Kosmosse versier Vaal-velde
Die Herfsvreugdes is hier en dit is ‘n plesier om op die hoëveld se paaie te ry, want kosmosse beloon dié seisoen met ‘n pragtige kleurespel. Sommige verwys ook na die Kosmos as die dankbare blommetjie – en dit is presies hoe ons moet wees – dankbaar.
Die somer en die uitmergelende hitte is verby, maar nou staar ons binnekort ‘n seisoen in die gesig wat ons letterlik laat bibber. Soos die omgewing rondom jou verander en die bome hul blare verloor, verander ons gemoed ook, maar effens meer onbewustelik. Tydens die winter raak party mense meer depressief. Soek eerder die mooi rondom jou as om vas te kyk in die “negatiewe” en omring jou met dit wat jou vreugde bring.
Vir diegene wat vrees vir die winter wat oppad is, knyp ‘n tydjie af en verkyk jou aan al die kosmosse wat byna om elke hoek en draai hul verskyning maak en onthou, na die winter kom die pragtige blomtyd weer om die omgewing op te helder. Soek die mooi in elke seisoen en veral nou kan jy die vreugde ervaar wat die pienk en wit kosmosse aan die herfsseisoen gee en onthou, liefde ‘kosmos’ niks!