Leerders sweet om Haas Das op te dollie
Wanneer die meeste kinders op ’n Vrydagmiddag op die bank voor die televisie lê, neem ’n groepie hoërskoolkinders op Worcester die pik en graaf op om die wêreld vir ’n paar kleuterskoolmaats ’n beter plek te maak.
Dié klompie leerders, almal van Worcester Gimnasium, is lede van die President’s Awards-organisasie wat hom daarvoor beywer om jongmense te bemagtig deur dienslewering.
Onder die vaandel van dié organisasie, waarvan die Hertog van Edinburgh die beskermheer is, pak jongmense tussen 14 en 25 reg oor die wêreld heen gemeenskapsprojekte in hul omgewing aan onder die toesig van volwassenes. Die doel is dat dié jongmense nie net hulself leer ken nie, maar leer om die grootmenswêreld te betree.
Hier in Worcester is die organisasie se Gimmie-lede se projek die Haas Das-kleuterskool in Avianpark. Dié skooltjie – wat as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer is – se onderwysers en leerders moet met die absolute minimum klaarkom.
Waar die speelterrein behoort te wees, is net sand. ’n Paar rye groente, geplant deur die getroue Oupa Demas wat twee maal per week inkom, is geplant met saad wat hy daar aangebring het. Vermoedelik uit sy eie sak gekoop, sê Elda Wilskut, prinsipaal van die skool.
’n Splinternuwe toiletgebou met toilette, geskenk deur die Willem von Deden-stigting in Nederland, staan ongebruik omdat daar nie ’n rioolinfrastruktuur daarvoor op die terrein is nie. In die bestaande gebou is slegs een bruikbare toilet elk vir die seuns- en meisiesgroepe.
In dié gebou kom die plafonne ook plek-plek los en klein kindervoetjies hardloop oor kaal sementvloere.
Daar is vier gehawende matrasse vir die altesaam 12 babas waarna die skooltjie tans kyk. Ten spyte hiervan gee die onderwysers by Haas Das hul heel beste vir die leerders met dit wat hulle het.
Dinge was nie altyd so moeilik nie.
“Toe ek in 1985 by die skool begin het, was dit een van die topkleuterskole in die area,” vertel Wilskut.
“Daarom weet ek wat dit kan wees. Ek het ’n sekere visie van wat hierdie skool kan wees. Maar ek kan nou net dankie sê. Ek bid elke aand die gebed van Jabes en ek sien die koms van die kinders as ’n antwoord op my gebede. Hier kom hulle dan en kom speel met die kleintjies, ’n mens kan reeds die verskil sien.”
Wilskut verwys hier na die groep Gimmies wat gekies het om gereeld met die kinders in die kleuterskool te kom speel.
Mari Neethling, die onderwyser wat die dryfkrag agter die projek is, sê elke lid van die organisasie kon kies waar hy by Haas Das betrokke wil raak.
“Sommige van die kinders het gekies om met die kinders te speel, ander kom werk in die groentetuin. Ander gaan help bou aan die nuwe speelterrein. Elke kind moet sy eie inisiatief en kontakte gebruik om planne te beraam om dinge te laat gebeur. Ons staan nie bakhand nie,” sê Neethling.
Een van die leerders wat aan die organisasie behoort, Dané du Plessis, sê sy het by die organisasie aangesluit om haarself beter te leer ken en om te groei as persoon.
“’n Mens voel sleg en besef jy waardeer nie jou eie goed nie. ’n Mens wil help om die lewe vir die kinders beter te maak.”
Haar droom vir Haas Das is dat daar ’n selfvoorsienende groentetuin tot stand kom waaruit die kleuterskool ’n inkomste kan genereer.
Raadslid Joyce Mei, onder wie die portefeulje gemeenskapsdienste val, sê sy is absoluut verheug oor die projek.
“Ons kan eintlik net vir ons Hemelse Vader sê dankie vir mense soos hierdie wat met groot passie op grondvlak werk. Ons moet hande vat met mekaar en saamwerk. Die munisipaliteit se afdelings span saam in so ’n geval. Regsdienste en tegniese dienste help mekaar, en ek gaan klop aan vir raad.”
Mei sê die munisipaliteit het nou die fooi van R400 wat die kleuterskool elke keer moes betaal om die septiese tenk op die terrein uit te pomp, afgeskryf. Hulle doen dit voortaan gratis.
“Hierdie is ons toekoms. Wie weet, ons staaspresident is dalk onder dié kindertjies, sê sy.
Mei het die hoop uitgespreek dat projekte soos dié sal uitbrei na die res van die gemeenskap.
Intussen, vir ’n hele paar Vrydagmiddae in die afsienbare toekoms, gaan daar geswéét word op Haas Das se terrein.
Source: Worcester Standard News