Hier’s 5 vroue wat yster kort. Is jy een van hulle?
1. Sy is anemies
As jou ystervlak laag is, het jou liggaam nie genoeg yster om jou rooibloedselle te help om suurstof deur jou liggaam te dra nie. Vroue is meer geneig tot bloedarmoede weens ’n ystertekort as mans. ’n Ysteraanvulling sal jou rooibloedselle optimaal help werk sodat jy nie meer uitgeput en lusteloos voel nie.
2. Sy is swanger
Bloedarmoede is meer algemeen by swanger vroue en kan lei tot lae geboortegewig, voortydige geboorte en selfs moedersterfte. Dit kom voor omdat swanger vroue meer bloed vervaardig om voedingstowwe vir die baba te help lewer. Daar is drie soorte bloedarmoede wat die meeste gedurende swangerskap voorkom: bloedarmoede weens ystertekort, bloedarmoede weens foliensuurtekort en bloedarmoede weens vitamien B12-tekort.
3. Sy menstrueer
As jou liggaam nie kan voorbly om verlore rooibloedselle te vervang nie, sal jy anemies word. Vroue met swaar menstruele bloeding loop groter gevaar van anemie en sal baat vind by ysteraanvullings.
4. Sy is ’n nuwe ma
Bloedverlies tydens en ná geboorte verhoog ’n vrou se kans op bloedarmoede. Bloedarmoede weens ’n ystertekort hou verband met ’n toename in nageboortelike depressie en voorkoms van urineweginfeksies; moegheid en uitputting; onvoldoendemelksindroom; en borsmelk van laer gehalte. Ysteraanvulling is dus in hierdie geval belangrik vir die ma en baba se gesondheid.
5. Sy oefen
Vroue wat gereeld intens oefen, het ’n hoër risiko vir bloedarmoede. Dit is wel moontlik om steeds te oefen met dié toestand, maar jy loop gevaar om melksuurvergiftiging te kry en vinniger moeg te raak, lusteloos te voel en minder uithouvermoë te hê. Jou hersteltyd kan ook langer wees en jou spiere sal seerder wees as wat jy verwag het.