Jong fietsryer g’n bang vir langafstandwedrenne
Met fietsry in haar bloed is Nienke Mostert, graad 8-leerder aan HTS Drostdy, ’n opponent om mee rekening te hou.
Mostert het ’n absolute passie vir die sport en neem deel aan die XCO- (veldwedlope), XCM- (marathon) en XCE- (eliminator) wedrenne.
Mostert staan hoegenaamd nie terug vir haar manlike eweknieë in dié sportkode nie en vaar dikwels net so goed – of selfs beter – as hulle. Sy het onlangs haar Wes-Kaapse kleure in die marathon-afdeling van die sport behaal.
Mostert geniet die langafstand-wedrenne die meeste, juis omdat dit deelnemers se fiksheid so toets. Sy moet ook met hierdie wedrenne ’n konstante spoed handhaaf, al is die roete hóé moeilik.
Mostert se filosofie is om vinnig te begin, vinniger te ry en die vinnigste te eindig. Haar groot droom is om deel te neem aan die Cape Epic. Sy word tans afgerig deur Charl-Pierre Esterhuyse en is deel van HTS Drostdy se eerste fietsryspan. Sy is ook in die Silverback Racing Team.
Source: Worcester Standard News