VTM Nuusbrief April 2017
Nuus
Paaie
Tshwane Metro se paaie-afdeling het in Maart al die padtekens van die paaie op ons terrein geverf. Baie dankie hiervoor.
Monument Skoon
Die maatskappy Sanitise Odourless Clean het die Monument in Maart binne skoongemaak, nie net die vloere nie, maar ook die trappe, ens.
Hier kan mens duidelik sien hoe die sandsteenvloer in die Senotaafsaal lyk waar dit skoongemaak is, en waar dit nog vuil is. Hulle het ‘n uitstekende taak verrig.
Die Goede Hoop uitstalling wat die bande tussen Nederland en Suid-Afrika uitbeeld, is tans te sien in die Rijksmuseum in Amsterdam.
Die Monument het gehelp om hierdie uitstalling op die been te bring.
Bloedrivier
Ons gelukwense aan Dons Grobler, die bestuurder van die Bloedrivier Erfenisterrein, wat so pas verkies is as die president van die Vryheid Tourism Committee vir 2017.
Die uitstalling van die oorspronklike klein panele wat as voorbeeld gedien het om die uiteindelike marmerfries in die Heldesaal te skep, is einde Maart amptelik geopen tydens die jaarlikse Gerard Moerdijk Gedenklesing.
Tydens die Gerard Moerdijk Gedenklesing, het Werner Kirchhoff, seun van Peter Kirchhoff, een van die beeldhouers wat die marmerfries geskep het, ‘n borsbeeld van Gerard Moerdijk aan die Monument geskenk.
Die beeld is in 1943 gemaak en spog met die kunstenaar se handtekening.
Gebeure
Op Internasionale Monumentedag,18 April, bied ons ‘n buitengewone nagtoer van die Monument aan.
‘n Spesialistoergids vertel veel meer as net die allerdaagse oor die Monument.
Slegs 30 persone sal die toer kan meemaak. Bespreek sommer nou, want daar sal net een ander nagtoer hierdie jaar plaasvind.
Hierdie jaarlikse fees het nou so groot geword, dat dit hierdie jaar verskuif na die dak van die amfiteater.
Benewens ‘n verbyvlug van helikopters en ander Grensoorlogvliegtuie, sal daar ook ‘n demonstrasie wees van hoe ‘n booswig op ‘n motorfiets deur ‘n helikopter aangekeer word.