Die grootste grimeerfout!
Die bekende grimeerkunstenaar Bobbi Brown meen die grootste grimeerfout wat ouer vroue kan maak is om onderlaag te dra wat te swaar op hul gesig lyk, skryf die Amerikaanse skoonheidstydskrif New Beauty aanlyn. “Dit laat jou vel droog lyk, wat vroue ouer laat lyk as wat hulle is.”
Gelukkig is dit ’n maklike fout om reg te stel. “Ek verkies om eerder ’n getinte vogroom te gebruik,” sê die 60-jarige Bobbi. Kies ’n getinte vogroom of BB-room met ’n douerige afwerking eerder as ’n poeieronderlaag of een met ’n mat-afwerking. ’n Vel wat douerig is en meer lig weerkaats, skep die illusie van ’n fermer vel wat jeugdig en gesond lyk.
Wenk: Jy kan sommer ’n bietjie onderlaag of selfs verbronser by jou gunsteling-vogroom meng.
As jy voel jy het meer bedekking nodig, begin met ’n basislaag (primer) oor jou hele gesig. Wend dan ’n vloeibare onderlaag met jou vingers aan. Begin in die middel van jou gesig en werk na buite. Probeer om so min as moontlik van die produk te gebruik sodat jou vel steeds “deurskyn”. Of wend net aan waar dit nodig is.
Wenk: Vir ekstra glans kan jy ’n verligter op jou wangbene, die brug van jou neus, jou oogbanke en ken tik. Dit is die dele van jou gesig waar lig natuurlik val.
Victoria Beckham en ons eie Minki van der Westhuizen het al vertel dat ’n stralende vel hul grootste mooilyk-geheim is.
Probeer dié produkte:
1. Bobbi Brown Nude Finish Tinted Moisturizer SPF 15 (R565)
2. Optiphi Classic Hydration Tint Broad Spectrum SPF 20 (R750). By uitsoekspa’s en -salonne
3. L’Oréal Paris Nutrilift Gold Anti-Ageing Serum Foundation (R250)
4. Clarins BB Skin Perfecting Cream SPF 25 (R480)
5. M.A.C Strobe Cream (R450)
ronne: www.newbeauty.com