Tuintake vir Februarie: Plant ’n kruie-teetuin
TUIS
Verminder waterverbruik deur ’n dik organiese deklaag rondom struike te strooi wat die grond koel hou en verdamping verminder.
Lavandula angustifolia ‘Mini Blue’
Plant ’n kruie-teetuin
’n Teetuin kan in ’n sonnige hoekie in die tuin, tussen plaveistene, in verhewe beddings, in potte, of selfs in die vorm van ’n teepot wees. Die meeste kruie vra son en goedgedreineerde grond. Soos met alle kostuine moet daar geen plaag- of onkruiddoders gebruik word nie. Maak ’n verfrissende warm of ystee met die blare van dié kruie:
• Laventel (Lavandula angustifolia) Aromatiese grys-groen blare met pers blomme.
• Suurlemoentiemie (Thymus citriodorus ‘Aureus’) ’n Laaggroeiende plant met klein heldergroen en -geel blare wat as grondbedekker of in ’n randakker gebruik word.
• Suurlemoenbalsem (Melissa officinalis) Versprei maklik. Die blomme lok bye; blare het ’n suurlemoengeur.
• Suurlemoenverbena (Aloysia citriodora) Houtagtige stele en smal groen blare met ’n suurlemoenskilgeur. Het beskutting in kouer klimate nodig.
• Pynappelsalie (Salvia elegans) ’n Hooggroeiende struik met pynappelgeurige loof en skarlakenrooi blomme.
Iets romanties
Die roos is ’n simbool vir liefde en romanse, en wat is nou beter vir Valentynsdag as ’n roos wat na ’n prinses genoem is?
• ‘Sharifa Asma’ is ’n lieflike middelslagstruikroos met bloupienk blomme en ’n sterk, vrugtige geur; dis genoem na ’n Omaanse prinses.
• ‘People’s Princess’, genoem na Diana, die prinses van Wallis, dra diep, roospienk blomme op doringlose stele.
• ‘Garden Princess’ het geurige, delikate pienk blomme.
‘Sharifa Asma
Vir hulle wat manel dra
Het jy geweet paddas is van die mees bedreigde diergroepe op aarde? Ondersteun Skrikkeldag vir Paddas (leapdayforfrogs.org.za) op 25 Februarie
deur ’n paddavriendelike tuin te skep. Jy kan ’n dammetjie bou waarin hulle kan aanteel, skuilplek bied in komposhope of stompe, of plante kweek wat beskerming bied teen die son en roofdiere. Hou die dammetjie se vorm eenvoudig en wissel die diepte af met lyste, effens skuins rande en hier en daar ’n klip.
Die blouwaterlelie (Nymphaea nouchali var. caerulea), waterblommetjie (Aponogeton distachyos) en drywende hartjies (Nymphoides thunbergiana) is waterplante waarop paddas kan rus en onder kan skuil.
Kosmos
Plant vir die herfs
Lok skoenlappers na jou tuin deur kosmos ’n bietjie later te plant. Buiten dié met pienk, wit en maroen blomme is daar ook kleiner kosmosse met goue en oranje enkel- en semidubbelblomme wat aan bosagtige, regop plante groei.
Plant inheemse mauve seeroogblommetjies (Hypoestes aristata), pienk salie (Orthosiphon labiatus) of wit, pienk, mauve en pers Plectranthus–
spesies en kultivars vir ’n sagte herfs-kleurskema.
Die immergroen, grasieuse groeiwyse van Camellia sasanqua, wat in die herfs blom, maak dit geskik om as skermplant en aksent te gebruik. Strooi ’n dik deklaag om vog in die grond te behou.
Tuinwenke vir Februarie
• Saai die eerste pronkertjies van die middel van die maand af. Week die saadjies oornag in water en saai dit in ’n oop, sonnige plek in komposryke grond.
• Verdeel oorgroeide baardirisse en plant dit in grond waarby vars kompos ingewerk is. Die risome van baardirisse moet gelyk met die grondoppervlak geplant word.
• Verwyder onkruid voor dit saadskiet. Gooi kookwater oor onkruid wat tussen plaveistene of bakstene groei.
• Gee sitrusbome ’n toediening 3:1:5 (26) om vrugvorming aan te moedig. Maak daarna nat met ’n emmer gryswater of twee van jou stort of bad.
• Snoei struike en klimplante liggies om dit netjies te maak, maar maak seker die oorblywende stele het genoeg loof sodat dit nie brand nie.