‘n Sinsbeneweling
Deur: Martie Pansegrouw. Fotos: Henda Heyneke, Faan Pansegrouw en Adrie Smit. Artikel uit die Februarie 2013 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Dalk ‘n bietjie vervalle en effe verwaarloos, maar hoe meer jy van Buenos Aires sien, hoe groter word die stad se bekoring. En steeds hang Evita Peron se nagedagtenis soos ‘n wierookgeur oor die Argentynse stad.
Ek snak na my asem toe ek nou die dag lees Buenos Aires is oorstroom. Die beeldskone stad is nog vlak in my geheue, en dis moeilik om te glo dat dit binne enkele dae soveel kon reën dat byna drie duisend mense na skuilings verskuif moes word.
Daar was wel volop water en dit het ligweg gereën toe ek onlangs saam met ‘n groepie rooi rose-lesers in die stad aankom. Buenos Aires is aan die oewer van die reuse Rio de la Plata (rivier van silwer), geleë. Die belofte van die mitiese rykdom waarna die naam verwys, het nooit gerealiseer nie, maar die stad wat aan die oewer van die rivier nestel, het ‘n besonderse bekoring. Die rivier, tussen 2 km tot 220 km breed, is die breedste ter wêreld en dien ook as skeiding tussen Argentinie en Uruguay. Uit jou vliegtuig sal jy oor die massa water uitkyk en oortuig wees dis die Atlantiese Oseaan wat onder jou lê.
Maar dis nie al water nie. Digby die stad vloei ook die Parana – hoewel die mense wat hier op die oewer bly darem vir oorstromings ingerig is. Die geboue in hierdie Tigre-delta is op pale gebou en hulle gebruik watervervoer: skoolbusse, taxi’s, groentewinkels, melkaflewerings, alles, geskied via bootjies en groter vaartuie. Die huise is effens verweer maar die omgewing is idillies mooi, en dis asof die inwoners permanent met vakansie is.
Om vandag se Buenos Aires te verstaan moet jy weet dat die vroeë 20ste eeu ‘n bloei-tydperk ingelui het. Argentinie het toe sy hoogtepunt as internasionaal gerekende moondheid bereik. Dwarsdeur die wêreldoorloë het die ekonomie gebloei, aangesien die land neutraal was en finansieel daarby baat gevind het. Die verwerking en uitvoer van landbouprodukte, veral beesvleis, vir gebruik deur sowel die Geallieerdes as die Duitsers het gesorg dat die land ekonomies besonder sterk gestaan het. Daar word beweer dat Argentinie op daardie tydstip die derde grootste wêreldekonomie was.
Die kultuur het dus ook ‘n bloeitydperk beleef, veral die argitektuur, en die stad is vanaf 1880 tot 1947 uitgebou tot een van die mooistes ter wêreld – een wat jou vreemd roer. Die indruk wat die stad nou wek, aan die begin van die 21ste eeu, is die van ‘n eens beeldskone vrou, effe afgeleef en verwaarloos, maar met onverwagse en guitige glimpse van eertydse glorie en die beenstruktuur van inherente karakter en persoonlikheid. Oral vertel dakke en gewels en pragtige oorblyfsels van balkonne en vensters van gegote yster die verhaal van ‘n stad wat Parys en Rome na die kroon wou steek. Hierdie onthutsende tekens van ‘n Europese kultuurerfenis in die hart van Suid-Amerika bly jou opval.
Tussen geboue wat getuig van ‘n rykdom van kunsskatte sien jy hier en daar, sommer in dieselfde strate, ‘n vervalle gebou. Die enigste Harrods buite Londen staan verwese, toe gesluit en in onbruik. En snags slaap daar voor hierdie eens fiere getuies van eertydse glorie mense sonder heenkome, selfs hawelose gesinne met kinders en honde en al.
Van die mooiste geboue ter wêreld staan hier, verteenwoordigend van ‘n wye argitektoniese erfenis, klassiek, art deco, maar veral art nouveau: die Palacio Barolo op Avenida De Mayo en die Paleis van die Lelies van die beroemde Ortega op Rivadaviastraat wat deur Gaudi se werk geïnspireer is. Jy sien dit eintlik dwarsoor die stad in die geometriese, uitdagende fasades soos die Kavanagh-gebou wat bo die barrio van Retiro uittroon.
Busry is maklik, selfs al is jy nie Spaans magtig nie. Jy kry heelwat te siene met dapper en stapper, maar die bus kos maar 2 peso’s (munt, nie papiergeld nie) en die diens is flink en betroubaar. Vra gerus by jou hotel die nommer van die bus wat jy moet haal, anders beland jy soos ons aan die verkeerde kant van die voorstad waarheen jy op pad is. Ons het La Boca, die kleurryke wieg van die stad waar die vroegste immigrante per skip aangekom het, so verken, en ons was baie trots daarop dat ons dit so maklik reggekry het.
Evita Perón se nagedagtenis hang steeds soos ‘n wierookgeur oor die stad. Ons het op Avenida 9 de Julio gebly, ‘n breë straat met agt bane in elke rigting, en haar beeltenis pryk hoog op een van die geboue. Jy hoor en sien heeltyd knypies inligting oor hierdie fassinerende vrou (wat al in 1952 op 33 oorlede is), en haar die lot van die armes, die “Hemploses” (descamisados), soos sy hulle gedoop het, so aangetrek het. Dit het haar meer aristokratiese landgenote die harnas in geja – en tot groot politieke verdeeldheid gelei. Dis nie moeilik om haar in jou verbeelding op die balkon van die Pienk Paleis (Casa Rosada) te sien waar sy skares portenos oorrompel met haar passievolle toesprake nie. Die toesprake het soms ‘n tweespraak, letterlik, tussen haar en haar aanhangers geword.
Ons groepie was emosioneel oorweldig deur ‘n besoek aan die Recoleta-begraafplaas, ‘n massiewe nekropool waar die gesinne van die stad hul dooies al dekades lank in familie- praalgrafte ter ruste lê. Ironies genoeg lê die gebalsemde liggaam van Evita na al haar omswerwinge nou ook uiteindelik in die Duarte-familiegraf van haar broer. Dit het gewemel van toeriste tussen die graftombes en -monumente en jy moet weet waar die graf is om dit te siene te kry.
Koffie by Café Tortoni was iets wat ons net nie wou misloop nie. Die koffiewinkel dagteken uit 1858 en lyk nog grootliks dieselfde. Die mure is behang met foto’s en handtekeninge en boodskappe van beroemdes en berugtes wat al daar gekuier en geluier het, en is werklik ‘n belewenis. Jy is diep bewus van die gang van die tyd en die vervloë glorie-dae van Buenos Aires.
‘n Week is hopeloos te min om die stad hoegenaamd na waarde te skat, maar ek is vas van plan om weer daar ‘n draai te maak. Intussen werk ek aan my wenslysie, lees daaroor en verlustig my in herinneringe van ‘n baie besonderse toer, heerlike belewenisse en reisgenote wat sommer baie diep in my hart gekruip het.
Hoogtepunte
- ‘n Besoek aan ‘n estancia (plaas) met perdry (op ‘n stappie!) of ‘n perdekarrit, ‘n tipiese gaucho-ruitervertoning, heerlike asado (braai), lekker plaaslike wyn en ‘n konsert van tradisionele musiek en sang, natuurlik ook tango, tipiese gaucho– en inheemse danse.
- ‘n Bootvaart op die Parana-rivier ‘n ent op in die Tigre-delta.
- ‘n Besoek aan die San Telmo-straatmark op ‘n Sondag, ‘n allemintige groot antiekmark, ook propvol plaaslike kuns en snuisterye, straatblokke vol daarvan.
- ‘n Uitstappie na kleurryke La Boca, veral Camenitostraat vol stalletjies en restaurante waar die tango sommer op straat gedans word.
- ‘n Tango-vertoning by La Ventana, ongelooflik passievol en meesleurend, met professionele musikante, sangers en dan- sers, iets wat jy nie mag misloop nie. Die ete daarby was ook een van ons bestes in Buenos Aires, en die wyn besonders.
My wenslysie vir ‘n volgende keer
- ‘n Eva Peron-toer
- Tangolesse by ‘n dansskool (milonga)
- ‘n Dagtoer na Montevideo, Uruguay
- ‘n Vertoning by die Colon-operahuis
- ‘n Besoek aan die Nasionale Kuns- museum (MNBA)
- ‘n Besoek aan die Palermo-roostuin (dit was gesluit toe ons daar was)
- ‘n Toer na Carlos Gardel, die beroemde tango-sanger (wat ook die tango in Hollywood verewig het) se geboortehuis en museum.
- ‘n Toer deur die eeue oue ondergrondse tonnels in San Telmo. Dit dagteken uit die koloniale era en is eers onlangs opgegrawe – ‘n soort ondergrondse museum.
- ‘n Reis deur Argentinie al langs roete 40 – op die kaart lyk dit ongelooflik.
Die rooi rose-groep het met SAL gevlieg op ‘n regstreekse vlug van OR Tambo na Buenos Aires. Die toer is deur In Vogue in samewerking met Heyneke Tours gereel. Toeroperateur Gador Viajes het ons verblyf in die vierster-Bristol-hotel gereël.
Kontak gerus vir Heyneke Tours vir toere na Buenos Aires by 011 764 2783, F 011 768 3871, heyneketours(ffitel- komsa.net of www.heyneketours.com
Wat jy moet weet
- ‘n Peso is ongeveer R2, maar dollars is gewild en word oral aanvaar.
- Banke het nie almal Engelse dienste nie, soek vir kaartoutomate met ‘n dollarteken as jy geld wil trek. Die meeste winkels gee groot afslag vir kontant, veral dollars.
- Moenie enige plek geld wissel nie; wees veral versigtig vir taxi’s, hulle is berug vir vervalste note as kleingeld!
- Daar is nie gewelddadige misdaad nie, wel sakkerollers en grypdiewe helder oordag op straat. Wees wakker!
- Hotelgraderings: 4* beteken ‘n goeie, skoon, gerieflike hotel, sonder die luukses wat ons tuis sou verwag, maar verblyf is nie goedkoop nie.
- Tafeldiens is vriendelik, maar tydsaam, en “rare” of “medium rare” is nie ‘n gegewe nie, selfs al bestel jy jou steak so.
- As daar ‘n Engelse spyskaart is, is dit nie outentiek nie, gaan liewer na waar daar slegs Spaans op die spyskaart is. Dis goedkoper en jou vleis word voor jou oë oor kole gaargemaak, selfs op straat.
- Ek sou kon leef van empanadas (elke restaurant of straatverkoper het ‘n kenmerkende pasteitjie, verskillend gevou vir beesvleis, groente, hoender en selfs ander weergawes).
- Tafeldiens sluit brood (nie botter nie), broodstokkies en empanadas in, en jy betaal daarvoor of jy dit nou eet of nie (servicio op jou rekening).
- Ontbyt bestaan uit vrugte, dun jogurt, broodjies (en botter) en snytjies kaas en ham sowel as suikersoetgebak: borde vol van konfyt-tertjies en kaaskoek.
- Die nasionale lekkerny is dulce de leche (karamel soos gekookte kondensmelk), en jy kry dit in vele gedaantes, veral ook by ontbyt. Hul geliefkoosde versnaperinge is alfajores, koekies met karamel gevul.
- Slaaie is soms vreemde kombinasies soos beet en ingelegde aspersies, maar ek het ook die heerlikste Caesarslaai daar geeet.
- Die water is drinkbaar, en jy kan gerus daarmee kook en jou tande daarmee borsel, maar dit lyk bruinerig en mense koop liewer water om te drink, hoewel teen 13 peso’s vir 500 ml redelik duur.
- Vars vrugtesap is onbekostigbaar, maar die plaaslike bier (Cerveza) is lekker en lig en goedkoop. Die plaaslike wyn is heerlik, hoewel nie goedkoop nie! Ons gunsteling was die malbec, veral die Don Cristobal.
- Leerware soos baadjies, handsakke en skoene is baie bekostigbaar en van goeie gehalte, maar kyk eers goed rond voor jy koop.
- Die pragtigste antieke, silwerware en eetgerei is oral te koop, maar ek stel voor jy doen jou huiswerk vooraf sodat jy pryse kan vergelyk.
- Die prys op die produkte is die prys! Die portenos (inwoners van Buenos Aires) knibbel nie graag nie …
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |