Nie vanaand nie, Skat
Deur: Mariette Snyman. Artikel uit die Julie 2013 weergawe van Rooi Rose Tydskrif.
Geen vrou is oral en altyd in die bui vir seks nie. Maar wanneer is dit ‘n normale gebrek aan belangstelling, en wanneer ‘n ernstiger toestand wat spesiale aandag verg?
Dis nou maar eenmaal so dat mense verskil. Selfs verhoudingsmaats wat gek is na mekaar word op verskillende tye honger of dors. Soms slaap die een onder ‘n snoesige duvet, terwyl die ander die waaier bo die bed op volle krag stel.
Kom dit by seks, kan sake ingewikkeld word. Mense praat dikwels nie so spontaan oor seks soos oor die aanvoelbare temperatuur nie. Kwessies soos begeertediskrepansie – wanneer een maat ‘n hoër libido het as die ander – kom algemeen voor, maar word nie noodwendig gemaklikbespreek en opgelos nie. Ondanks die talle grappies oor mans wat deurentyd “gereed is” en vroue wat gereeld “hoofpyn het”, behoort die laer libido nie altyd aan die Eva nie.
Maar hierdie artikel handel spesifiek oor vroue wat seks vermy. Die groot vraag is: wanneer is dit normaal dat ‘n vrou vermydingsgedrag toon, en wanneer is daar gewigtiger faktore op die spel?
“Normaal” is ‘n moeilik definieerbare begrip. Wanneer verhoudings byvoorbeeld gemeet word aan die boodskappe wat die media oordra, lyk dit dalk vir paartjies of die res van die wêreld hulle gate uit geniet terwvl daar maar min aksie in hul slaapkamer is.
“Ons verwagtinge is dikwels onrealisties,” sê dr. Elna Rudolph van Pretoria, kliniese hoof van MySexualHealth.co.za: ‘”n Onlangse navorsingstudie wat ses duisend mans in vyf lande betrek het, het onder meer vasgestel hoeveel van die mans graag een of meer keer per week seks wil hê. Meer as tagtig persent van die mans het bevestigend geantwoord. Toe hulle gevra is wie van hulle die voorafgaande drie maande een of meer keer per week seks gehad het, het net 13% ja gesê. Die ideaal en die werklikheid stem dus nie noodwendig ooreen nie.”
Daar is altyd redes vir hierdie situasie. Hoekom sou ‘n vrou die man wat sy liefhet seks weier?
Wil hulle of wil hulle nie?
Sienings oor vroulike seksualiteit het deur die eeue ingrypend verander. Dink maar aan die Victoriaanse era, toe vroue in sekere kringe beskou is as wesens vir wie seks hoegenaamd nie aanloklik was nie. Hulle is ernstig aangeraai om tydens seksuele verkeer “op die plafon te fokus en aan Engeland te dink”. (Engeland het groot getalle seuns nodig gehad om sy uitgebreide koloniale besit te bestuur.)
Gelukkigword dit vandag algemeen aanvaar dat vroue seks (mag) geniet. Maar dit beteken nie hulle raak sonder uitsondering opgewonde oor die vooruitsig nie. Enersyds loop die lewe sy eie draaie:
Vroue kan belangstelling in seks verloor na die geboorte van ‘n baba, voor of tydens menstruasie, gedurende menopouse, wanneer hulle van ‘n siekte of operasie herstel, en weens ingrypende lewensgebeure soos die dood van ‘n geliefde, egskeiding, werksverlies, ‘n loopbaanskuif of aftrede. ‘n Gebrek aan privaatheid – soos wanneer ‘n bejaarde ouer by ‘n egpaar intrek – depressie, moegheid, spanning en die newe-effekte van medikasie kan ook seksuele begeerte laat afneem. Verhoudingspanning is ‘n demper van formaat.
‘n Kwessie wat al meer op die voorgrond tree, sê Elna, is dat baie vroue die meeste van die tyd neutraal staan teenoor die gedagte aan seks. “In die jare sestig en sewentig is ‘n vrou wat nie gereeld aan seks gedink het, of ‘n spontane behoefte daaraan gehad het nie, as abnormaal beskou. Wetenskaplikes het aanvaar dat mans en vroue in hierdie opsig min of meer eenders gerat is.
Geen vrou hoef die res van haar lewe onaangename seks te verduur nie
“Nou weet ons dis selde die geval. Vir die meeste vroue moet verskeie legkaartstukke reg val om aanloklike prentjie te skep. Die konteks moet reg wees, sy moet op ‘n sekere manier gestimnleer word en sy moet die stimulasie biologies en sielkundig prosesseer. Dan eers ontwikkel sy ‘n seksuele behoefte wat tot opwekking kan lei.
“Dis vir talle vroue ‘n verligting om te hoor dis normaal om in ‘n neutrale rat te begin en stadig aan die gang te kom. Die aanvanklike neutraliteit beteken nie daar is fout met jou nie. Jy moet wel bekommerd word as jy nooit lus het vir seks nie en dit vir jou onaangenaam is. Dan beweeg ons op die gebied van seksuele aversie. Ek sien gereeld vroue met hierdie toestand en dikwels het hulle nie ‘n naam daarvoor nie. Hulle glo dalk net hulle het ‘n lae libido.
“Ons kan die beeld van sjokolade gebruik om die verskille te illustreer. Party mense sal enige tyd. dag of nag, sjokolade eet. Ander kry soms lus daarvoor. Ander is nie dol daarop nie maar sal wanneer sjokolade na ‘n spesiale ete bedien word, vir die geselligheid ‘n Lindt-balletjie eet. ‘n Laaste groep word nooit lus daarvoor nie en kan selfs aardig voel wanneer hulle aan sjokolade dink. Dis die ekwivalent van vroue met ‘n versteuring. Hierdie vroue sê graag as hulle nooit weer seks hoefte hê nie, sal hulle sielsgelukkig wees.”
Die kenmerke van seksuele aversie is – afgesien van ‘n gebrek aan begeerte – wees, afkeer, walging of selfs angsaanvalle wanneer seks, veral genitale kontak, ter sprake is. Mense wat so voel, sal so ver moontlik situasies vermy wat op seks kan uitloop: op ander tye as hul maat bed toe gaan, ekstra ure by die werk deurbring, of hulself doelbewus minder aantreklik maak.
“Hierdie toestand is ‘n fobie,” beklemtoon Elna. “Vroue wat hiermee wroeg, is bang. Seks freak hulle uit. Baie van hulle dissosieer wanneer seks begin – dis asof hulle narkose kry. Hulle kan dit nie verdra om in die oomblik te wees nie. Agterna voel hulle aaklig oor wat gebeur het. En as hulle vanweë die fisieke stimulasie ‘n orgasme kry, ontstel dit hulle nog meer.”
Oorsake
“Daar is altyd redes vir hierdie situasie. Hoekom sou ‘n vrou die man wat sy liefhet seks weier? Die algemeenste oorsake is slegte ervarings uit die verlede, pyn, of ‘n problematiese verhouding. Die goeie nuus is dat dit omgekeer kan word. Geen vrou hoef die res van haar lewe onaangename seks te verduur nie.
“Slegte ervarings sluit verkragting, seksuele molestering en ander ontstellende gebeure in, veral rondom haar eerste seksuele ervaring maar ook in ander tydperke van haar lewe. ‘n Pasiënt sal byvoorbeeld vertel hoe haar oupa kleintyd aan haar borste gevat het en nou kan sy dit nie verdra wanneer haar man dit doen nie. Iemand anders onthou hoe sy mans in haar twintigerjare toegelaat het om aan haar vulva te raak. Sy het nie die moed van haar oortuiging gehad om te sê: ‘Ek hou daarvan as ons vry, maar ek wil nie hê jy moet aan my geslagsdele vat nie.’ Weens vrees vir kritiek kon sy destyds niemand in haar vertroue neem nie en nou, na tien jaar van getroude lewe, het sy seksuele aversie. ‘n Vrou wat op sewe gemolesteer of verkrag is, kan op veertig ‘n aversie ontwikkel.”
Fisieke pyn tydens seks kan vanselfsprekend tot ‘n fobie lei. “Vaginisme, die onwillekeurige sametrekking van die pelviese vloerspiere wat seks pynlik en penetrasie dikwels onmoontlik maak. is nog ‘n aanleidende oorsaak. Maar daar is vroue met vaginisme wat nie ‘n afkeer aan seks het nie. Vaginisme kan met behandeling genees word.
“Wanneer ek ‘n vrou met ‘n weersin in seks sien, vra ek: ‘Hou jy van jou man?” Soms is die verhouding sleg, maar die vrou sien nie kans om die waarheid in die oë te kvk nie. ‘n Vrou sê man kom byvoorbeeld dronk tuis en wys geen liefde of toegeneentheid nie. Volgens haar waardestelsel is seks die uitdrukking van liefde en teerheid. Dis verstaanbaar dat sy innerlike konflik rakende seks met horn sal beleef.”
Die behandeling van seksuele aversie verskil van geval tot geval. “Wanneer iemand my kom spreek, bepaal ek in watter mate dit ‘n sielkundige, fisiologiese of verhoudingsprobleem is. Ons benader dit multidissipliner deur kognitiewe gedragsterapie, die sintuiglike fokustegniek waar maats mekaar weer sensueel leer ken en geniet, en so meer. Ek is passievol oor hierdie saak en wil vir vroue wat reeds by dokters of terapeute was en moes hoor daar is niks fout met hulle nie, sê: kom ons kyk saam ‘n oplossing!”
Meer inligting by 012 8096048, elna.rudclph@aintercare.co.za of www.MySexualHealth.co.za
Hierdie vroue se graag as hulle nooit weer seks hoefte he nie, sal hulle sielsgelukkig wees
Bestuur dit
Dis ‘n gegewe dat die meeste vroue dikwels neutraal staan teenoor seks. Maar vroue kan hul sekslewe slim bestuur – tot hul eie sowel as hul maat se voordeel, sê dr. Elna Rudolph. “As jy weet dat jou maat, en dus jul verhouding, baat vind by seks twee keer per week, kan jy dit een keer per week inisieer op ‘n tyd wat jou pas. Jy sal nie noodwendig lus voel nie, maar nou weet jy mos dat neutraliteit in opwekking kan oorgaan. Daar is niks verkeerd met maintenance seks nie, veral as jy op die nieseksuele belonings soos nabyheid en ‘n gevoel van koestering konsentreer.”
‘n Algehele Ommeswaai
‘n Gautengse hoërskool-onderwyseres, Mari van Staden(28), vertel van haar pad met seksuele aversie:
- ‘”n Ouer persoon het my seksueel gemolesteer vandat ek baie klein was. Ek het nooit vir iemand vertel nie, al het ek ‘n goeie verhouding met my ouers gehad. Ek het intuïtief geweet dis verkeerd. Toe ek twaalf was, het ‘n seksvoorligtingvideo by die skool my laat besef wat aan die gang was. Ek het dit dadelik stopgesit, maar die skade was gedoen.
- “Molestering maak jou seksueel vroeg ryp. Ek het op 15 die eerste van verskeie verhoudings gehad wat seks ingesluit het. Ek het klokslag die verhoudings verbreek omdat ek nie meer vir die seks kans gesien het nie.
- “Toe ek my man, Abrie, ontmoet, het ons ook saamgeslaap. In ‘n stadium het ek hom vertel ek hou nie werklik van seks nie. Hy kon nie verstaan dat iemand dit nie geniet nie, maar was bereid om daarmee op te hou. Ons is weer gedoop en het ‘n belofte gemaak om tot ons huweliksnag van seks af te sien. Ons het twee jaar saamgebly, maar nie seks gehad nie. Ek het die Here gesmeek om intussen die probleem op te los. Abrie wou hê ek moes iemand gaan spreek, maar ek het botweg geweier. Ek was opgewonde oor ons troue en wittebrood.
- “Die honeymoon en die tyd daarna was toe nie ‘n sukses nie. Ek het woedend geword as Abrie seks wou inisieer – as ek kon, sou ek hom geslaan het. Hoewel ek soms om sy onthalwe toegegee het, was dit baie swaar. Abrie het dit met groot geduld hanteer, maar ons huwelik het op die rotse beland. Ek het eindelik geestelike berading gekry en ‘n lang pad gestap om die molesteerder te vergewe, maar my fisiologiese probleem was nie opgelos nie. Toe het ek dr. Elna Rudolph gaan spreek. Ek het gesê ek wens sy kon my brein reroute. Hierdie ding moes end kry.
- “Ek het Elna van die molestering vertel en toe sê sy die woorde wat álles verander het: ‘Maar jy het dit geniet.’ Sy het verduidelik hoe die molestering verband gehou het met my seksuele ontwikkeling op daardie ouderdom. My kop het geweet dis ‘n siek spul, maar vir my liggaam was dit lekker aandag. Dis hierdie innerlike konflik wat my uitmekaargeskeur het. Die oomblik toe ek dit insien, het alles in plek geval.
- “Die Pil wat ek gebruik het, het my libido verder onderdruk. Elna het dit gestaak en binne drie dae was ek ready to go. Om seker te maak, het ek ‘n sielkundige gaan spreek wat in hipnoterapie spesialiseer, maar die genesing was reeds daar. Eindelik was my kop en lyf op dieselfde bladsy.
- “Hierdie ingreep het my huwelik met die wonderlikste man gered. Ek sou van hom geskei het sodat hy ‘n normale lewe kon hê, en ek sou alleen moes oud word. Met hierdie vertelling sluit ek nou hierdie hoofstuk in my lewe af. Ek hoop ander vroue wat hierdeur gaan, sal besef hulle is nie alleen nie.”
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |