Locals is lekker: Martie Kuhn
Van Rustenburg se voormalige burgemeester tot verkoper van huise aan hoopvolle huiseienaars, Martie Kuhn is ’n vrou wat elke dag aangryp en die beste daarvan maak.
As Burgemeester van Rustenburg
Sedert haar aankoms in Rustenburg in 1974, het Marthie direk betrokke geraak by die politiek. Albei haar ouers was sterk leiers en was betrokke by die gemeenskap en politiek, waar Marthie grootgeword het. “Dit was vir my ’n natuurlike ding om dieselfde te doen”, meen sy.
Vir 14 jaar lank was sy ook voorsitter van die Nasionale Party (NP) se dames-aksie en is in 1988 verkies as wyk raadslid vir die destydse wyk 6. Toe het die nuwe uitbreidings nog nie bestaan nie – wat net nog ’n bewys is van hoe vinnig Rustenburg aan die groei is. Kuhn was die heel eerste vrou wat verkies is tot die Raad en word toe ook later lid van die Uitvoerende Komitee van die Raad. Gedurende daardie tyd word die Burgersentrum sowel as die bekende Olympia Park Stadion gebou.
Dit was vir my opwindend en lekker
In 1992 word sy verkies tot onderburgemeester en word burgemeester van Rustenburg in 1994. As Burgermeester, organiseer Kuhn ook die eerste straatfees. “Dit was vir my opwindend en lekker”. Die fondse is so ook vir liefdadigheid ingesamel en versprei.
Vir 23 jaar was sy ’n raadslid en alhoewel sy nie meer haarself verkiesbaar gestel het vandeesjaar nie, is sy nog ’n aktiewe lid van die DA.
“’n Mens hou op voordat mense voel jy moet gaan. Gee die volgende geslag kans”, voer Marthie as rede aan hoekom sy nie meer direk betrokke is nie.
As huisagent
Vir Marthie was die stap om ’n huisagent te wees ’n natuurlike stap. Volgens haar staan haar hande vir niks verkeerd nie en met haar ouers wat beide boere, sakemense en leiers van hul gemeenskap was, het die besige atmosfeer ’n aansteeklike eienskap geword. “Ek hou van die aktiewe atmosfeer van die eiendomsbedryf”, is Kuhn se antwoord op hoekom sy besluit het om ’n huisagent te word. Haar liefde vir mense en die kans om ook so betrokke te wees by die gemeenskap word dan ook deur die passie verwenslik.
Ek hou van die aktiewe atmosfeer van die eiendomsbedryf
“Ek is mal oor ’n uitdaging!” meen Kuhn en sy vind dit graag by REMAX.
As ma en vrou van Rustenburg
Kuhn was swanger met haar tweede kind, toe hulle Rustenburg toe getrek het. Haar gunsteling tydsverdryf is om tyd te spandeer in haar tuin. “Ek hou van tuinmaak. Blommerangskikking was vir jare my liefde” gesels sy, en in haar huis sal jy definitief ’n bos of twee vind wat sy gerangskik het. Haar liefde vir mense kom ook deur wanneer sy die graagste met vriende en familie kan kuier.
As mens haar vra waar haar gunsteling plek in Rustenburg is, is dit definitief haar huis – oos, wes tuis bes. Haar familie is vir haar baie belangrik en haar emosies dus direk verbonde aan die welstand van haar gesin. “Ek wil hê elkeen van hulle moet gelukkig wees, dan is ek ook gelukkig”.
’n Vrou wat glo “om die beste te maak van elke oomblik, elke dag”…
Marthie Kuhn se gunsteling kleur is wit. “Alhoewel dit nie ’n kleur is nie, is dit vir my skoon en sonder enige pretensie”. En dit beskryf die vrou wat Marthie is, ten volle. ’n Vrou wat glo “om die beste te maak van elke oomblik, elke dag” en dankbaar is vir die mense in haar lewe en die geleenthede en uitdagings wat haar sterker laat groei en haar gebring het tot die suksesvolle vrou wat sy vandag is.