Breyten Breytenbach
Breyten Breytenbach
Breyten Breytenbach – skrywer, digter, skilder, dosent en Apartheidsaktivis. Sy verbeeldingryke skryfwerk, gevul met evokatiewe beelde, slim verwysings en idiome, skilder ’n helder prentjie vir die leser van Suid-Afrikaanse landskappe en lewer skerp, insiggewende politieke kommentaar. In sy brief aan Mandela in Harper’s Magazine in 2008, Mandela’s Smile, bevraagteken hy die sukses van die politieke revolusie wat Suid-Afrika deurgemaak het en die voordele wat dit vir Suid-Afrikaners gehad het. Sy insig, kreatiewe skryfstyl en uitlokkende denke het hom op die Suid-Afrikaanse literêre en politieke front ’n ikoon gemaak.
Breyten Breytenbach is op Bonnievale gebore op 16 September 1939 as een van vyf kinders. ’n Jaar later het die gesin verhuis na Wellington in die Boland. Dit is hier waar die latere wêreldburger sy wortels gevestig het in die Suid-Afrikaanse kultuur en liefde vir sy moedertaal, Afrikaans, ontwikkel het. Nadat hy gematrikuleer het aan die Hugenote Hoërskool, waar hy ook die hoofseun was, het hy kuns studeer aan die Universiteit van Kaapstad.
Na die voltooiing van sy studies, het die onderdrukking van die destydse politieke regime Breytenbach laat vlug na die buiteland. Hy het peuselwerkies gedoen in Portugal, Engeland en Noorweë en hy het hom uiteindelik in Parys gevestig. Hier het hy Engelse klasse aangebied, begin skilder en sy eerste gedigte in Afrikaans geskryf. In Parys het hy ook vriendskapsbande gesmee met lede van die ANC. Nadat die ANC in Suid-Afrika verbied is, het hy besluit om nie weer terug te keer na sy vaderland nie.
In 1962 is hy getroud met Yolande Hoang Lien, ’n Franse burger van Viëtnamese herkoms. Die destydse Ontugwet – ’n verbod op veelrassige huwelike – het dit vir hom onmoontlik gemaak om na Suid-Afrika terug te keer. Sy twee digbundels Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes het hom erkenning in Suid-Afrika besorg. Hierin betreur hy sy vervreemding van sy volk en taal en sy dubbelsinnige gevoelens oor sy aandeel aan die verhewe Afrikanervolk se rol binne die sosiale raamwerk van Apartheid. Hy het ook gedurende hierdie tyd sy eerste kunsuitstalling in Amsterdam gehou.
Breytenbach is bekroon met die Afrikaanse Pers Boekhandel Prys vir Literatuur, maar die owerhede in Suid-Afrika het ’n visum vir Yolande geweier, iets wat hom verder versterk het in sy politieke sienswyses. In 1965 het hy ook die Afrikaanse Korps Prys ontvang.
Drie maande ná die verskyning van sy digbundel Met ander woorde het Breytenbach en sy vrou onverwags ’n visum ontvang. In ’n toespraak by die Universiteit van Kaapstad, kritiseer hy egter die Suid-Afrikaanse grondwet en by sy vertrek word hy gevra om nie weer terug te keer na Suid-Afrika nie.
“…met jare se opgegaarde rykdom / op rûe van ysterkoeie…”
Gedurende dié besoek, het Breytenbach, in die middel van die nag en sterk vermom, vir Winnie Mandela, wat onder huisarres was, ontmoet.
Met sy terugkeer na Parys, het hy saam met ander bannelinge die anti-Apartheidsgroep Okhela gestig. Hulle het dit bewerkstellig om Breytenbach na Suid-Afrika te laat terugkeer met ’n vervalste paspoort. Die ANC, wat hom nie vertrou het nie, het hom egter verraai en by sy aankoms is hy gearresteer en tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis.
’n Paar maande na die aanvang van sy vonnis is hy oorgeplaas na die maksimumsekuriteitsafdeling van die Pretorianse gevangenis, waar hy twee jaar in isolasie aangehou is. Hier het hy sy innerlike skeppende wêreld gebruik om kreatiewe skryfwerk te lewer.
In 1977 word hy vrygeskeld van terrorisme, maar skuldig bevind aan die smokkel van briewe uit die tronk. Hy word verplaas na die Pollsmoor Gevangenis waar hy vyf jaar moes uitdien.
Die enigste besoeker wat toegelaat is om Breytenbach te besoek, was sy broer, Jan, ’n hoogaangeskrewe soldaat in die Apartheidsregering en deel van die spesiale taakmag, die Recces. As gevolg hiervan is Breyten ordentlik behandel in die tronk. Sy broer het aangebied om sy invloed te gebruik om Breyten te laat vryspreek, maar hy het dit van die hand gewys.
In Pollsmoor het Breytenbach vir die eerste keer kontak gemaak met Mandela toe ’n tronkbewaarder hom ingelig het dat sy “baas” ook nou daar was.
In 1982 is Breytenbach finaal vrygelaat en het teruggekeer na Parys. ’n Jaar later het hy Franse burgerskap ontvang en sy boek The true confessions of an Albino Terrorist is gepubliseer. Dit word gereken as sy beste boek. Hierin vertel hy van sy jare van sielkundige en fisiese ontbering in die tronk en gee hy ’n visie van Suid-Afrika se toekoms. Hy het ook weer begin skilder – surrealistiese mense en diere, wat sy digkuns weerspieël.
Breytenbach het in 1991 vir die eerste keer weer teruggekeer na Suid-Afrika. Sy siening van die groeiende Nuwe Suid-Afrika, word weergegee in Return to Paradise, An African Journal, waarin hy sy ervarings tydens Suid-Afrika se oorgangsperiode weergee. Hy vind dit onwaarskynlik dat die lot van die minderbevoorregtes sal verbeter en bevraagteken die toekoms van Suid-Afrika.
In 2000 het hy ’n digbundel, Lady One: Of Love and Other Poems gepubliseer, opgedra aan sy vrou.
Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoof in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Breytenbach se ouerhuis op Wellington, wat hulle as losieshuis bedryf het (Breyten het daarna verwys as ’n “bôrdinghuis”) is omskep in die Breytenbachsentrum. Dit bevat ’n teaterrestaurant, Die Bôrdinghuis, waar daar gereeld interessante musiek- en teatervertonings aangebied word.
Vandag druk Breytenbach steeds sy stempel af op toekomstige skrywers as ’n wêreldwyd gerekende besoekende professor in kreatiewe skryfwerk aan die universiteite van Kaapstad, Senegal en New York.
Breytenbach het kunsuitstallings in talle lande gehou en het eredoktorsgrade ontvang van die universiteite van Kaapstad en Durban.
Die impak wat Breyten Breytenbach op die literêre én politieke front gehad het, maak van hom ’n sleutelfiguur in die geskiedenis van Suid-Afrika en hy sal nog vir baie lank die inspirasie vir nuwe kunstenaars, skrywers en vrydenkers wees.
Breyten Breytenbach – writer, poet, painter, teacher and Apartheids-activist. His imaginative writing, filled with provoking imagery, clever references and idioms, paints a clear picture for the reader of South African landscapes and gives sharp, insightful political commentary. In his letter to Mandela in Harper’s Magazine in 2008, Mandela’s Smile, he questions the success of the political revolution South Africa went through and the advantages it had for South Africans. His insight, creative style of writing and provoking though made him an icon on the literary and political front in South Africa.