Netwerk 24 – ‘Moments 2016’ puik vermaak vir wye gehoor
MOMENTS
Sonja Herholdt, Corlea Botha, Jennifer Jones, Ella Kotze, Mario Lategan, Thabo Hlongwane en ander
Musiekleier: Anton Esterhuyse; dirigent: Huibrie Verster
Choreografie: Willie Venter
Sand du Plessis
Oomblikke in musiek en oomblikke in plaaslike kunstenaars se lewe – dit is dié momente wat deur Moments 2016, ’n musiekskouspel van klank, kleur en beweging, op die Sand du Plessis-verhoog tot uiting gekom het.
’n Immervarse Sonja Herholdt, uiters talentvolle Corlea Botha, Jennifer Jones met haar kragtige stem en Ella Kotze was die bekendes wat Moments geanker en “naam” gegee het.
Die verhoog is egter deur ongeveer 150 plaaslike kunstenaars oorgeneem en die verrassende elemente wat hulle bygedra het, het die skouspel ligvoets versterk.
’n Hoendervel-mooi oomblik wat die ritme en warmte van Suid-Afrika puik uitgedra het, was die ineenvloeiing van Genade vir Afrika, gevolg deur Everybody Hurts (van REM) wat na Lisa se klavier – in drie tale – oorgevloei het. Vir dié nommer het die lede van die Bloemfontein-kinderkoor op verskeie plekke in die gehoor gestaan en saamgesing,
wat ’n besondere belewenis was.
Om plaaslike kunstenaars uit te sonder, is moeilik en onregverdig. Onverwagse verskynings was onder andere die Kovsie-rasieleiers en Willie Venter-dansers.
Die verskillende nommers is telkens baie slim deur die dansers laat saamvloei. Verdere skouspelagtigheid is deur die kleur en beweging van baniere, linte, tromspelers en draaiende sambrele verleen.
Die beweegbaarheid van die verhoog is maksimaal benut en het die gehoor byna na asem laat snak, veral die eindnommer waarin die kinderkoor hoog bo die res van die kunstenaars uitgelig is.
’n Mens het waardering vir elke kunstenaar wat opgetree het en die ure se voorbereiding om ’n volwaardige teaterproduksie te verseker.
Die vrouekunstenaars het in glansryke geborgde uitrustings gepryk, maar die mans het ongelukkig nie met kleredrag die oog getref nie.
Dit was jammer dat daar nie ’n gedrukte program was nie. ’n Volgorde van gebeure met die kunstenaars se name daarby sou help om die meer onbekende kunstenaars “naam” te gee.
Willie Venter, van Skouspel 2000 tot 2012– en Afrikaans is Groot 2-faam, het groot gedink en goed beplan. Die seremoniemeester, TV-persoonlikheid Eloise Cupido, het telkens na hom verwys en gesê kunstenaars val oor hul voete om saam met hom te werk. Sy het ook die borge vir hul bydraes bedank.
Cupido het ten slotte gesê ’n soortgelyke produksie word vir 12 en 13 Mei 2017 beplan. Dit hang egter van die publiek se ondersteuning af. Plaaslike kunstenaars kry min genoeg geleentheid om deel te wees van so ’n glansryke produksie.
Moments 2016 het vermaak vir ’n wye gehoor verskaf. Kunstenaars met uiteenlopende talente het opgetree. Nostalgie is by die ouer garde aangewakker en die ritme en beweging het die jonger gehoorlede se voete laat wikkel.
Die skouspel is met African Dream afgesluit waarin al die kunstenaars op die verhoog verenig het: “This is my African dream . . . there is a new tomorrow . . .”
Dit kan ’n mens hoop gee vir geleenthede vir kunstenaars én vir die land.
Deur: Lientjie Barnard – Netwerk 24
Lees artikel op Netwerk 24