Tant Elsie kry op 60 haar heel eerste verjaardagpartytjie
Wat daarvan as jy al 60 is en nog nooit ’n verjaardagpartytjie gehad het nie? Tant Elsie Tromp van Roodewal in Worcester is so iemand.
Maar hiervoor het die gemeentelede van die Ebenezer Baptistekerk ’n plan beraam en min het sy daarvan gewis.
Babs Jaftha, een van die gemeentesusters en die een wat al die reëlings getref het, vertel: “Ek het vir tant Elsie op 28 Februarie (haar verjaardag) gaan optel by haar woonstel in Roodewal. Ek’t vir haar gesê dat ons net gou iets moet gaan optel by Kibbutz El-Shammah.”
Vir Tromp was dit egter die verrassing van haar lewe.
Sy vertel sy het niks verwag toe sy instap by die donker gebou nie. Ewe skielik het ’n groep mense ’n verjaardaglied vir haar gesing en het die ligte aangegaan.
“Ek het dit glad nie verwag nie! Dit was so lekker om my eie verjaardagpartytjie te kan hê. Almal het alles agter my rug georganiseer, dit was werklik spesiaal,” sê Tromp.
“Geld is altyd skaars maar ons het ’n plan beraam. Almal in die Roodewal- en Florianpark-wyk het ingespring en goedjies geborg vir die partytjie. Ek het gevoel dat tant Elsie vir die gemeenskap soos ’n ma is en dit was tyd dat sy bietjie haar eie partytjie kry,” sê Jaftha.
“Ek wil net namens almal in Roodewal en Florianpark dankie sê vir tant Elsie en al haar harde werk in die gemeenskap oor die jare. Sy het ’n merk gemaak in ons almal se lewens en dis waarom ons haar ’n kroon gegee het vir haar verjaardag,” sê Jaftha.
In Elsie se sitkamer hang ’n plakkaat wat lees: “’n Vrou wat die Here dien moet geprys word. Elsie jou waarde is ver bo korale”. Hierdie plakkaat is deur Roodewal Primêr vir Elsie gemaak en volgens Jaftha beskryf dit presies wie sy is.
Source: Worcester Standard News