Sy help jongmense om toekomskeuses te maak
Sy is ’n mens wat nie nee kan sê wanneer iemand vir haar vra om iets te doen nie en sy sal altyd die ekstra myl stap om iemand te help.
Vir Esmarelda Pekeur, ’n entrepreneur van Worcester, is niks te veel moeite nie, veral as dit by jongmense kom.
Esmerelda is Standard se Valleier van die Maand vir Julie.
Sy het vir 20 jaar by die munisipaliteit gewerk en was ook vir vyf jaar die persoonlike assistent van die destydse burgemeester, Linda Sibeko.
Gedurende dié tyd het ouers gedurig aan haar deur kom klop sodat sy met hul kinders oor moontlike beroepe kan praat.
Nooit het sy egter gedink dat dit haar roeping sou word om met jongmense te werk nie.
“Ek sal dan altyd vra: ‘Wie het julle na my toe verwys?’ Hulle sal vir my sê hulle het verneem dat ek mense help registreer. Ek wonder ook dan hoe ek die mense gaan help, maar dan help ek hulle altyd op een of ander manier,” het sy gesê.
Volgens Pekeur het haar besluit om nie haar studies verder te neem nie, haar in dié rigting gestuur.
“Ek het ’n kans gehad om verder te gaan studeer, maar ek het nie. Ek het myself gevra: ‘Ek het dan nou ’n werk, hoekom moet ek nog verder gaan studeer?’ Ek is spyt ek het nie my studies ernstiger opgeneem nie. Dit is een van die redes waarom ek so graag die jongmense help om iets van hul lewe te maak en nooit op te hou leer nie.”
Een van dié mense is Rico Geswindt wat as data-opnemer by die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) werk, waar Pekeur ook as projekbestuurder gewerk het.
“Ek het vir hom gesê as hy hard gaan werk aan sy studies, sal ek vir hom werk gee. Dit is presies wat hy gedoen het en daarna is hy aangestel by die munisipaliteit.”
“Dit is altyd lekker om te sien ek het iemand gehelp en dat die persoon bo sy omstandighede uitgestyg het.”
Sy sê sy weet nie waar haar geneigdheid om ander te help vandaan kom nie.
“Vir my is dit tweede natuur om mense te help. Dit is my leefwyse.”
Pekeur is sedert die inhuldiging van die eerste Junior Stadsraad (JSR) ook daar betrokke.
Sy is ook die spanbestuurder by Breedevallei-jeugkrieket.
“Wanneer ek en die afrigter, Shafiek Jacobs, spelers kies, is daar ’n paar plekke wat ons oophou vir die kinders uit agtergeblewe gemeenskappe wat goed vaar. Ons sal ’n plan maak om daardie kinders te borg met klere, verblyf, toernooifooie en ons gee selfs vir hulle sakgeld.”
Sy het haar eie besigheid, Johnsonspark Internet and Printing, begin om jongmense te help aansoek doen by universiteite.
“Ek sê altyd: As jy die geleentheid kry om verder te gaan studeer of iets van jou lewe te maak, vat dit met albei hande.”
Source: Worcester Standard News