Modder en Bloed in teaters April 2016
ONTBERINGS, UITHOUVERMOë, DIE DAPPER AANVAARDING VAN ‘N UITDAGING — EN DIE TROTS VAN ‘N NASIE …
Dark Matter Studios (Leading Lady) en Collective Dream Films (Platteland) het pas die verfilming van die fliek MODDER EN BLOED voltooi. Die vervaardigers maak bekend dat die film vanaf April 2016 landswyd in teaters vertoon sal word. Besonderhede rondom die vervaardiging en rolverdeling was vir ‘n geruime tyd in ‘n kleed van geheimhouding gehul, maar die stilte word nou verbreek en die eerste reklamefoto’s is pas uitgereik.
Modder en Bloed vertel die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam), ‘n Boerekryger en familieman, wie se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Willem word, saam met ander Boere-krygsgevangenes, op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou. Die Engelse konsentrasiekamp staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), ‘n vuurvreter imperialis met ‘n onblusbare haat teenoor die Afrikaner.
Boere-krygsgevangens word aan brutale geweld en onderdrukking onderwerp. Hulle word voortdurend deur die Britse bevelvoerder en sy soldate verneder in pogings om hulle emosioneel te knak en fisies af te breek. Maar, ten spyte van die ongekende marteling wat hulle moet verduur en die onmenslike ontberings wat hulle moet trotseer, word hul weerstand en soeke na vergelding, op watter manier ook al, net elke dag sterker. Met die bystand van sy mede-gevangenes aanvaar Willem ‘n uitdaging wat uiteindelik sou lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewens.
Die fliek spog met ‘n indrukwekkende rolverdeling wat beide Suid-Afrikaanse en Britse rolprentpersoonlikhede insluit. Van die bekende plaaslike sterre wat te sien sal wees is Bok van Blerk, Albert Maritz, Michael Richard, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz. Die Britste rolverdeling sluit Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social) in.
Sien die volledige rolverdeling hier: www.modderenbloedmovie.com