Magaliesberg Sitrusfees | 2012
Die sestiende Sitrusfees!
Van ‘n beskeie begin in 1997 het die Magaliesberg Sitrusfees ontwikkel tot ‘n uiters suksesvolle en gewilde kuierfees. Van die sowat 3000 mense in die eerste jaar het die bywoning konstant gegroei tot 12 000 feesgangers in 2011. Dit kan ‘n mens tereg laat vra: Hoekom is die fees so gewild? Dalk lê die antwoord in ons logo: Proe die berg! Die Magaliesberg en sy mense is bekend vir hulle vriendelikheid en gasvryheid. Dit is kuiermense. En waar daar gekuier word, word daar geëet. Voeg daarby die asemrowende natuurskoon wat die Magaliesberge bied en jy het ‘n unieke resep vir ‘n suksesvolle fees. Die ATKV-oord Buffelspoort met sy vyfster fasiliteite is die ideale plek om so ‘n fees aan te bied.
Ons omgewing is bekend vir sitrus – veral nartjies en valensia lemoene. Vandaar die naam Sitrusfees. Feesgangers kry die geleentheid om die sappigste soetste sitrus teen weggeepryse te koop. Egte, ongepreserveerde Magalies sitrussap is beskikbaar en is uiters gewild. En dan is daar natuurlik die bekende en beroemde Sitrusmampoer. Van likeure tot “shooters” – wat enige fynproewer sal laat saamstem dat die Magaliesberg Sitrusfees se mampoer die beste is!
Die fees vind elke jaar tydens die laaste naweek van Mei plaas. Dit skop af met ‘n formele dinee en konsert die Vrydagaand. Die Saterdag word daar heerlik gekuier terwyl gaskunstenaars die nodige atmosfeer verskaf.
Uit: http://www.proedieberg.co.za/
Hier is Mej. Sitrusfees gekroon en ook die babakompetisie-wenners aangekondig. Kinders het tyd gehad om beelde uit die sitrusse te bou en pret en plesier was op almal se gesigte te gewaar.