Three Rivers Lodge en Villa Anna Sophia weereens bekroon as die beste vierster-gastehuis
Drie Riviere, Vereeniging (20 Oktober 2014) – Three Rivers Lodge en Villa Anna Sophia is pas bekroon as die beste vierster-gastehuis in Gauteng. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat die gastehuis hierdie gesogte Lilizela toekenning in gepalm het.
Die Lilizela Tourism Awards word toegeken om die voortreflike standaard te vier wat eie is aan die toerisme-bedryf in Suid-Afrika. Die finaliste word beoordeel volgens die standaard van die verblyf, kos, diens, netheid en die gaste se algehele ervaring. Three Rivers Lodge en Villa Anna Sophia is as Gauteng se waardige wenner aangewys uit talle finaliste.
Three Rivers Lodge en Villa Anna Sophia is ook vroeër vanjaar deur Essential Travel aangewys as die beste trou- en konferensie-fasiliteit in Suid-Afrika.
Three Rivers Lodge spog met 20 goed toegeruste kamers, en Villa Anna Sophia bied ʼn addisionele 22 stylvolle, luukse kamers. Hierdie elegante gastehuis bied die perfekte kombinasie van ʼn rustige, verkwikkende atmosfeer en ʼn ideale ligging; digby ʼn inkopiesentrum, sportfasiliteite en die sakekern van die dorp. Verskeie dienste word hier aan gaste gebied; ’n fynproewers-restaurant, 4 moderne konferensielokale met sitplek vir 10-200 gaste, gemaklike sitkamers en die Bethel-kapel wat 90 gaste kan akkommodeer.
Marthinus Stander, die algemene bestuurder van Villa Anna Sophia, sê: “Dit is ’n groot eer om erkenning op so ʼn hoë vlak in die toerisme-bedryf te ontvang. Ons beskou ook die gaste se positiewe terugvoer as inspirasie om voort te bou met uitmuntende diens, unieke gasvryheid en fynproewersdisse. Ons streef daarna om te voldoen aan elke behoefte van ons gaste.”