 referral fee.”
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |