Boekefees om die draai
Die tiende jaarlikse Reuse Boekefees word van Vrydag 20 tot Sondag 22 Mei op McGregor gehou.
Wat die boekemakietie uniek maak, is dat alles ten bate van gehawende donkies is.
Die sameroeper van die Boekefees, Johan van Zijl, sê dat hulle mense van oraloor verwag. “Almal wat vorige Boekefeeste bygewoon het, sal die wonderlike verskeidenheid boeke en die groot winskope onthou.
Die feit dat die totale opbrengs vir die Eseltjiesrus-toevlugsoord vir afgeleefde donkies aangewend word, maak die uitstappie nog lekkerder!”
Vragte vol nuwe en kraakvars tweedehandse boeke kan besigtig en gekoop word en weggee-pryse is aan die orde van die dag by hierdie bielie van ’n verkoping.
Dit word nie verniet “die grootste enkele boekeverkope in die Wes-Kaap” genoem nie!
Daar is meer as 12 000 boeke om uit te kies en elke dag word nóg nuwe voorraad bygevoeg.
Daar is ook ’n Spesiale Versameling-afdeling met skaars of buitengewone boeke wat altyd baie aftrek kry.
Die Boekefees bied kinderboeke, geestelike leesstof, fiksie en nie-fiksie, kos – en reisboeke én van alles en nog wat en vind in die munisipale sentrum in Voortrekkerstraat in McGregor plaas.
Eseltjiesrus self is ’n geregistreede liefdadigheid-organisasie en is sowat 5 km buite McGregor geleë en is beslis besoek werd. Daar is ook meer as 60 kelders in die omgewing wat sal sorg vir ’n keurige wyn ervaring.
Al die donkies is uit haglike toestande gered en geniet nou vir die eerste keer ’n bestaan sonder pyn en ontbering.
Vir meer inligting oor die Boekefees kan mense Eseltjiesrus skakel by 023 625 1593 of kontak by bookfair@donkeysanctuary.co.za.
Source: Worcester Standard News