Oorstelpte Faniswa die wenner van Casino se Open Mic-kompetisie
“Dit voel nog so onwerklik. Ek kan nie glo dat ek gewen het nie.” So het die wenner van die Golden Valley Casino se Open Mic-kompetisie, Faniswa Namanyane, gesê.
Namanyane het die kompetisie beklink en die skare op hul voete gehad met haar verruklike vertolking van Beyoncé Knowles se lied Listen. Sy het nie net die beoordelaars beïndruk nie, maar selfs haar mededeelnemers se harte geroer.
Oor haar optrede het sy aan die Standard gesê: “Ek was baie senuagtig, want ek het nog gesukkel met van die note in die stuk. Maar toe het ek net asemgehaal en ontspan en toe val alles net in plek. Ek het nie vir een oomblik gedink ek sal wen nie, want daar was baie goeie sangers saam met my in die kompetisie.”
Marelize Paulse was in die tweede plek en Cordiël Witbooi het die derde plek verower.
Die kompetisie was só straf dat die beoordelaars besluit het om vyf wenners aan te kondig. “Die deelnemers is almal baie talentvol en vermaaklik. Ek moet sê dit was ’n moeilike besluit, maar een wat aan die einde van die aand gemaak moes word,” het Quinton Manuel, besturende direkteur van Worcester FM 89.2, gesê.
René Scholtz, openbare skakelbeampte en promosiebestuurder, sê: “Die talent in vanjaar se kompetisie was ongelooflik en enigeen en van die deelnemers kon wen. Golden Valley Casino sien definitief uit na volgende jaar se Open Mic-kompetisie. Maar mense kan gerus kom deelneem aan ons karaoke- aande elke Woensdag by die Winners Bar.”
Source: Network24/Worcester News